Koop en dra jou eie klerekas, hier’s hoe:

Die feesseisoen is verby; vir die meeste van ons word Januarie se begroting uitgegee op terug-skool-toe noodsaaklikhede eerder as nuwe mode-items vir jou klerekas. Hier is 7 stappe wat jy kan volg om in jou eie klerekas te “koop” en opnuut te dink oor dit wat jy reeds het. Deur Justine Kroes

18/01/2025

Baie in jou kas maar niks om te dra nie?

Kom ons wees eerlik, baie van ons is skuldig daaraan om nie die klere in ons klerekaste ten volle te dra en benut nie. Nuwe trends duik byna weekliks op en die gier is daar om dadelik nog te koop. Ons kaste raak al hoe voller en ons voel steeds ons “het niks om te dra nie!” Hier’s hulp:

Stap 1: Organiseer en sorteer

Hierdie stap forseer jou om deur AL jou klere te werk en te sorteer.

Pak jou kas reg en sorteer al jou kledingstukke met soorte bymekaar en daarna skakerings bymekaar. Dit maak dit makliker om dadelik te weet al jou hemde hang bymekaar, broeke is bymekaar, rokke is bymekaar.

Hang hierna alle items in kleure van ligter na donkerder, dit vergemaklik die soekproses nog meer.

Noudat jy weet wat presies jy in jou klerekas het, kan jy met die volgende stap begin:

Stap 2: Soek inspirasie

Gaan soek inspirasie en uitrustingidees op jou gunsteling Instagram modebekendes se blad of selfs op Pinterest.

Neem skermgrepe van uitrustings waarvan jy hou en stoor dit op jou foon of tablet.

Jy kan selfs modetydskrifte deurblaai vir inspirasie en uitrusting-idees.

Probeer nou tuis om van hierdie uitrustings of klerekombinasies te herhaal, maar met jou eie klere-items (en sonder om iets nuuts te koop!).

Stap 3: Probeer nuwe kombinasies

Hierdie een mag dalk ’n ruk neem. Gee vir jouself die tyd en pas ’n hele klompie verskillende kombinasies by mekaar aan, kyk vir jouself in die spieël totdat jy een vind wat goed werk en waarin jy gemaklik voel.

Wenk: Neem ’n spieël selfie/foto van jouself in daardie uitrustings waarin jy goed voel. Dit mag jou dalk red op ’n dag wanneer jy laat is en nie ’n idee het wat om aan te trek nie.

Jy sal verbaas wees hoeveel interessante items jy reeds in jou klere- en bykomstigheidkas het wat jy kan kombineer met ander items in jou klerekas om ’n hele nuwe reeks uitrustings saam te stel.

Stap 4: Breek dit op

Dink aan die huidige bypassende stelle, pakke (suits) wat jy in jou kas het.

Jy hoef nie altyd hierdie items bymekaar te dra nie – ons gee vir jou toestemming om van nou af elke item afsonderlik te dra.

Dra die pak se baadjie as ’n blazer by jou denims, en dra jou pak se broek by ’n t-hemp vir ’n gemaklike voorkoms of by ’n netjies bloes vir ’n werksvoorkoms. Voila – daar is sommar al drie nuwe uitrustings, vanuit jou eie kas!

Stap 5: DRA! jou bykomstighede

Ons is almal skuldig hieraan, ons koop en koop die allermooiste bykomstighede, handsakke, skoene, serpe en juwele, dra dit dalk een keer en vergeet weer daarvan.  

Gaan soek al daardie bykomstighede waarvan jy dalk vergeet het en pak hul uit, iewers waar jy hulle meer gereeld kan sien. Sodra jy begin anders dink oor jou klerekaskombinasies, gaan jy ook anders begin dink oor jou bykomstighede en hoe om hul te stileer.

Deur jou bykomstighede by ’n ou uitrusting te dra, gee dadelik nuwe lewe aan die voorkoms. Probeer dalk om ’n tikkie kleur soos ’n rooi handsak en rooi skoene by ’n ou gunsteling rok of pak aan te trek.

Stap 6: Breek die reëls

Om in jou eie klerekas te “koop”, beteken jy gaan moet anders dink oor elkeen van die items wat jy besit. Glansgeleentheid-uitrustings MAG in die dag gedra word. Dra daardie rok wat jy onlangs by ’n troue aangehad met ’n paar tekkies. Dra jou blinkertoppie by jou denims – hierdie klerekombinasie word die high-low aantrekstyl genoem.

Beslis een van ons gunsteling stileertruuks om te verseker dat al die klere in jou klerekas ten volle benut, geniet en gedra word.

Lees meer oor die high-low aantrekstyl hier:

Stap 7: Dra jou klere heel jaar lank

Goed, jy gaan nie noodwendig jou woljas in die middel van die somer dra nie, maar daar is beslis kledingstukke wat oor beide koue en warm seisoene gedra kan word. Vergeet van ’n afsonderlike winter- en somerklerekas. Organiseer eerder jou klere sodat die items wat jy heel jaar lank kan dra, gereed hang om aan te trek.

Somerrokke kan in lae (layers) gestileer word, met ’n langmouhemp onderaan, met warm kouse en stewels daarby.

Net so kan iets wat jy dalk dink ’n “winterromp” is, gestileer word met ’n moulose toppie en sandale vir warmer weer. Sy of satynagtige rompe kan weer met warmer truie gestileer word in koeler weer.

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
serpe kies
Wenke vir serpe kies
error: Content is protected !!