Perfekte onderlaag en mooi lipstiffie is een gedeelte van grimering wat taamlik maklik is om op te besluit. Maar het jy al ooit gewonder of jy regte skakering oogskadu gebruik om die kleur van jou oë te komplementeer? Grimeerkunstenaar Cheryl Parker verduidelik hoe om die regte oogskadu vir jou oogkleur te kies. Deur Justine Kroes
13/05/2022

Hoe werk dit?
Cheryl verduidelik dit so “Daar is drie verskillende maniere om die regte oogskadu vir jou oogkleur te kies:
- Komplementeer; dit beteken jy wil jou oogkleur komplementeer maar die kleur is nie te “out there” vir jou nie.
- Kontrasteer; dit beteken jy kies ’n oogskadu wat jou oogkleur gaan laat uitstaan. Gewoonlik ’n meer dramatiese kleurkeuse.
- Neutraal; hierdie is die veilige opsie om te kies, en die mees natuurlike opsie.
Die kleur wat jy op jou oë gebruik, of dit nou oogomlyner, maskara of oogskadu is, kan beslis ’n verskil maak aan jou grimeervoorkoms, net soos die kleurteorie wat in mode en uitrustings gebruik word.

Die maklikste manier om dit te verduidelik, sê Cheryl, is op ’n kleurwiel. Vind jou oogkleur op die kleurwiel – die kleur wat aan die teenoorgestelde kant van jou oogkleur op die wiel sit, sal die meeste kontras vir jou oogkleur bied en dit die meeste laat uitstaan.

Doen dit so:
Maar as jy byvoorbeeld nie ’n helder oranje op jou blou oë wil dra nie, kies komplementerende en neutrale skakerings hiervan soos ’n oranjebruin oogskadu vir ’n meer subtiele voorkoms. Dieselfde vir groen oë – kies ’n persbruin as jy huiwerig is vir helder pers. En vir bruin oë kies ’n navy blou of mosgroen vir ’n sagter, meer natuurlike oogskaduvoorkoms.
As jy huiwerig is om ’n gekleurde oogskadu te gebruik, kies eerder ’n gekleurde oogpotlood of gekleurde maskara. Of maak die oogskadu effens nat en gebruik die skakering as ’n oogomlyner.
Skakerings soos brons, bruine en mosterd is neutrale skakerings wat die beste by al die oogkleure pas. Hierdie palet van Chanel is ‘n goeie voorbeeld:



Bruin /Neutbruin oë
Kies “koeler” skakerings om jou oë die meeste te laat uitstaan:
- Vlootblou, pers, pruim en donker mosgroen skakerings.
Vir ’n meer natuurlike grimeervoorkoms, kies warmer skakerings soos:
- Goud, mosterd, koper, brons en warm bruine
Groen oë
Kies van hierdie skakerings om jou oogkleur te laat uitstaan:
- Grys, pers, donker moss groen, vlootblou en houtskool
Vir ’n meer natuurlike grimeervoorkoms kies warmer skakerings soos:
- Goud, mosterd, koper, brons en warm rooie en bruine
Blou oë
Vir ’n meer dramatiese/uitstaan voorkoms kies:
- Oranje, koper en ander warm skakerings.
Vir ’n meer natuurlike voorkoms:
- Bronserige pienk, warm bruin, goud en mosterd skakerings.