Met lekkerruikgeure in kerse, sproei en geurstokkies beskikbaar kan sagte geure in elke vertrek van jou huis draal, terwyl dit jou lyf en luim ook sommer troetel. Maar watter geure om vir watter vertrek te kies? Deur Suzanne Kotzé
Lekkerruikgeure vir jou voorportaal
Hierdie is ook goeie keuses vir jou gastekamer.
Vanielje skep ’n warm, verwekomende atmosfeer. Om vanieljesproei of -kerse in ’n skouhuis te gebruik, is nie verniet een van die oudste truuks van eiendomsagente nie. Jy sal dit selfs in sielkundiges en terapeute se spreekkamers ook sien.
Kaneel is nog ’n bekende geur wat jou kan laat tuis voel. Dit word al vanaf Bybelse tye af in fyngeure gebruik.
Lekkerruikgeure vir jou slaapkamer
Kies strelende laventel, jasmyn of kamille om jou slaap te slaap, of andersins romantiese roosgeure. Wees egter versigtig met laventel, want ’n paar druppels kan kalmerend wees, maar te veel kan stimulerend wees en jou wakker hou.
Moenie geurstokkies op jou bedkassie hou nie, want die geure kan te veel wees en jou wakker hou.
Jasmyn is strelend maar kan ook verleidelik wees.
Kamille maak jou lomerig en kalm en help met slaaploosheid
Roos is romanties en verber die libido.
Laventel help om jou te kalmeer
Kies jou lekkerruikgeure vir jou tuiskantoor
Vars peperment help met fokus, konsentrasie en meer energie. Basilikum (wat bekend is as liefdesdoepa in antieke Italië) is ook bekend daarvoor dat dit help om jou luim te verbeter, energie gee en sommige bronne beweer selfs dat dit rykdom aantrek!
Lekkerruikgeure vir jou kombuis
Sitrus- en groen note is ’n goeie keuse vir jou kombuis omdat dit reuke neutraliseer sonder om met kosgeure te bots.
Lekkerruikgeure vir jou leefkamer
Houterige krui-en speserygeure laat voel mens geanker en tuis; of julle nou op die bank sit en lees, ’n fliek kyk of bordspeletjies speel of net sit en gesels.
Frangipani (Plumeria) word met vrede en harmonie vereenselwig en kan ook ’n liefdesdoepa wees.
Patsjoeli verbeter jou bui en beveg depressie
Sederhout snoer mens saam en kan help met die selfbeeld.
Salie is in antieke tye gebrand om van negatiewe energie ontslae te raak.