Ja jou man en kinders mag dalk vir jou skrik wanneer hulle jou in ’n lappiemasker (sheet mask) gewaar, maar die voordele vir jou vel sal opmaak daarvoor, ons belowe! Lees gerus meer oor ons gunsteling lappiemaskers onder dié wat ons getoets het; Deur Justine Kroes en Suzanne Kotze
Hoe werk ‘n lappiemasker?
- Dit bestaan uit ’n velletjie ongeveer die grootte van jou gesig, met ’n plekkie vir jou oë, neus en mond om uit te steek. Die lappie (gewoonlik gemaak van katoen) word deurweek met ’n hoogs gekonsentreerde serum wat grootendeels die vel voed, hidreer of selfs afskilfer.
- Die lappie verhoed dat die water van die serum verdamp, en verleng die tyd wat jou vel het om die serum beter te absorbeer.
- Ons hou daarvan omdat dit ’n bekostigbare manier is om jou vel ’n hupstoot te gee – glansende gesonde vel in ’n paar minute!
Hoe gebruik ek ’n lappiemasker?
- Maak altyd eers seker jou gesig is goed gewas en silwerskoon sodat die serum ordentlik sy werk kan doen.
- Wend die lappiemasker op jou gesig aan (gewoonlik vir 15 tot 30 minute) en ontspan!
- Dit is belangrik dat jy die instruksies op die verpakking goed volg, met party kan jy die serum aanlos, en met ander (die wat afskilfer) moet jy liefs jou gesig weer afspoel.
- Onthou baie lappiemaskers is nie herwinbaar nie – kyk uit vir daardie wat bio-afbreekbaar is, jy kan dit dan sommer op jou komposhoop gooi.
Payot Blue Techni Liss Week-end Renewing Peel Mask (R139 Dis-Chem)
Hierdie masker bevat 8% glikolsuur wat die vel sagkens afskilfer. Dit beloof om binne 15 minute plooie te versag en jou veltekstuur te verhelder en meer glansend te laat.
Suzanne sê: Hierdie lappiesmasker skilfer af! Jy sit hom aan en los dit vir 15 minute aan voordat jy jou gesig afspoel. Dit bevat onder andere glikoliese suur en jy voel ’n effense tintel. My vel lyk beslis helderder na die tyd. Dit help ook glo met bloulig beskerming (en ek is heeltemal te veel voor ’n skerm) en selhernuwing.
NIVEA Rose Care Hydrating Sheet Mask (R49,99 Clicks)
’n Masker geskik vir alle veltipes, insluitend sensitiewe velle. Die serumgedeelte bevat organiese rooswater en hialuroonsuur. Albei die bestanddele werk om die vel te bevog en te hidreer.
Justine sê: Ek het net voor ’n funskie hierdie lappiemasker getoets, 15 minute is al wat nodig was, my vel het soepel sag en verfris gevoel. Die masker is strelend en het nie my sensitiewe vel geïrriteerd laat voel nie. Dit ruik boonop lieflik!
Woolworths GLOW Sheet mask (R55,95)
Hierdie gesigmasker beloof ’n glansende gelaat na gebruik. Die serum bevat Portulaca Oleracea ekstrak ryk in anti-oksidante en vitamine A, E en C. Hierdie kombinasie werk saam om donker merkies te verminder, en vel meer glansend, bevogtig en gehidreerd te laat.
Skin Republic Prime + Refine 3 Minute Primer Face Mask Sheet (R55)
Suzanne sê: Hierdie masker is ideaal om te gebruik voor ’n spesiale aand uit, wanneer jy grimering dra. Dit laat jou nie net meer glansend lyk nie, maar het ook ’n deursigtige ‘primer’ (voorbereidingslagie) wat help dat jou grimering beter hou. As ek haastig is (die meeste van die tyd) sit ek die lapppiemasker sommer aan terwyl ek my hare doen, haal die masker af en masseer die oortollige serum in my vel in, gevolg deur my onderlaag.
Lees ook: Velsorg vir jou hare: Schwarzkopf Professional Fibre Clinix