Gebruik jou dogter se eerste menstruasie as die geleentheid om haar tot vrouwees te verwelkom. Oop eerlike gesprekke en praktiese raad, sonder enige ‘skaam’ is wat jou dogter sal help. ’n Ginekoloog en vriendinne gee raad. Deur Suzanne Kotzé
04/08/2023
Op ’n vriendinne WhatsApp groepie stuur ’n vriendin die volgende boodskap: “My meisiekind het sopas begin! Sy het sommer flou geword en haar lip oopgeval, so ons ‘skip’ maar vanoggend skool.” En net daar begin die gesprekke onder ons klomp vriendinne oor ons eerste keer (ons is almal skoolvriendinne, en was daar vir mekaar se eerstes!) “Skryf tog vir ons ’n artikel op Stylvol en gee raad asseblief.’
Verduidelik die menstruasieproses só aan jou dogter
En sommer aan jou seun ook. Hierdie is beslis nie meer ’n taboe-onderwerp of iets waaroor vroue of meisies skaam hoef te voel nie. Gebruik dit as ’n geleentheid om jou dogter tot vrouwees te verwelkom en te vier. Maak seker jou dogter weet dat dit nie iets is om oor skaam te voel nie, dat dit nie ‘vuil’ is nie en dat sy nou ook kan swanger raak.
Ginekoloog dr. Natalia Novikova verduidelik dit so
“Vroue se liggame is ontwerp om swangerskappe te dra. Ons ondervind hormonale veranderinge wat ons liggame voorberei vir swangerskappe. In die ou tyd het vrou babas gehad vanaf ’n jong ouderdom, maar dit is nie vandag meer so nie. Die meeste vroue word eers later in hul lewe swanger.
Ons baarmoeder is ’n deel van ’n vrou se liggaam wat aan die vagina verbind is, en dra die baba. Elke maand berei ons baarmoeder voor om swanger te word. As gevolg van hormonale veranderinge word die binnewande van die baarmoeder dikker sodat die baba hieraan kan vasheg. Omdat swangerskap dan nie gebeur nie, val jou hormoonvlakke en die binnewande van jou baarmoeder skei van die baarmoederholte en bloeding vind plaas. Sekere hormoonagtige stowwe word vrygestel en laat jou baarmoeder saamtrek om bloed/baarmoederwand (endometrium) uit te skei. Dit is waarom ons pyn en bloeding ervaar gedurende menstruasie.
11 Dinge waaroor julle kan gesels met of voor haar eerste menstruasie
1. Jy mag dalk meer buierig voel
Dit is as gevolg van hormonale veranderinge en is heeltmal normaal.
2. Dit kan seer of ongemaklik voel
Soos bo verduidelik, is hierdie as gevolg van die baarmoeder wat saamtrek om bloed uit te skei.
3. Reinig jou vagina soos gewoonlik
Jy hoef nie jou vulvale area anders skoon te maak as gewoonlik wanneer jy menstrueer nie. Vermy seep en ook spesiale wasmiddels wat vir hierdie area bemark word. Slegs water is voldoende.
4. Die algemene ouderdom van eerste menstruasie wissel van persoon tot persoon
Dit kan tipies enige tyd vanaf die ouderdom 10-15 jaar gebeur en daar is nie ’n regte of verkeerde ouderdom nie.
5. Kies doekies wat geurloos is
“Geurlose doekies wat bio-afbreekbaar is, is ’n goeie keuse. In my praktyk beveel ons gewoonlik Sheba Feminine doekies aan. Dit word plaaslik vervaardig deur vroue, is geurloos en bio-afbreekbaar. Dit is ook goed vir mense met sensitiewe velle of ekseem.”
6. Ruil jou doekies en tampons gereeld om
Met doekies sal dit afhang van hoe swaar jou menstruasie is. Sommige meisies sal dit dalk slegs elke ses tot agt ure hoef te vervang, en ander elke drie tot vier ure. As jy tampons gebruik, moet jy dit elke vier tot agt ure vervang. Ook afhangend van hoe lig of swaar jou vloei is.
7. Tampons
“Sodra jy gemaklik voel om ’n tampon in jou vagina te druk, kan jy dit gebruik. Daar is geen beperking op die ouderdom van tampongebruik nie,” sê dr. Natalia. Die grootte van jou tampon hang ook af van hoe swaar jy vloei. Gewoonlik begin dogters met die kleinste grootte en pas dit dan aan na gelang van hul vloei. “Die ‘applicator’ tipe tampons is beter om te gebruik vir beginners. As jy egter net ’n gewone tampon byderhand het, kan ’n klein bietjie smeermiddel (nie petroleumjellie nie!) op die voorpunt gesit word om die inglip proses te vergemaklik.
8. Een tot sewe dae
“Menstruasie kan enige iets van een tot sewe dae aanhou.” Dr. Natalia
9. Wat is PMS?
Dit verwys na ’n hele aantal simptome as gevolg van hormonale verandering wat vroue een tot twee weke voordat hulle siklus begin, ervaar. Die simptome sluit in buierigheid, opgeblasenheid (bloating) irritasie, moegheid, teer borste, hoofpyn en die lus vir sekere kosse soos soetgoed. Sommige vroue ervaar glad nie PMS nie. Die simptome hou gewoonlik op sodra jy begin menstueer.”
10. ‘Period panties’ is handig
‘Period panties’ is handig, goed vir die omgewing en veral gewild wanneer sport beoefen word.” Dr. Natalia.
‘Period panties’ het ’n spesiale voering in om super absorberend te wees. Sommige meisies dra dit in plaas van ander sanitêre produkte of saam met ander sanitêre produkte soos doekies of tampons as hulle ’n swaar vloei het. Die kombinasie van ander sanitêre produkte en period panties is ook goeie slaap opsies vir meisies met ’n swaar vloei.
11. Menstruele koppies
“Menstruele koppies is ’n koste-effektiewe opsie, aangesien jy net een koppie benodig. Jy moet dit wel gereeld leegmaak, so toegang tot water is baie belangrik.” Dr. Natalia. Van die ma’s met wie ons gepraat het is mal daaroor, en ander beveel dit weer nie aan as jou dogter baie grillerig vir bloed is nie. Oulike sketsies hoe om die koppies in te sit hier:
Vriendinne se wenke
“Ek het vir my dogters ’n sakkie opgemaak toe ons bang was dit gebeur in die koshuis. Vier doekies, indivueel toegedraai (Kotex Teens is oulik), ’n pakkie wipes, en ’n strippie Panado.”
“My dogter is nie gemaklik met tampons nie, vir saans het ek vir haar spesifieke ‘night pads’ gekry om mee te slaap.”
“Die ‘period panties’ werk baie goed vir die lekkery saans.”
Menstruasie produkte
’n Mens kry deesdae oulike ‘first period boxes’ wat jy hou tot jou dogter se eerste keer aanbreek. Jy kan natuurlik ook jou eie bymekaarsit indien jy sou wou.





