‘Kombuistaal’ is soveel meer as ’n resepteboek vir kinders. Met die mooiste illustrasies en versies van Antjie Krog, leer dit kinders en grootmense nie net meer van kos maak nie, maar ook hoe om gesonde koskeuses te maak. Deur Suzanne Kotzé
‘Kombuistaal’ deur Vickie de Beer en Antjie Krog
Met ’n seun wat op ’n jong ouderdom met diabetes gediagnoseer is, is bekende vryskut-kosstilis, resepontwikkelaar, skrywer en fotograaf, Vickie de Beer, passievol oor gesonde koskeuses vir kinders.

Vickie bly al die afgelope paar jaar in Nederland en Antjie Krog was daar vir die Fees vir Afrikaans. “As deel van die fees het ons ’n boekvoorlesing by my huis gedoen waar Antjie haar Bosfeetjies en ander gedigte voorgelees het. Sy het toe sommer hier oorgeslaap, want dit was ’n laat aand. Ons het vreeslik lekker ‘connect’. Ons het gepraat oor kinders en kos (sy was op pad na haar kinders en kleinkinders in Londen) en oor hoe bekommerd ons is oor die toekoms van hierdie generasie kinders wat sulke ultra-geprosesseerde kos eet.”
Vickie is al lank lus om ’n resepteboek vir kinders te doen en haar Lapa-uitgewer het toe voorgestel dat hulle vir Antjie nader aangesien sy so lekker by Vickie gekuier het. “En, wow, toe stem sy in, en dit was net ‘magical’, vertel Vickie.
Hierdie kookboek gaan die jongspan nie net laat smul aan heerlike kos nie, maar ook leer hoe om gesonde keuses te maak.
Kombuistaal gee vir kinders die woordeskat en vaardighede om seker te maak dat hulle van jongs af weet hoe om kos te kies wat gesond en heilsaam is. Selfs grootmense word touwys gemaak oor hoe om slim keuses te maak om hul besige kinders gesond en sterk te hou – alles gebaseer op wetenskaplike navorsing. Daar is self ’n QR kode in die boek, waar grootmense ’n ekstra boekie kan aflaai met meer inligting oor kinders en gesond eet.
Die boek is opgedeel in vyf afdelings; 1. Jou slim brein 2. Brom en grom 3. So sterk soos ’n reus 4. Kry meer woema en 5. Jou onsigbare weermag
Elke afdeling begin met ’n Allawiek rympie. Leersame inligting (alles wetenskaplik nagevors) word oulike verpak, wat dit pret maak vir kinders om te leer (sonder dat dit so voel.)
My Maag Brom en grom
Kyk net hoe oulik word hierdie verduidelik.

Die mooi illustrasies
Die mooi illustrasies is deur Roelien Immelman gedoen. “Roelien is super talentvol, ‘she just got me’, vertel Vickie. “Ek het vir Roelien vertel van die boekies wat ek vir my seuns gelees het toe hulle klein was. Die boekies waarin hulle self kon ontdek, met die baie prentjies en jy lees, en daar is goed weggesteek en daar gebeur allerhande dingetjies. En sy het hierdie idee geneem en dit omskep in die mooiste illustrasies.”
Twee resepte uit ‘Kombuistaal’
Jogurt-en-granaat boombas


Kaserige Frikkies


Kombuistaal is beskikbaar by uitgesoekte boekwinkels en is beskikbaar by aanlynwinkels soos Amazon.co.za Reader’s Warehouse en Lapa Uitgewers





