Klein veranderinge, groot impak: 8 maklike wenke vir ’n meer volhoubare huis

’n Volhoubare leefstyl begin by die huis en dit beteken nie jy hoef jou styl of gemak prys te gee nie. Met ’n paar eenvoudige aanpassings kan jy jou spasie mooier en meer omgewingsvriendelik maak. Daardie klein veranderinge wat oor tyd ’n reuse omgewings-verskil sal maak. Deur Justine Kroes.

8 Wenke vir ’n meer volhoubare huis

1. Hergebruik, herstel, herontdek

Voordat jy iets nuuts koop, kyk eers mooi na wat jy reeds het. ’n Bietjie skuurwerk, nuwe handvatsels of ’n laag ekovriendelike verf kan ou meubels soos splinternuwe meubels laat lyk.

Rangskik dekor-items anders of skuif meubels tussen vertrekke, dit laat jou spasie vars voel sonder ekstra koste of onnodige aankope.

2. Kies natuurlike en herwinbare materiale

Wanneer jy dekoraankope vir jou spasie maak, kies items wat van natuurlike materiale soos bamboes, rottang, herwonne hout of organiese katoen of linne gemaak is. Nie net is hierdie kopies beter vir die omgewing nie, dit bied ook die gevoel van natuurlike teksture en warmte in jou huis.

3. Koop plaaslik of tweedehands

Jy sal verbaas wees oor al die dekorskatte wat jy by ’n tweedehandse winkel kan vind, daarby ook op aanlynplatforms soos Facebook Marketplace. Jou plaaslike timmerman maak heel moontlik ook die allermooiste meubels waarvan jy nie geweet het nie.

Deur plaaslik of tweedehands te koop, ondersteun jy ondernemings in jou gemeenskap, jy verminder die gebruik van vervoerkoolstof en jy vind dalk net fantastiese kwaliteit handgemaakte meubels en dekorskatte wat nog vir jare lank gaan hou.

4. Gebruik omgewingsvriendelike produkte vir afwerkings

Verf, gom en vernis bevat dikwels skadelike chemikalieë, ook bekend as VOCs (volatile organic compounds).  Kies eerder produkte met lae of geen VOC’s vir ’n gesonder huis en beter lugkwaliteit, hierdie eko-vriendelike keuses ruik ook minder skerp. Veral veiliger vir huise met kinders, troeteldiere en dan natuurlik ook vir moeder aarde.

5. Bring die natuur binne

Jy besef dalk nie eens die positiewe impak van huisplante op jou ommiddelike spasie nie. Huisplante suiwer die lug waarin jy lewe, verbeter humiditeit en om daarna te kyk skep ’n gevoel van kalmte.

Kombineer verskillende tipes plante, groottes en teksture vir ’n natuurlike gevoel. Kies geharde, lae onderhoud plantspesies soos vredeslelies of varings wat maklik is om aan die lewe te hou.

6. Verminder energieverbruik

Verruil jou huidige gloeilampe vir LED ligte wat energie en krag bespaar. Maak gebruik van ligdempers (dimmers) om verder krag te bespaar.

Maak vensters en gordyne oop vir goeie ventilasie om so ook meer natuurlike lig in ’n spasie te skep.

Deursigtige gordyne en spieëls op strategiese plekke help om lig te weerkaats en jou spasie groter en meer ruim te laat voel sonder die gebruik van ekstra elektrisiteit.

7. Verminder enige mors tydens opdaterings

Probeer om nie huisversieringstendense slaafs na volg nie. Dit beteken gewoonlik jy maak klomp aankope en veranderinge soos die huis- en dekormodes verander en al jou ou dekorkopies gaan reguit ashope toe.  

Kies eerder tydlose, veelsydige meubelstukke en dekor wat saam met jou persoonlike styl kan groei en jare lank nog goed in jou spasie sal lyk.

Indien jy onseker is oor wat jou dekorstyl is, loer gerus hier:

Hoe om jou dekorstyl te vind, ‘n gids vir beginners.

8. Natuurlike geure en skoonmaakmiddels

Ruil jou sintetiese lekkerruikgeure wat jy in jou spasie gebruik vir essensiële olies, byewaskerse of gedroogde kruie.

Wanneer jy die volgende keer skoonmaakmiddels kies, gryp eerder na produkte soos asyn, koeksoda en suurlemoen, hierdie skoonmaakmiddels werk uitstekend, is natuurlik en veilig om te gebruik.  Lees gerus meer hier:  Herstel jou huis se mikrobioom met natuurlike skoonmaakmiddels.

Deur volhoubare keuses te maak, skep jy nie net ’n mooi huis nie, jy bou ’n leefruimte wat bewustheid oor herwinning en omgewingsvriendelike keuses weerspieël. Elke klein stap tel, en dit is juis hierdie klomp klein veranderinge wat daardie groot impak sal hê.

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Argitekte deel die 6 grootste aanbou foute
error: Content is protected !!