Om dekor vir jou huis uit te kies, kan beide opwindend en oorweldigend voel, veral as jy nie 100% seker is wat jou dekorstyl is nie. Nog meer so wanneer jy ’n spasie begin deel. Om jou persoonlike dekorstyl te vind is die sleutel daartoe om ’n spasie te skep wat vir jou soos “huis” voel.
Hier is 7 wenke en handige truuks wat jou sal help om jou persoonlike dekorstyl te vind – selfs al het jy nog nooit voorheen daaraan gedink nie. Saamgestel deur Justine Kroes
7 Wenke om jou dekorstyl te vind:
1. Begin met dit waarvan jy hou
Gaan deur jou aanyln-Pinterest bord versamelings wat jy dalk oor die jare bymekaar gemaak het, Instagramplasings waarvan jy gehou het of selfs tydskrifknipsels wat jy gebêre het. Let op na die skakerings, patrone, skoon lyne, teksture of dalk helder skakerings of vintage elemente.

Wenk: Stel ’n “moodboard” saam met foto’s en prente wat jou inspireer. Moet dit nie óórdink nie, versamel net daardie elemente wat jou oë vang. Die patrone en dit waarvan jy hou sal begin duideliker raak.
2. Kyk na jou huidige spasie
Selfs al voel dit tans soos ’n mengelmoes van verskillende style, daar is moontlik ’n paar dekoritems of meubelstukke wat jy bly geniet.
Vra jouself af:
Van watter items moet ek ontslae raak?
Watter items wil ek wegsteek wanneer gaste kom kuier?
Hierdie vraagproses help jou om te identifiseer waarvan jy hou, waarop jy moet bou en wat jy eerder moet laat gaan.
3. Leer al die groot dekorstyle ken
Hierdie mag dalk soos ’n uitdagende een klink, maar sodra jy al die basiese dekorstyle verstaan en kan identifiseer, kan jy ’n naam gee aan jou persoonlike dekorstyl wat die hele proses makliker maak.
Van die gewilde dekorstyle sluit in:
Modern: sjiek, minimalisties met skoon lyne

Boheems: Met lae, kleurvol of neutral, geïnspireer deur die wêreld, geweefde elemente.

Skandinawies: Lig, natuurlik, funksioneel, met hout-elemente ens.

Industriëel: Bakstene wat wys, metaal, hout, roumateriale en afwerkings

Tradisioneel/ klassiek: Klassieke meubels, warm kleurskakerings, simmetriese dekor.

Mid-eeus (middel 20ste eeu) modern: Vintage gevoel met skoon lyne en bont skakerings. (Mid Century Modern.)

Om die dekortaal en name beter te verstaan, sal jou help om meer selfversekerd te wees met jou aankope en dekorbesluite.
4. Meng en pas (intensioneel)
Die meeste mense het ’n kombinasie van dekorstyle soos byvoorbeeld “Modern Farmhouse” of “Boho-industrial”.
Hierdie kombinasies werk goed om ’n dekorstyl jou eie te maak, mits daar universele/soortgelyke elemente in albei dekorstyle is. Soos byvoorbeeld ’n ooreenstemmende kleurpalet of teksture.
Wenk: Hou by 2 tot 3 hoof dekorstyle om visuele chaos te vermy.
5. Identifiseer jou leefstylbehoeftes
Dekor gaan nie net oor hoe die spasie lyk nie, dekor gaan ook daaroor om ’n spasie funksioneel vir jouself te laat werk.
Vra jouself die volgende vrae:
Benodig jy snoesige spasies om te ontspan/af te skakel?
Onthaal jy graag en gereeld?
Benodig jy kinder- of diere-vriendelike meubels en dekor?
Jou leefstyl behoort jou dekorbehoeftes, die materiale, meubeluitleg en funksie van elke kamer te identifiseer.
6. Toets voor jou finale besluit
Onseker of jy van ’n sekere dekorstyl hou? Toets dit in klein hoeveelhede:
Ruil strooikussings uit
Hang ’n nuwe prent/muurkuns

Probeer ’n mat

Herrangskik jou meubels
Hierdie klein veranderinge is nie duur en permanente veranderinge nie en is die perfekte manier om te toets of jy werklik van ’n dekorstyl hou.
7. Gee dit ’n naam
Sodra jy ’n beter idee het waarvan jy hou, probeer om dit neer te skryf in ’n sin of frase vir jouself, byvoorbeeld:
“Neutraal, snoesig en modern met elemente uit die natuur”
Of dalk:
“Kleurvol, en vintage met mid-eeus moderne meubels”
Of ‘n kombinasie van modern en boheems:

Hierdie frase of sin word jou persoonlike dekorstyl missiestelling – ’n handige gids wanneer jy dekoraankope maak of kyk daarna om ’n kamer te versier.
Om jou persoonlike dekorstyl te vind is ’n reis, nie ’n wedloop nie. Gun jouself genoeg tyd om nuwe dekorelemente te toets en ervaar sodat jou huis en styl kan ontwikkel. Die belangrikste is om daarby te hou wat vir jou outentiek voel en gelukkig maak.





