Milan Murray en Lika Berning
Milan Murray en Lika Berning

Lika Berning en Milan Murray se wenke vir oggendchaos

Milan Murray en Lika Berning is dalk glansryke aktrises maar die twee ma’s ken ook van oggendchaos. “Borsel jou tande! Ons gaan laat wees!” Ja, ook in hulle huise gaan dit so. So moenie alleen voel nie.  Deur Suzanne Kotzé

Lika Berning se wenke vir oggendchaos

Foto: Willem Botha

Lika is ’n ma van drie, Hugo (10), Jesse (6), en Anneke (5). Hulle gesin het die Kaapse lewe verruil vir Plettenbergbaai. “Al voel die lewe net so besig hier soos in die Kaap, bring ons minder tyd in die verkeer deur en meer op die strand en in die woud. Al wat ek van die verkeer mis, is die lang geselsies in die kar op pad van die skool af,” vertel Lika.

My een seuntjie slaap baie laat en sukkel om wakker te word, terwyl my dogtertjie en ander seun vroeg wakker word en dadelik aan die gang is.

1. Staan vroeg op, voor jou kinders

Ek staan soggens om 5:00 reeds op, want ons kinders word 6:00 reeds wakker. So kan ek ’n koffie geniet en my eendjies in ’n ry kry. As ek die dag laat wakker word, is my hele dag deurmekaar.

2. Maak ’n lysie

Die ‘het jy dit? Onthou jou sokkerbal?’ is ’n realiteit, maar ’n lysie teen die muur met wie het wat aan en wat ingepak moet word, help baie.

3. Sit saam om die tafel

Al is dit net vir ’n stukkie roosterbrood of ’n bakkie pap; net om te connect. En hierdie gebeur beslis ook nie altyd by ons nie. Baie keer kom ek agter niemand sit om die tafel nie en dan besef ek, maar ek sit ook nie daar nie, want ek maak toebroodjies en pak kosblikke. Ek probeer nou om al hierdie takies af te handel, die toebroodjies en waterbottels klaar te kry voor ses wanneer die kinders wakker word. Dan kan ek eerder die tyd saam met hulle deurbring.

Milan Murray oor oggendchaos

Foto: Willem Botha

Milan se kinders, Steph (15 en in Graad 9) en Lua (13 en in Graad 8) is dalk al in die hoërskool en dinge gaan makliker, maar sy onthou die drama van ’n laerskoolkind se vroeg-oggend-voor-skool-roetine maar te goed! “Ek wonder of enige iemand die drama en oggendchaos vryspring?


Kyk, ek is ‘n oggendmens. So die idee dat jy reeds die vorige aand die kosblikke pak en die tasse regsit het my nie aangestaan nie. Teen 21h00 was ek pootuit en reg vir die bed. Môre se probleme is môre se probleme. Maar vrede in die huis op ’n weeksoggend was vir my en Schalk baie belangrik.

Ek dink die gemoedstoestand waarin jou kind by die skoolhek uitklim bepaal hulle hele dag. En as ek ‘n klein bydrae kan maak om my kind kalm af te laai, dan sal ek dit doen.”

Oggendchaos; Milan se 5 wenke (tried and tested!)

1. Kinders se verantwoordelikheid

Na twee jaar van neul “het jy dit? …het jy dit?… is hierdie gedoen? … is daai gedoen?” het ons vyf punte op die kombuis se swartbord geskryf:

1. Boeke gepak.

2. Hare gedoen.

3. Tande geborsel.

4. Kosblik in.

5. Briefies geteken.

Hierdie 5 goed was elke kind se eie verantwoordelikheid. Ons vra nie en ons herinner nie. Ons klim in die kar en ry. En ons draai nie terug nie. Die kinders was dol oor die verantwoordelikheid.

2. Verskillende maniere om kinders wakker te maak

Steph is dadelik op en wakker, terwyl Lua geleidelik wakker word.

Ons grootste deurbraak was om die kinders verskillend wakker te maak. Toe ek uiteindelik besef dat die twee persoonlikhede in die oggende totaal verskillende behoeftes het, was dit ‘n groot aha! oomblik.

Lua moes “geleidelik wakker word”. So ek het haar 3 keer wakker gemaak. Ek sou fluister: Môre Lua, this is your first wake up call.” 15 minute later: “Amper tyd vir wakker word”. En om 07:00 sit ek die lig aan en maak haar wakker.

Sy het ook nodig om deur die huis te sluip en haar ding te doen sonder enige intense gesprek. Dialoog is vir na 07:30.

