Greteli Fincham
Greteli Fincham

Aktrise Greteli de Swardt se geldmaakwenke vir kreatiwiteit

Kreatiewe aktrise Greteli de Swardt is ook ’n suksesvolle fotograaf en geniet enigiets kreatiefs. Sy deel vyf wenke oor hoe jy kreatief kan wees, en steeds geld maak. Deur Suzanne Kotzé

Greteli de Swardt; kreatiwiteit is in my bloed

Mense het van jongs af opgemerk dat Greteli kreatief is. “As ek na my kinderalbums kyk, sit ek altyd met ’n potlood in die hand. Dit het oor die jare ontwikkel. Ek glo dat kreatiwiteit iets is waarmee jy gebore word.

Almal het iewers in hul persoonlikheid iets kreatiefs, maar dit is iets wat jy moet oefen. As dit gaan stil lê vir ’n paar maande gaan dit sukkel om weer aan die gang te kom.”

Haar liefde vir toneelspel

Greteli was vreeslik skaam as klein dogterjie. “Ek was so skaam dat ek altyd agter my ma se bene weggekruip het. Ek het so gebloos en dit was vir my baie moeilik.”

Toe stuur haar ouers haar vir dramalesse om hiermee te help en toe het die gogga stadig maar seker gebyt. Haar eerste rol as klein dogtertjie was die as Heidi toe sy so vier of vyf was. Dit is egter gedurende haar hoërskooljare nadat sy die eerste keer deel was van ’n revue dat sy ontdek het hoe jy kan ontvlug met toneelspel. En ook die adrenalien wat daarmee gepaard gaan om voor mense op te tree.

Haar eerste rol waarvoor sy betaal is, was as die jong Annebel (vertol deur Tinnarie van Wyk) in die reeks Dwaalstêr.

Tans is sy te sien as Elani Malan van Alles Malan 2. “Om weer herenig te wees met die Malan-familie was beslis my gunstelingoomblik van die nuwe reeks. Met die eerste seisoen het ons mekaar leer ken en die fondasie geskep, maar nou was dit reeds daar en ons kon net voortbou hierop.”

Greteli de Swardt, die fotograaf

Greteli het begin foto’s neem in graad 7. “Ek was vies of kwaad en het deur een van my tienerbuie gegaan. Ek het my pa se kamera gegryp en na die dam naby ons huis gehardloop en net begin foto’s neem. Dit was so lekker om net te onstnap en in ’n ander wêreld te wees, soos wat toneelspel ook maar is. Ek het eers so in graad 11 werklik begin foto’s neem. Ek het vir baie lank verniet foto’s geneem terwyl ek my portfolio opgebou het, en my eerste betaalde fotograafwerk, was om ’n troue af te neem.

Greteli se ander kreatiewe stokperdjies

Dit wissel van tyd tot tyd. “Enigiets waarmee ek met my hande kan werk. Van borduurwerk tot druknaalde (punch needling), kosmaak en kuns. Ek is altyd lus vir nog ’n nuwe stokperdjie en uitdaging.

Greteli de Swardt; 5 wenke om geld te maak met jou kreatiwiteit

1. Werk 8 ure per dag

Al het jy nie werk nie, werk 8 ure per dag. Jou vergaderings en beplanning tel ook as ure.

2. Trek netjies aan

Trek netjies aan soggens; al het jy nie ’n kantoor of werk waarheen jy moet gaan nie. Dit help baie met produktiwiteit.

3. Doen minder, maar beter.

Doen minder, maar doen dit beter.  Anders vorm jy maar deel van al die ander visse in die see.

4. Vra meer

As jy volop werk het, verdubbel jou prys.

5. Wees onemosioneel met jou kliënte

Moet ook nie die heeltyd gunsies vir jou vriende of familie doen nie. Klein gunsies kan maklik drie maande se werk word. Ware vriende sal jou waardeer vir jou tyd en moeite en sal jou dus betaal vir jou werk.

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Jou huwelik: Steek die vlam weer aan
error: Content is protected !!