Sukkel jy met jou klein kombuis wat konstant geklotter, ongeorganiseerd en chaoties lyk? Ons deel praktiese organisasie en superslim stoorwenke om jou klein kombuis meer werkbaar en leefbaar te maak. Daarby ook ’n paar dekor- en ontwerpwenke om vir jou klein kombuis in gedagte te hou. Hier is 17 dekor-, stoor- en organisasiewenke vir jou klein kombuis. Deur Justine Kroes, Fotos: Pinterest
17 Wenke vir jou klein kombuis
1. Organiseer en uitsorteer
Die heel eerste stap tot ’n funksionele klein kombuis is om ontslae te raak van al die klotter en onnodige items. Dit geld vir items bo-op jou toonbanke asook in jou kombuiskaste. Raak ontslae van onnodige gadgets, en breekware wat jy glad nie gebruik nie, hierdie items neem waardevolle spasie in jou klein kombuis op.
Groepeer soortgelyke items bymekaar – pak dit sommer op die vloer uit. Hierdie proses help jou om visueel te identifiseer van watter items jy dalk te veel het of nooit gebruik nie.
2. Benut jou muurspasie
In ’n klein kombuis is dit noodsaaklik om elke spasie ten volle te benut, maar daarby ook om seker te maak jy plak nie mure van bo tot onder toe met hakies en rakkies nie. Hierdie kan bydrae tot visuele gewig en die gevoel van ’n geklotterde spasie skep.

Werk slim met mooi stylelemente soos ’n magnetiese hangplek vir messe.

Installeer ’n hangplek vir potte, lepels en maatbekers as die spasie dit toelaat.


Jy kan selfs mandjies ophang vir vars vrugte en groente, hierdie truuk dien sommer ’n dubbeldoel as ’n pragtige ontwerpelement.


Of hakkies teenaan die muur vir koffiebekers.

3. Ekstra rakke in jou kombuiskaste
Een van die pyne in ’n klein kombuis is dat daar omtrent net 2 rakke per kas is. Neem een van jou bestaande rakke (binne-in jou kas) na jou plaaslike hardewarewinkel en vind soortgelyke rakke en laat die span dit vir jou in dieselfde groottes as jou rakke sny.

Wanneer jy vir jouself meer rakke in jou kaste laat sit, skep jy ook baie meer pak en stoorplek.
4. Deurspasie
Al ooit gedink aan die binnekant van jou kombuiskaste as stoorspasie? Nee ons ook nie!


Gebruik die binnekant van jou kombuiskaste se deurspasie om items op te hang, soos byvoorbeeld maatkoppies, foelie, of bakpapier.

Jy kan ook hakies gebruik om jou lappies binne ’n kasdeur op te hang. ’n Eenvoudige manier om jou mure klottervry te hou.
Om mandjies binne jou kasdeure hang is nog ’n stoorplek oplossing vir sakkies, of skoonmaakmiddels.


5. Laat staan jou bakplate en skinkborde
Iets wat baie kasspasie kan opneem is bakke, bakplate en skinkborde. In plaas daarvan om die items plat te laat lê, laat staan dit regop met ’n slim inskuifrakkie.


Nie net spaar hierdie truuk spasie nie, dit maak dit soveel makliker om jou bakplate te gebruik en weer te stoor.

6. Organiseer jou laaie
Indien jy ook in jou laaie rondkrap en sukkel om daardie spesifieke mes te vind, maak gebruik van laai houers en organiseerders. Met gebruik van hierdie houers maak jy seker dat elke item sy eie plekkie het.


Dink aan slim diagonale houers vir daardie langer items.

7. Maak gebruik van deursigtige glashouers
Vir jou koskas mag dit dalk die moeite werd wees om jou kos-items soos suikers, grane, ontbypap ens in soortgelyke deursigtige glashouers uit te giet. Die houers skep ’n visuele eenvormige spasie, waar jy maklik kan identifiseer of ’n kos-item klaar of naby aan klaar is.


Dit spaar boonop spasie want daar is geen bonkige papbokse of sakkies wat onnodige plek opneem nie. Kies langer vertikaalvormige glashouers wat oppervlak spasie beter benut as hierdie sakkies en bokse.

