Hierdie is beslis die ligste droogblaasborsel wat ek al ooit gebruik het! Dit maak elke dag se hare doen makliker en vinniger. Deur Suzanne Kotzé
Ek hou baie daarvan om my hare te ‘doen’. Ek het net nie altyd baie tyd vir hare droogmaak nie. Baie dae dink ek nog ek gaan my hare droogblaas nadat ek die kinders by die skool gaan aflaai het. As ek weer sien sit ek nog steeds voor my rekenaar en dit is alweer tyd om hulle te gaan haal.
Ligste droogblaasborsel: Tangle Teezer Easy Dry & Go brush
Met my nuwe Tangle Teezer Easy Dry & Go brush (R359, www.retailbox.co.za) wat Tangle Teazer vir ons gestuur het, het ek regtig nie meer daardie verskoning nie. Saam met my Dyson haardroër is dit nou blitsig om hare droog te blaas.
My bob hare is van nature reguit, maar ek sukkel met volume en hier en daar (okay bietjie meer as hier en daar) is daar ’n baie ligte haar (nee, dis níe grys nie) of tien waarvan die tekstuur harder is en dit meer kroes is.
Ek verkies oor die algemeen spaan-borsels en het vantevore die Tangle Teezer Smoothing Brush gebruik wat my hare mooi reguit en blink laat lyk het. Die nuwe Dry & Go borsel is egter nog lekkerder en meer effektief om te gebruik. Dit is so lig en maklik om te beweeg en deur te trek. Dit is wel nie so stewig soos van my ander borsels nie, en as jy baie krullerige hare het of hare met ’n growwe tekstuur, weet ek nie hoe dit sal werk nie. Vir my fyn, reguit hare werk dit heerlik.
Die tande is so ontwerp dat dit help om jou hare vinniger te laat droogword deur oortollige water op te vang, wat in die handvatsel (wat effens gekurf is) afloop.
Nou behoort ek nie weer gevang te word met nat hare nie!
Lees ook: Ons gunsteling haarborsels