Wanneer ons dink aan somerskoene dink ons gewoonlik aan pragtige leersandale, maar vanjaar bly die bonkige tekkie ’n gunsteling vir die somer ook. Hierdie tekkie, of die “dad shoe” soos dit in modekringe bekend staan, is reeds vanaf 2018 ’n gewilde modegier. Dis veral duidelik vanuit die die gebeure toe die modehuis Balenciaga se Triple S Sneaker letterlik oornag wêreldwyd uitverkoop het. Hierdie trendy styl pronk steeds aan die voete van bekendes soos Bella en Gigi Hadid en is selfs vanjaar weer op die mode loopplanke gesien. Deur Justine Kroes

Nie almal is braaf genoeg om hierdie modegier uit die 90’s en vroeë 00’s aan te gryp nie, maar ons wys jou hoe stylvol hierdie skoen werklik kan wees. Dra dit saam met jou denim, met jou pak, en selfs jou rompe en rokke.
Die bonkige tekkie, hoekom ons daarvan hou:
- Almal kan dit dra: Hierdie skoenstyl pas byna by elke lyfvorm, hetsy jy groot, klein, lank of kort is, enige iemand kan dit dra.
- Dit pas by alles: Dra dit saam met jou oefendrag, sjiek en gesofistikeerd by ’n pak vir werk, gemaklik met jou denim vir die naweek of selfs glansend by ’n rok of romp vir die aand.
- Kleur is koning: Kom ons wees eerlik, ’n bonkige tekkie is gemaak om aandag te trek, hoekom dan nou nie ’n helder opsie kies nie. Kies jou tekkie uit verskeie kleurkombinasies – die neon trend is nou baie gewild.
- Daar is ’n bonkige tekkie vir almal: As jy huiwerig is vir ’n 100% bonkige tekkie, is daar baie minder bonkige opsies ook beskikbaar wat steeds uitstaan is maar nie té oorgroot, kleurvol en dramaties is nie.
Dra die bonkige tekkie so:
By jou pak
Maksimalisme is die term van die oomblik in modekringe – ’n sterk kontras teenoor die minimalisme van vorige seisoene. Die modesilhoeëtte is wyer, losser en meer dramaties. Hou dit in gedagte waneer jy jou bonkige tekkie by jou pak wil dra. Die pakke vanjaar is losser en meer gemaklik gesny. Pakke met “Bermuda” kortbroeke en bonkige tekkies daarby is nog ’n modieuse manier om hierdie trend te dra.

By jou romp of rok
Meer is meer, as jy die bonkige tekkie trend aanpak, moet nie terughou met die res van jou uitrusting nie. Kombineer jou “lelike” bonkige tekkies met jou sequin romp of rok met frille, valle, strikke en selfs pofmoue. Moenie dat die skoene die enigste element van jou uitrusting is wat aandag trek nie.
By jou denim
Kies ’n denim met ’n anderste tipe silhoeët as die gewone noupyp denim om jou bonkige tekkie voorkoms te balanseer. Vir baie mag die bonkige tekkiestyl ’n oorgroot gevoel hê, wat dan vreemd sal lyk met ’n stywe noupassende broek daarby. Dink terug aan die 90’s-styl broeke en denims – hoë middelyf met regaf (effens losser) broekspype. Selfs ’n denim culotte sal werk by jou bonkige tekkies.
Hier is ons gunstelinge:
Lees ook: Sandale vir die somer