La Colle Noire is nie net die naam van ’n gunsteling Dior fyngeur nie, maar ook die naam van Christian Dior se landgoed in Frankryk. Ons raak liries oor rose en die romantiese, ryk geskiedenis van Dior en sy liefde vir blomme. Deur Suzanne Kotzé
So ’n rukkie gelede is ons genooi om Dior geurkenner Nevine Thiermann by die Dior skoonheidsboetiek in die V&A Waterfront te ontmoet. En het ons nou liries geraak oor die ryk geskiedenis van Christian Dior en sy passie vir blomme, en veral die roos.

Ons het op ’n geursoektog gegaan terwyl Nevine ons met begeleiding van geurkaarte en vrae gehelp het om ons gunsteling La Collection Priveé fyngeure te ontdek. En die eerste geur wat ek ooit (so vyf jaar gelede) van hierdie versameling gekry het, bly steeds my gunsteling. (NS ek gebruik die reuse bottel steeds).
La Colle Noire, ’n ode aan Christian Dior se landgoed in Grasse
Christian Dior Private Collection La Colle Noire is vernoem na en geïnspireer deur Christian Dior se landgoed, La Colle Noir, in Grasse, in die Suide van Frankryk. Dit tuin wat dit omring is in ware Diorstyl, ’n blommeparadys.
Kyk net hoe pragtig is die La Colle Noire, landgoed hier:
Christian Dior se liefde vir blomme, en veral die roos, is geen geheim nie. Die roos was al (en is steeds) die inspirasie agter vele mode-ontwerpe, fyngeure, juwele en selfs velsorgprodukte en is kenmerk aan die Dior handelsmerk.
Christian het sy liefde vir rose by sy ma, Madeleine geёrf, wat ’n pragtige roostuin gehad het in sy grootwordhuis (wat nou ’n museum is) in Granville, Normandy,Frankryk). Hier het Christian ure in die roostuin spandeer. Christian se suster, Madeleine, was ook ’n professionele tuinier.
Daar is selfs in 2022 ’n uitstalling, genoem Dior and Roses, ter ere van Christian Dior se verhouding met rose gehou, in Granville. En ’n koffietafelboek met dieselfde naam is ook gepubliseer.
Die La Colle Noire fyngeur

Dink aan die La Colle Noire fyngeur as ’n olfaktoriese portret van die tuin, en die Meiroos, wat daar groei. As jy dit ruik, sien jy die pragtige tuine in in jou geestesoog. Die sensuele roos, wat effens soos heuning ruik, het egter ’n sterk karakter en die fyngeur ruik alles behalwe soos ’n tipiese poeierige roos fyngeur. Dit het ’n speseryerige (veral peper) en hout ondertoon, en is selfs gewild onder mans ook.
La Colle Noire lyfprodukte

Ons het die bypassende La Colle Noire Hydrating Body Lotion persent gekry. Daar is ook ’n Body Cream, Soap en Liquid Hand Soap beskikbaar. Ons mag maar droom hiervan!
Noudat ek my parfuum en die room saam gebruik, is dit wonderlik hoeveel meer intens die geur ruik en ook hoeveel langer dit aanbly. Ons het juis ook by Nevine geleer dat fyngeure langer hou as jou vel goed gehidreer is. Vir bederf-aande smeer ek graag die room aan voordat ek gaan slaap.
Justine sê:
Ek is in absolute verwondering oor die geur van hierdie lyfroom. Ek hou gewoonlik meer van vars sitrusgeure as blomgeure en het gedink dit gaan beslis te blommerig wees vir my. Maar die blomgeur van die lyfroom is glad nie oorweldigend nie en die sitrusnote (suurlemoen) sorg vir ’n vars, energieke hupstoot elke oggend. Ek wend die room sommer so aan my arms en décolleté aan voor ek by die deur uitstap en kry heeldag lank komplimente oor my fyngeur, min wetende dat dit eintlik die lyfroom is wat so lekker ruik! Die room hou boonop my vel vir ure lank gehidreerd en gee ’n gesonde glans aan my vel.