Fotograaf: Ricardo Lategan

Langmeisie-mode: Vanes-Mari du Toit se wenke

Bekende Suid-Afrikaanse netbalspeler en TV-Persoonlikheid Vanes-Mari Du Toit staan by baie bekend as die vrolike netbalster, maar vir talle lang meisies in Suid-Afrika is sy ’n styl-ikoon. Vanes-Mari hou van mode en stylvol aantrek, maar met ’n lengte van 1.89m en 9-skoengrootte is die stylopsies in Suid-Afrika soms beperk.  Vanes-Mari ontvang amper daagliks boodskappe op sosiale media van ander lang meisies wat ook sukkel om trendy stylitems te vind wat hul werklik pas. Vanes-Mari deel graag haar langmeisie-mode en styl-raad, sy sê “Ek is gereed om ander dames wat hiermee sukkel te help!” Deur Justine Kroes

Vanes-Mari se top 5 modewenke vir langer meisies:

1. Onthou, jy is nie alleen in jou soektog na groter skoene en langer broeke nie. Die langmeisie- gemeenskap is groter as wat jy dink, ons is saam in hierdie ding!

2. Moenie bang wees om in die mansafdeling te soek vir klere nie. Probeer gerus die boyfriend-mode styl – onthou, mansklere het die voordeel van langer moue en langer broekspype.

3. As klere nie lank genoeg is nie, is 3/4 broeke en hemde nie ’n slegte plaasvervanger nie. Ek sny graag aan my klere, moet nie bang wees om dieselfde te doen nie.

4. Wees JY trots op jou lyf en lengte, want niemand anders gaan dit vír jou kan doen nie, net jy kan.

5. Goedkoop koop is duur koop, so bestee jou geld aan ’n goeie kwaliteit tydlose mode-item of twee. Byvoorbeeld, as jy ’n duursame swart denim en ’n wit kraaghemp het, kan jy altyd geld spaar deur goedkoper bykomstighede te koop om verskillende voorkomste te kry.

Stylvol het vir Vanes-Mari uitgevra oor haar styl en stylkeuses as ’n lang meisie:

STYLVOL: Watter tipe rompe werk beste by lang mesies?

VANES-MARI: Vermy pofferige rompe, ’n lang meisie in ’n uitstaanromp kan maklik lyk asof jy ’n valskerm dra.

3/4 rompe is baie vleiend aan langer meisies bloot omdat dit jou mooi maer enkels ontbloot wat jou nog maerder laat lyk.

Nog ’n vleiende lengte is die lengte net onder die knie, veral as dit ’n high waisted romp is.

Romp van Habits, T-hemp van Woolworths Skoene Vanes-Mari se eie. Fotograaf: Ricardo Lategan

STYLVOL: Watter tipe rokke pas die beste by lang meisies?

VANES-MARI: ’n Oorvourok is beslis ’n moet, ek dink dit pas by die meeste liggaamstipes. Dit beklemtoon jou middel, en is ’n baie verslankende rokstyl. Maak nie saak hoe lank of hoe kort jy is nie, die oorvourok sal vir jou werk. Vir regaf lyfvorms skep dit die illusie van kurwes en vir vroue met kurwes is die v-halslyn altyd ’n wenner.

STYLVOL: Watter tipe broeke werk beste by lang meisies?

VANES-MARI: High waisted broeke is perfek vir die langer garde. Dit neem ons alreeds-lang-bene na  supermodelstatus, en dit neem ons middeltjies nog verder in vir ’n meer vroulike voorkoms.

Wenke: As jou denim te kort is :

1. Dra langer stewels om die illusie te skep dat jou denim lank genoeg is, dit hou ook die enkels lekker warm.

2. Vou jou broekspype een keer om, om die illusie te skep dat hulle langer is en jy hul korter verkies.

STYLVOL: Waar koop jy graag denims, skoene, bloese?

VANES-MARI:

Denims:

Ek koop persoonlik my denims in Engeland by NEW LOOK, hulle het ’n “extra length”-opsie wat werklik lank genoeg is. Baie van die ”extra length”-broeke hier in SA is nog steeds te kort.

WENK: Ek hou van die feit dat Levi jeans die opsie het om lengte en heupmates te onderskei. Daarom kan jy ’n denim kies wat pasgemaak is vir jou heup grootte en lengte. Hulle lengtes is nie altyd lank genoeg nie, maar dis die moeite werd om daar te gaan loer.

Skoene:

Vir skoene kyk ek graag by Woolworths en Milady’s, en soms het Steve Madden sandale of tekkies ook in ’n UK9, maar jy sal moet spring – die groter nommers verkoop blitsvinnig uit.

Woolworths is my nommer een keuse omdat hulle ’n UK9 opsie het wat my meestal pas. Daar is kleiner UK9 mates wat ook misleidend is, so ek gaan nog in om skoene aan te pas soos hulle in die ou dae gedoen het voor aanlyn-aankope.

Bloese

Bloese koop ek eintlik maar oral, ek maak net altyd seker ek koop ’n nommer groter as my werklike grootte sodat die bloese wel lank genoeg is.

STYLVOL: Doen jy enige aanlynkopies?

VANES-MARI: Ek persoonlik vermy klere-aankope aanlyn as ek op soek is na lang moue, ’n langbroek en/of kort rokkies, die mates is nogals misleidend.

Boonop is daar ’n handvol aanlynwinkels soos TWM (Tall Women Movement) en Love Long Clothing hier in SA waar mens langmeisie-klere kan aanskaf.

Kyk na die agter die skerms video hier:

Lees ook: Bonkige tekkies, dra dit so

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Dié 5 mode trends is nou hoogmode, sal jy dit dra?
error: Content is protected !!