8. Raak kreatief met rak stoorplek
Om kaste vol gestapelde borde te hê beteken ons gebruik meestal net die boonste borde. Hierdie rakverdelers (en rakverhogers) maak dit ekstra maklik om borde en bakkies bo op mekaar te stapel.


Maak gebruik van slim rakkies en organiseerders om in jou kaste, jou borde, glase en koppies te organiseer. Skuif rond en pak dit op ’n manier wat dit beste vir jou sal werk.
Jy kan natuurlik ook gebruik maak van inskuif hangrakkies, wat aan die boonste rak ingeskuif word om items soos koppies of lappies op te hang.


Dit werk net so lekker vir wynglase.

Ook nuttig vir stoorplek soos snyborde.

9. Uittrekstoorplek vir skoonmaakmiddels
Hierdie tipe uittrekrakkies (beskikbaar by Gelmar loer hier) werk fantasties as stoorplek onder jou wasbak vir al jou skoonmaakmiddels.


Jy kan die rakkies se hoogte pasmaak vir jou stoorbehoeftes. Hierdie help ook om al die spasie onder jou wasbak ten volle te benut.

10. Draai-stoorplek
Jou lazy susan is ’n handige manier om blitsvinnig ’n georganiseerde spasie te skep hetsy jy ’n groter een gebruik vir jou hoekkas vir potte en panne, of dalk ’n kleiner een in jou koskas vir souse en olies. Ons gebruik dit selfs in ons yskaste om spasie te spaar.


11. Gebruik die spasie op jou toestelle
Dink aan jou yskas, of jou stoofplate, byvoorbeeld as die kant van jou yskas beskikbaar is, maak gebruik van slim magnetiese organiseerders of rakkies. Of selfs ’n houer vir jou rol kombuispapier.

Indien jy nie baie toonbank/werkspasie in jou kombuis het nie, wees op die uitkyk vir ’n bord of snybord wat jy bo oor jou stoofplate kan gebruik.


Jy kry natuurlik ook ’n rak wat bo-oor jou wasbak pas vir ekstra rakspasie vir items om droog te word.


12. Hou toonbanke skoon
Hierdie mag dalk soos ’n onmoontlike taak voel, maar om jou klein kombuis se toonbanke skoon en klottervry te hou sal outomaties die gevoel van ’n netjiese, georganiseerde en groter kombuis skep.

Beperk werkoppervlaktes tot daaglikse noodsaaklikhede. Toestelle wat nie gereeld gebruik word nie, hoort in kaste.
Ontwerpreël: Een mooi gestileerde element soos ’n bak, snyplank of plant is genoeg.
13. Hou by ’n ligte of neutrale kleurpalet
Met ’n neutrale kleurpalet is dekorkenners dit eens – jou kombuis/klein spasie voel oop, lig, lugtig en meer kalm. Onthou, ligte kleure weerkaats lig en laat ’n klein kombuis ruimer voel.

14. Toestel “garage”

Indien jy ’n paar strukturele verandering aan jou kombuis kan bring, beplan dalk’n toestel “garage” ook bekend as ’n appliance or pantry garage, hierdie term verwys na slim stoorplek vir jou toestelle soos jou koffiemasjien, mikrogolfoond en lugbraaier wat agter ’n toe kas deur verskuil word.

Hierdie slim ontwerptruuk dra by tot minder visuele klotter en die gevoel van ’n netjiese, georganiseerde kombuis.

15. Hou afwerkings minimaal
Te veel verskillende afwerkings kan ’n klein ruimte visueel verklein. Ontwerpers stel voor dat jy by een of twee materiale hou om vloei en eenheid te skep.
16. Goeie beligting is belangrik
Maak gebruik van laagbeligting (layered lighting) ’n kombinasie van plafon-, onderkas- en taakbeligting (soos bo jou stoof).


Hierdie ontwerptruuk laat ’n klein kombuis groter, helderder en meer funksioneel voel. Daarby skep die verskillende lae van beligting ook ’n gevoel van diepte wat die kombuis groter sal laat voel.
17. Redigeer gereeld
Klein kombuise floreer met gereelde opruiming. ’n Maandelikse vinnige uitsorteer hou die ruimte vars, georganiseerd en aangenaam om te gebruik.





