Hier is die twee heerlikste resepte vir lae-koolhidraat Kersfeespoedings deur Stylvol-vriendin en bekroonde kosredakteur en -skrywer Vickie de Beer.
Vickie de Beer het eksklusief vir Stylvol hierdie twee resepte ontwikkel, afgeneem en gestileer.
Lae-koolhidraat Kersfeespoedings: 1. Feestelike Panna Cotta
Bestanddele
Genoeg vir 4
Begin reeds die vorige dag met die nagereg om te verseker dat dit genoeg tyd het om te set.
Bedien die panna cotta met vars rooi bessies om dit nog meer feestelik te maak. Bessies is die beste lae-koolhidraatvrugte om te eet die feesseisoen. Frambose bevat slegs 5g koolhidrate per 100g en aarbeie slegs 6g, dit is boonop lekker, propvol vesel en bevat noodsaaklike vitamines soos vitamien C.
- 4 gelatienvelle (koop dit by Woolworths of bakwinkels)
- 150ml volroommelk
- 400ml room
- 60ml erythritol
- Gerasperde skil van 2 lemoene
- 60ml uitgedrukte sap van 2 lemoene
- 2 kaneelstokkies
- 100g gemengde rooi bessies vir die opdienslag
- 4 kruisementtakkies
Metode
- Week die gelatienvelle in ’n klein bakkie gevul met water vir ongeveer 5 min.
- Meng intussen die res van die bestanddele behalwe die bessies in ’n middelslag kastrol en plaas oor matige hitte. Laat die mengsel warm word maar roer dit die heeltyd om te voorkom dat dit oorkook. Trek die warm roommengsel van die hitte af sodra die erythritol gesmelt is en dit deurwarm is.
- Haal die sagte gelatienvelle uit die water en druk al die ekstra water met jou hand uit.
- Voeg die gelatien by die warm roommengsel in die kastrol. Roer tot dit heeltemal gesmelt is. Gooi die mengsel in 4 mooi opdienglasies, elk met ’n inhoudsmaat van 125ml. Laat heeltemal afkoel voor jy dit vir 6 ure of oornag in die yskas plaas om heeltemal te set.
- Tooi met vars bessies en kruisement net voor bediening.
Gelatiennotas:
Indien jy nie die gelatienvelle kan opspoor nie kan jy gewone poeiergelatien gebruik, die metode verskil net effens.
Gebruik 10g poeiergelatien. Gooi die lemoensap in ’n klein bakkie en sprinkel die gelatien bo-oor die sap. Laat dit 5 minute lank week (spons). Meng die res van die bestanddele (behalwe die bessies) in ’n middelslagkastrol soos hierbo verduidelik en laat dit warm word. Smelt die geweekte gelatien vir 30 sek. op die ontvriesstelling van die mikrogolf (herhaal indien dit nie heeltemal gesmelt is nie maar moet dit nie laat kook nie). Trek die roommengsel van die hitte af en voeg die gesmelte gelatien in ’n dun straaltjie by die warm roommengsel. Meng dit goed deur en gooi in die glasies soos bo verduidelik.
Lae-koolhidraat Kersfeespoedings: 2. Geurige Kersfeeskolwyntjies
Genoeg vir 9 kolwyntjies
In Nederland bak hulle graag koekies tydens die feesgety.
Hierdie koekies word kwistig gegeur met ’n unieke speserymengsel genaamd Speculaas.
Meng jou eie Speculaasmengsel en gebruik dit in al jou kersgebak. Jy kan ook net die Speculaasspeserye deur fyn gemaalde kaneel vervang as dit na te veel moeite klink.
Bestanddele
Vir die Speculaasmengsel:
- 40ml fyngemaalde kaneel
- 10ml fyngemaalde naeltjies
- 10ml fyngemaalde neutmuskaat
- 10ml fyngemaalde koljander
- 10ml fyngemaalde anys
- 5ml fyngemaalde gemmer
- 3ml fyngemaalde kardemom
Meng al die bestanddele saam en hou dit in ’n digsluitende botteltjie.
Vir die Kersfeeskolwyntjies:
- 200g botter, by kamertemperatuur
- 60g erythritol
- 6 eiers
- 5ml vanielje-ekstrak
- gerasperde skil van 2 lemoene
- 60ml uitgedrukte sap van 2 lemoene
- 140g amandelmeel (fyngemaakte amandels)
- 30g klapper
- 5ml sout
- 15ml Speculaasmengsel
- 5ml bakpoeier
Vir die versiersel:
- 125ml room
- 125ml mediumvet roomkaas
- 30ml erythritol
- 5ml Speculaasmengsel
- Voorverhit die oond tot by 200˚C. Voer ’n middelslag muffinpan uit met kolwyntjiepapiere.
- Meng die botter en erythritol in die bak van ’n elektriese menger en meng goed met die bakklitser tot lig en donsig. Voeg die eiers een vir een by en meng goed tussen elke toevoeging.
- Gooi die vanielje, gerasperde skil en sap by en meng goed deur.
- Meng al die droë bestanddele saam in ’n middelslagbak en voeg by die eiermengsel. Meng goed deur. Skep die kolwyntjieholtes ¾-vol met die deeg en bak vir 20min in die oond tot goudkleurig en gaar. ’n Toetspen wat in die middel ingedruk word moet skoon uitkom. Laat die kolwyntjies afkoel voordat jy dit versier.
- Meng die room en roomkaas saam met die erythritol en die Speculaasmengsel tot dik en romerig. Smeer die versiersel lekker dik op elke kolwyntjie. Plaas ’n sterkoekie bo-op elkeen indien jy wil of bedien dit net so.
Vir die spesery-kerskoekies
Genoeg vir 12 sterkoekies
Gebruik die koekies om die kolwyntjies te versier of maak klein gaatjies in elke sterretjies se bopunt met ‘n sosatiestokkie. Ryg ’n lintjie deur die gaatjie sodra dit klaar gebak en afgekoel is en hang dit aan die kersboom.
- 200g amandelmeel
- 60ml erythritol
- 15ml Speculaasmengsel
- 5ml bakpoeier
- knippie sout
- gerasperde skil van 1 lemoen
- uitgedrukte sap van 1 lemoen (30ml)
- 1 groot eier, liggies geklop
- 30ml botter, gesmelt
- Meng al die droë bestandele saam in ’n middelslag mengbak.
- Meng die lemoenskil-en-sap, eier en gesmelte botter saam in ’n ander bakkie of maatbeker. Maak ’n holte in die droë bestanddele en gooi die eiermengsel daarin. Meng die meel bietjie-vir-bietjie by die eiermengsel tot alles goed ingemeng is en ’n werkbare deeg vorm.
- Deel die deeg in twee dele en druk dit plat in ’n rowwe sirkel. Draai dit toe met kleefplastiek en sit vir 30 minute in die yskas.
- Voorverhit die oond tot by 180˚C. Voer ’n groot bakplaat uit met bakpapier.
- Rol die deeg tussen 2 velle bakpapier uit tot ’n dikte van 5mm. Druk sterre (of enige vorm van jou keuse) uit met ’n koekiedrukker. Lig die sterre versigtig op met ’n paletmes en pak dit op die voorbereide bakplaat uit. Herhaal met die res van die deeg.
- Bak die koekies vir 10-15min. of tot goudkleurig in die oond. Wees versigtig, die puntjies brand maklik. Haal uit die oond en laat afkoel (dit sal krakerig word as dit afkoel).
- Bedien die koekies bo-op die kolwyntjies of smul sommer net so daaraan.
Deel gerus Kersfeespoedings vir diabete met vriende of familie wat diabetes het.