Steph word onmiddelik en opgewonde wakker. Kyk, partykeer sê hy letterlik: “And, ACTION!” En hy hou van harde, opwindende musiek. Hy lyk kompleet soos Tom Cruise in Risky Business as hy aantrek.

Om die kinders toe te laat om hulle eie “oggend-ritme” te bepaal was die beste ding vir vrede in ons huis.

3. As jy kan, neem jou kinders apart skool toe

Ek sal dalk gekruisig word vir hierdie raad, maar ek sal hierdie stukkie raad tot in der ewigheid en sonder skroom aanbeveel. As jy enigsins kan – neem jou kinders apart skool toe. Of kies dalk een of twee oggende wat hulle óf saam met die ander ouer ry, óf op verskillende tye saam met jou ry.

Ek weet dit is vir min mense prakties moontlik. Maar ons het twee baie verskillende kinders. Die ekstrovert gaan altyd die gesprek in die kar domineer. Die kind wat bietjie angstig is oor die dag wat voorlê, het dalk jou gefokusde aandag nodig.

Ons is gelukkig om vyf minute van die skool af te bly. Ons seun wou vroeg daar wees vir genoeg sosiale tyd voor die klok lui. Ons dogter wou haar tyd vat om in die oggend reg te maak. Die aleentyd met hulle in die kar was ‘n manier om vir hulle te laat voel dat hulle individueel raakgesien word. As ons nie die oggend apart kon ry nie, het ons in die vorige aand reeds verwagtinge bestuur.

 4. Ontspan oor ontbyt!

Ek weet dit is die belangrikste maaltyd van die dag, maar watter kind se verteringstelsel kan om 6:00 hawermoutpap hanteer? Toe ek begin vrede maak daarmee dat my kind moontlik eerste pouse eers ontbyt eet, toe is die oggendgejaag sommer tien keer minder.

5. Geen tech

Ek het op ’n stadium probeer om tech te gebruik vir onderhandeling. “As al 5 goed op die lysie gedoen is, mag jy ’n storie kyk tot ons ry.” Maar dit het net nog meer onmin veroorsaak. Óf die storie is nog nie klaar teen die tyd wat ons wil ry nie, óf die kind wat rustiger regmaak vir skool voel benadeel. Óf die WiFi werk nie, óf die battery raak pap! Ek voel daar is ook iets te sê vir die gewoonte om jou dag ‘mindful’ te begin.

Wees bewustelik hier. Ons begin ons dag saam.

As mens nie jaag om by jou storie uit te kom nie, onthou jy dalk in elk geval om jou oefenklere vir vanmiddag in te pak!

Wenke om Maandag-chaos te verminder met jou koshuiskind

Milan, se oudste, Steph, is nou ’n koshuiskind

Dit kos ’n ander tipe voorbereiding om jou kind op ’n Maandagoggend koshuis toe te stuur met al die regte boksies afgemerk!

1. Roetine help.

Dit het ‘n paar weke geneem om aanvanklik ons eie ritme te vind. Die 2 grootste kopsere was die wasgoed en die boeke wat geteken moes word. G’n mens kan om 05:00 op ’n Maandagoggend ’n das opspoor of onthou watter toestemmingstrokie geteken moet word nie.

2. Alle wasgoed in die waskamer op Vrydae.

Vrydae as hy by die huis kom, moet sy wasgoedsak – met ALLES wat gewas moet word, in die waskamer gesit word.

3. Alles wat ingevul moet word, op die eetkamertafel as hy tuiskom.

Enige iets wat ek moet invul of teken word op die eetkamertafel gesit. Punt. If it’s not there, it does not get done.

4. Trello app


My beste wenk vir ’n koshuiskind is egter Trello! Dit maak organisasie en ‘to-do’ lysies net soveel makliker in ons gesin.

In die hoërskool word daar baie meer uitsluitlik met die leerders gekommunikeer. Sportroosters, oefentye, assessering, kampe. Daar is soveel kommunikasie met die kinders deur die week en ons vind dat as hy dit dadelik kan neerskryf op ’n digitale platform waar ons dit ook kan sien, min inligting verlore gaan. Dit help my ook om soveel van die take dan deur die week af te handel, en nie op my heilige Saterdag nie!

Die Byl

Lika en Milan is tans saam tusien in Die Byl as Kaptein Lena Evansen (Lika) en Nicci Swanepoel (Milan). Die Byl wys Sondae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144)

a

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
gesondheidsdoelwitte
10 foute wat jou gesondheidsdoelwitte kan belemmer
error: Content is protected !!