Blom-ysballe; doen dit so

Ons is altyd op soek na slim (maar natuurlik stylvolle en mooi) dekoridees vir partytjies en kuiers tuis. Ons het onlangs vir ons Garden Day tuinpartytjie hierdie maklike blom-ysballe gemaak – dis so eenvoudig, kos byna niks en is boonop blitsvinnig om te maak. Loer hier, ons wys jou stap vir stap hoe. Deur Justine Kroes

23/09/2022

Stap 1

Blomme: Besluit eerstens op ’n kleurskema met jou blomme. Kleurvolle, helder en bont blomme lyk al te fraai in die ysbak, maar ons weet selfs net wit blomme sal stylvol en elegant lyk.

Knip nou die blomme se steeltjies af sodat net die blommetjie se gesiggie alleen oorbly.

Wenk: Jy hoef nie eens blomme te koop nie – baie van die blommetjies kom uit ons eie tuin en ’n paar veldblommetjies daarby.

Ballonne: Kry jou ballonne reg – enige ballonne werk en natuurlik maak die kleur van die ballon nie saak nie.

Stap 2

Rek jou ballon goed uit – trek dit heen en weer. Maak ’n opening so groot soos wat jy kan om jou blommetjie in die ballon te posisioneer.

Wenk: Vir groter blomme, kry ’n ekstra hand om te help. Een mens wat die ballon ooptrek en ’n ander een wat die blom versigtig binne-in die ballon kan druk.

Stap 3

Vul nou die ballon met water. Na talle probeerslae met ’n tregter en bekertjie, weet ons die kraan werk beslis die heel beste. Trek die ballon bo oor die kraan – die waterdruk verseker dat die ballon vinnig gevul word met min skade aan die blommetjie binne-in die ballon.

Trek die ballon versigtig van die kraan af om te verhoed dat die water oral spuit. Glo ons dit gebeur!

Wenk; loer in die lig of jy enige lugborrels in die ballon sien, en laat die lugborrels vry voordat jy jou ballon knoop om te verseker dat die ysbal in ’n mooi ronde vorm sal vries.

Knoop jou ballon toe.

Stap 4

Plaas jou blomballonbal nou in die vrieskas – maar voor jy dit doen probeer die blom binne-in die ballon te draai en posisioneer sodat die blom se gesiggie na die onderste punt of na ’n kant toe wys. Plaas dan versigtig die ballon in jou vrieskas.

Na ongeveer 12 ure sal jou blom-ysballe goed gevries wees. Knip eenvoudig die ballon (daar waar jy geknoop het) en rol die ballon af om jou mooie ysblom te sien.

Wenk: Om ’n groot ysbak vol te maak het jy ongeveer 15 tot 20 blom-ysballe nodig. Koop dus eerder gewone ys om onder in die ysbak te druk om die bak voller te maak en vertoon die mooi blom-ysballe bo op. Soos die ys smelt sal die pragtige blomme ontvou.

Psst, jy kan selfs vir kinderpartytjies klein diertjies in die ysballe vries. Klein dinosourusse vir ’n pret- aktiwiteit om die ys af te kap en die ge-ysde gediertes vry te stel.

Nog opsies:

Ons het dit nou nog nie self getoets nie – maar blom-ysballe hierin sal net so eenvoudig wees:

Takealot Giant Sphere Ice Tray (R400)
@home Joie Round Silicone Ice Tray (R179)
Yuppiechef Yoku Ice Ball Maker (R419)
Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Streepspirasie; gebruik strepe só in jou dekor
error: Content is protected !!