Nee die “high-low” aantrekstyl verwys nie na die lengte van soomlyne aan jou rok nie – eerder ’n aantrekstyl waar jy duurder (luukse) klere items meng en pas by informele klere items vir ’n vars, treffende en trendy voorkoms (dink byvoorbeeld aan sequins by jou denims of hakskoene by jou jogger broek). Stylkenners Marilize de Clercq, Susra Matthee en Minki van der Westhuizen deel raad en wenke om hierdie trend aan te pak. Deur Justine Kroes
29/07/22
Stylkenners oor die high-low aantrekstyl
Susra Matthee, voorkomskonsultant sê:
Drie van die groot pilare vir mode vir Winter 2022 is gemak, partytjiedrag en die kombinasie van die twee – wat “high-low dressing” genoem word.
Dit was reeds in Celine se herfs/winter 2021 reeks gesien waar hulle balrok geïnspireerde rompe saam met bonkige stewels, vlieëniersbaadjies (aviator jacket) en bofbalpette kombineer het.



“Dit is ’n maklike konsep indien jy die goue formule onthou – kies meer formele items en kombineer dit met iets, gemakliks, sportief, “grungy” of minimalistiese items” is Susra se raad.
Susra Matthee
Susra sê “Een van my gunsteling maniere om dit te dra is om my “bomber jacket” by my silwer romp te dra of ’n blink top of baadjie saam met denims.”

Stylkenner en voorkomskonsultant Marilize de Clercq sê:
Ek “high-low” elke dag wanneer ek self aantrek. Met elke kliënt wat ek sien deel ek ook die basiese beginsels van high-low.
Ek gebruik die metode werklik al die afgelope tien jaar. Dit is ’n baie lekker manier om uitrustings wat so ’n bietjie die koppe laat draai manier van aantrek sommer maklik te kan aanpak”.
“High-low is the way to go” sê Marilize “want high-low werk vir elke dag se modes, elke stylpersoonlikheid. Dit gaan oor daardie perfekte balans wat jy moet skep in jou klerekas wat maak dat jy jou klere oggend, middag en aand, fancy of casual, hoe ookal jy wil, kan dra.”
Marilize de Clercq
Baie keer sien vroue ’n item en vra “maar waarheen sal ek dit nou dra?” Dan antwoord ek – jy kan dit Pick & Pay toe dra – dit is hier waar ek vir kliënt leer hoe om die item op die teenoorgestelde manier te kan dra met die high-low beginsel sê Marilize.
High kledingstukke
Enigiets wat tailored, bietjie duurder items, boetiek items, ontwerper items. Kledingstukke of bykomstighede in luukse materiale wat blink, met tekstuur; daardie item wat praat as hy in ’n vertrek instap – dit is die item wat jy gewoonlik wil spaar vir ’n date aand, is Marilize se raad.
Low kledingstukke
Marilize verduidelik dit so – jou denim, katoen, gemaklike en meer informele items. Dink jogger broeke, truie – enige iets wat jy beskou as gemaklik, of ’n basic/ stapel-item in jou kerekas.
Jy kan die high-low metode in persentasies opbreek om dit makliker aan te pak;
Jy kan ’n 50/50% aanslag kies, met ander woorde die kombinasie kan wees: denim en sweetpaktop (low items) by jou tailored baadjie en ’n hakkie daarby (high items).
Die persentasie waarop jy besluit sal afhang van jou stylpersoonlikheid asook waarheen jy op pad is. Jy kan die kombinasie 70%/30% maak of selfs 80%/20%.
‘n Voorbeeld van ’n 90%/10% high uitrusting vir ’n formele geleentheid of troue – luukse rok, hakke en palmtas (90% high) en ’n leerbaadjie/suit of denim baadjie wat jy oor jou skouers drapeer (10% low).
Voorbeeld van ’n low low uitrusting – denim, tekkies en ’n sweetpaktop (90% low) dra dit met jou trench jas of netjiese blazer baadjie bo oor (10% high). Dit is net daardie klein element wat die hele uitrusting bietjie meer “oemf” gee en ’n cool streetstyle voorkoms skep.
Goedkoper teenoor duurder items
High-low beteken ook natuurlik goedkoper teenoor duurder items. Ek sê altyd vir kliënte as jou hele uitrusting goedkoper kledingstukke is (solank dit natuurlik by jou lyf en persoonlike styl pas) is jou skoene die belangrikste! Laat jou skoene dan jou duurder (high) item wees. Soos leer of handelsmerk skoene wat uitstaan. Jou bykomstighede, handsak en goeie haarstyl sal hiermee saam al die goedkoper items beter laat lyk.

High-low metode is ’n ongelooflike tool vir jou om alledaagse uitrustings te kies en bymekaar te sit. Met hierdie metode van aantrek kry jy ook meer dra uit jou duurder items uit wat wonderlik is as jy “cost per wear” in ag neem.
Minki van der Westhuizen se high-low aantrekstyl
Ons bewonder ook natuurlik Minki se styl en die manier waarop sy die high-low mode trend so foutloos regkry:

Minki van der Westhuizen sê “High-low dressing is my absolute go-to, ek dra byvoorbeeld vandag my jeans met tekkies en blazer daarby”.
“Dit is my gunsteling manier om aan te trek en ook ’n baie lekker manier om jou defitge klere meer alledaags te maak. Ek dink ons lewe in ’n tyd waar ons baie mooi moet dink wat ons koop en waaraan ons geld spandeer, dus moet jou klerekas werk vir jou en jy moet ook jou aandklere in die dag kan dra, en die high-low trend is ’n baie lekker manier om dit te kan doen”.
Minki van der westhuizen