Wat is normale liggaamsreuke? Van sweet tot vaginale reuke. ’n Dermatoloog en ginekoloog gee raad. Deur Suzanne Kotzé
Soos vele van Stylvol se stories, is ’n gesprek met ’n groep vriendinne (wat al vir dekades lank vriendinne is en duidelik geen skaam vir mekaar het nie!) die inspirasie agter hierdie storie. ‘Ag asseblief, kan Stylvol nie vir ons ’n storie hieroor doen nie?’ Ons het die kenners genader om hierdie vrae te beantwoord.
Liggaamsreuke, sweet
Dermatoloog dr. Suretha Kannenberg deel met ons die volgende
Oorsake van ’n slegte liggaamsreuk
Slegte liggaamsreuk is ook bekend as bromhidrose of ozochrotia. Dit het vele oorsake en word soms geassosieer met oormatige sweet. Dit mag dalk slegs die afbreek van normale sweet deur die mikrobioom van die vel wees; soms word die gesonde mikrobioom oorgroei. Sommige kosse soos knoffel, uie en kerries kan ook ’n oorsaak wees en het soms ‘n genetiese agtergrond.
Siekte of medikasie kan ook slegte reuke veroorsaak
Dit kan egter ook ’n indikasie van lewer- of niersiektes wees of selfs oorgeêrfde metaboliese siektes wees. Vreemde voorwerpe in neuse (van watte tot ertjies, mense druk soms vreemd goed in hul neuse op!) word ook daarmee geassosieer en dit is al beskryf met reukhallusinasies as gevolg van epilepsie of psigiatriese toestande.
Gevalle waar ma’s dink hulle klein kindertjies ruik na sweet is al opgeskryf waar dit as gevolg van reukhallusinasies was wat die ma’s ervaar het. Medikasie kan ook soos altyd sulke dinge veroorsaak.
Hoe weet jy of jou sweet normaal ruik of dalk meer stink as ander mense s’n?
Hierdie is moelik om te beantwoord. Wat normaal ruik vir iemand word bepaal deur kulturele en sosiale agtergrond. As ’n mens dink dat selfs reukhallusinasies en vreemde voorwerpe in ’n mens se neus vir iemand sal laat dink dat hy of sy sleg ruik, dan mag die gedagte dat hulle meer stink nie werklik wees nie.
So as jy die gevoel het dat jy sleg ruik, of as jou geliefdes iets sou sê, sal dit ’n goeie indikasie wees.
Mens het ekkriene, apokriene en apoekkriene kliere, met verskillende verspreidings oor die liggaam. Ekkriene kliere is orals oor die liggaam, met hoër konsentrasies in sommige areas soos hande, voete en oksels. Dit is belangrik om die liggaam koel te hou. Dit word ook in stresvolle tye meer aktief.
Van die sweetkliere begin eers meer aktief raak in puberteit en word dus tot ’n mate deur androgene afskeidings beheer.
Oormatige sweetreuk; mans versus vroue
’n Oormatige sweetreuk is meer algemeen in mans as vroue. Mans se verhoogde androgeenvlakke dra onder andere by dat die verskillende tipes sweetkliere meer afskei as vroue.
Die feit dat vroue meer geneig is as mans om onder die arms te skeer gaan ook bydra daartoe dat hulle minder na sweet gaan ruik.
Begin jou sweet meer stink soos wat jy in peri-menopouse ingaan?
’n Mens se reuk verander dwarsdeur die lewe. Gedurende die menopouse sal ’n mens natuurlik daardie lastige warm gloede hê wat veroorsaak dat ’n mens episodes van verhoogde sweet kan hê. Dit kan ’n mens dus wel meer na sweet laat ruik, ja.
Vaginale reuke
Ginekoloog dr. Natalia Novikova beantwoord die volgende vrae
Wat is normale vaginale reuk?
Die normale vaginale reuk is gewoonlik subtiel en nie opvallend nie. Vaginale reuk word deur elke persoon se unieke vaginale flora, spesifiek die bakterie genoem Lactobacilli, veroorsaak.
Daar is baie sweetkliere in ons geslagsdele, wat kan bydra tot ’n sweterige reuk as ons oefen of warm kry.
Liggaamsreuk en ‘vaginale’ reuk word beïnvloed deur
- hormonale verandering
- die stand van jou gesondheid
- medikasie
- die klere wat ons dra
- en selfs wat ons eet.
Al die bogenoemde beīnvloed ons bakteriële balans.
Die normale reuk is effens suur aangesien Lactobacilli (vaginale flora) melksuur, waterstofperoksied en ander stowwe afskei, wat die vaginale omgewing onleefbaar maak vir skadelike bakterië.
Die normale pH van die vagina is natuurlik aan die suur kant, tussen 3.8-4.5 vir nie-menopousale vroue en 4.5-6 in menopousale vroue.
Wanneer ruik jou vagina anders?
Gedurende jou menstruele tydperk mag daar ’n ligte metaalagtige vaginale reuk wees, as gevolg van die bloed van menstruasie en veral die yster in die bloed.
As gevolg van lae estrogeenvlakke gedurende menopouse word die vaginale pH vlakke meer alkalies. Dit lui tot ’n ander reuk. Dit vermeerder ook die risiko van vaginale en blaas-infeksies. Juis as gevolg hiervan is topikale estrogeenbehandeling so belangrik vir menopousale vroue.
Wanneer moet jy bekommerd wees oor vaginale reuke wat anders ruik?
Dink eers aan leefstylveranderinge (soos ’n nuwe wasmiddel, seksuele maat, dieet, spanning ens.) wat dalk kan bydra hiertoe. As geen leefstylveranderinge die oorsaak is nie, mag dit dalk ’n infeksie wees. Dan moet jy liefs ’n dokter sien.
’n Visserige reuk dui gewoonlik op ’n toestand genaamd bakteriële vaginosis. Dit is wanneer daar ’n bakteriële wanbalans is in jou vagina. Jou Lactobacilli (die ‘goeie bakterië) verminder, terwyl ‘slegte’ bakterië, Gardnerella, meer word.
Hierdie toestand word gewoonlik met topikale vaginale salf of sistemies (pille) behandel.
Trichomoniasis is ’n seksueel oordraagbare siekte wat ook ’n visserige reuk kan veroorsaak. Dit gaan gewoonlik gepaard met branderigheid, jeukerigheid en ’n toename in vaginale afskeiding.
Sien ’n dokter as die verandering in jou vaginale reuk gepaard gaan met
- branderigheid
- jeuk
- ongereelde bloeding (buite jou menstruele siklus of na seks)
- koors
- pyn
- uitslag op jou geslagsdele of
- rooiheid.
Ek wil beklemtoon dat slegs water en GEEN seep, GEEN intieme wasmiddel en GEEN essensiële olies ooit gebruik moet word om jou intieme areas te was nie.
Al hierdie stowwe sal inmeng met jou normale vaginale bakteriële flora wat ’n gesonde omgewing skep en slegte bakterië uithou. En poeier in jou broekie, is ook nie iets wat ek sou aanbeveel nie.