Ons almal weet watter ongelooflik krag geur het en dit is asof die skeppers van die nuwe fyngeure hul bes probeer om ons gelukkig te laat voel. Hierdie nuwe fyngeure gaan jy beslis op jou wenslysie wil skryf! Hulle is somers, vars en anders. Deur Suzanne Kotzé
Sonnige en vreugdevolle Hermés Twilly Eau Ginger
Die bottel is so ’n goeie weerspieëling van hoe hierdie geur ruik, Dis asof die bottel met sy vrolike Hermés Twilly serp aan, ook vreugdevol en sonnig is!
Toe Hermés die Twilly serp in die 1930’s ontwerp het, is hierdie lang, dun syserpe deur vroue gedra wat daarvan hou om anders en ’n tikkie meer speels te wees.
Hierdie serpe (wat ook deur die bottel gedra word) was die inspirasie vir die reeks Twilly geure. Eau Ginger is die derde fyngeur in die reeks. Dit ruik heeltemal anders as die meeste ander fyngeure wat ons die afgelope tyd geruik het, en op ’n goeie manier. Kyk jy na die die hoofnote van pioenroos, versuikerde gemmer en sederhout, verstaan jy hoekom. Die skerper geur van gemmer word nie gewoonlik in vrouegeure gebruik nie. Die skerpheid van die gemmer word gebreek met die soeter geur van pioenroos.
“In 2021 het fyngeur ’n nuwe funksie: Dit moet soos ’n borrel van plesier wees wat jou omvou.”
Skepper van die geur Christine Nagel
Lewenslustige Abercrombie & Fitch Naturally Fierce
Volgens Abercrombie & Fitch is Naturally Fierce meer as ’n fyngeur. Dit is ’n geur wat jou nooi om te lag, lief te hê en jouself te wees. En dit kan jy ook sien aan die bottel met die spieëltjie op die voorkant waarin jy jouself kan sien.
Ruik jy die geur, voel dit soos vakansie en dit is danksy die kokosneut wat as middelnoot gebruik word.
Van die ander note wat gebruik word is kaktuswater, soet agave, lemoenbloeisels en sandelhout. Dit klink vir ons kompleet soos die resep vir ’n nuwe mengeldrankie!
Wolkie van geluk; Nuxe Prodigieuse Florale
Die skeppers van Prodigieuse® Florale sê dat met hierdie geur hulle jou wil uitnooi om om op ’n klein pienk wolkie van optimisme te wil sweef terwyl jy alle bekommernisse agterlaat. Van die note wat gebruik is is sitrus; pomelo, suurlemoen en bergamot. Die hart of middelnote van die geur is bloesende Magnolia en lemoenbloeisels terwyl muskus die basisnoot is. Die geur is veganisties.
En natuurlik is die Huile Prodigieuse® Florale dry oil fantasties om saam met die geur te gebruik.
Klassiek dog moderne Chanel N°5 L’EAU
L’EAU is ’n veel varser fyngeur as die oorspronklike N°5. As jy nog altyd baie graag van die ikoniese N°5 wou hou, maar dit net nie gewerk het vir jou nie, probeer gerus Chanel N°5 L’EAU. Of as jy mal is jou oorspronklike N°5 kan L’EAU ’n goeie somergeur wees om jou N°5 mee af te wissel. Suurlemoen, mandaryn en lemoen is saam met N°5 se kenmerkende aldehiede gebruik. Roos, jasmyn en ilang-ilang is die blommerige middelnote terwyl wit muskus die basisnoot is. Die verpakking het ook ons hart gesteel.
Tuingeur met Poetry The Botanical Tonic
Hierdie fyngeur laat ons voel of ons vroegoggend in ’n mooi tuin rondloop en botaniese aromas ruik. Lemoenbloeisels is van die note wat jy ruik. Volgens Poetry het hulle 20% essensiële olies gebuik in plaas van die standaard 15% sodat die geur langer moet aanbly. ’n Goeie sakpasopsie vir jou elkedagse geur.
Goedvoel fyngeur; Rochas Girl
Rochas Girl laat ons sommer gelukkig voel. En hierdie goedvoelgeur is so geformuleer om presies dit te doen. Dit bevat lemoenblomolie wat dele van ons brein aktiveer wat met vrede en kalmte geassosieer word. Die geur ruik heerlik vars, dog vroulik. Die lemoenblomolie en jasmyn kom beslis na vore, sonder om te vars of te soet te wees. Sederhout gee diepte en houkrag aan die geur. 90% van die bestanddele is van natuurlike oorsprong en die fyngeur is ook veganisties.