kersplanne
kersplanne

Kersplanne; van drankies tot servette en meer

Die afgelope ruk loop ons sosiale media behoorlik oor van oulike kersplanne. Hier is van die idees wat ons gestoor en probeer het. En wat ons self vir Kersfees wil maak. Van drankies tot servette. Deur Suzanne Kotzé

Kersboom-servette

Met die eerste servetvou kos dit effens dinkwerk, en daarna is dit baie maklik om te vou.

Begin deur ’n servet eers in die helfte en dan in ’n kwart te vou, met die punte wat na bo wys. Vou al die punte na onder.
Vou altwee boonste hoeke inwaarts sodat die servet ’n diamantvorm het.
Vou al die hoekies in/onertoe. Vou die onderste gedeelte van die servette ondertoe en sit die servet so neer.

Roosmaryntakkie servette

’n Maklike manier om servette mooi te laat lyk, is om net ’n roosmaryntakkie op ’n servet te sit. Dit lyk ook soos ’n kersboompie.

Kersdrankies

“Snow globe’ jenewer en tonikum

Hierdie het omtrent die sosiale media aan die gons gehad, dis maklik, lekker en lyk indrukwekkend.

Vul ’n glas met ’n bietjie gefiltreerde water. Meet ’n roosmaryntakkie en knip dit net korter as die glas. Laat die takkie regop binne die water staan en vries.

Gooi jenewer en tonikum in. Dit proe net so lekker met nie-alkoholiese drankies of met net tonikum ook.

NS: terwyl die water besig is om te ys, kyk dat jou boompie nog regop staan. Help hom om weer regop te kom as hy skeef geval het.

Ysballe

Jy het waarskynlik al die blomweergawe van hierdie ysballe op Stylvol gesien. Ons gaan beslis hierdie vir Kersfees probeer.

Lees gerus hier hoe om dit te maak. Gebruik groen kruietakke en rooi blomme soos rose vir die Kersweergawe.  

Bessies-en-takkies-ysbak

Foto: Pinterest Simply Beautiful World

Die blomweergawe hiervan het jy ook waarskynlik op Stylvol gesien. Gebruik rooi bessies en groen kruietakke in plaas van blomme. Kyk gerus na ons Instagram reel hoe om dit te maak.

Muffinpan-ys

Hierdie is ’n maklike manier om drankies of waterbekers indrukwekkend te laat lyk. Vries jou gunsteling vrugte en kruie in muffinpannetjies. Van ons gunsteling kombinasies is: framboos en roosmaryn of granaat en kruisement. Pomeloskywe in die ys gevries is heerlik vir jenewer.

Groot ysblokkies met bessies en kruie

Foto: Pinterest

Deesdae is groot silikoon ysbakkies oral te koop. Ons het onlangs by Checkers aangeskaf. Granaat en kruie is die Kerswennerweergawe.

Wynbottels met kerse en kruie

Deursigtige wynbottels gevul met water en bloekomtakkies en kerse skep ’n pragtige gestroopte Kersatmosfeer.

Versnaperinge

Kersboompitas

Sny ’n pitabroodjie in agt (soos ’n pizza). Smeer hoemoes (ons het gekaramaliseerde uie- hoemoes gebruik) bo-op. Kap kruie  fyn(mengsel van kruisement, pietersiele en koljander) en doop die broodjie hoemoes kant bo in die fyngekapte kruie. Sprinkel granaatpitte bo-op. Dit is ’n heerlike happie!

Pesto skilferkorsboompies

Verf ’n rol skilferkorsdeeg alkante met pesto. Sny in repe van omtrent 2cm. Gebruik sosatie-stokkies en ryg die deeg daardeur om kersboompies te vorm.

Bak in die oond vir so plus minus 10-15 minute teen 180 grade. Draai die boompies halfpad deur die tyd om. Moenie oorhaastig wees nie, jou deeg moet goed gaar wees en mag dalk selfs langer nodig hê. (Rou skilferkorsdeeg is nie juis lekker nie!)

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
9 Wenke vir jou ingangsportaal
error: Content is protected !!