Wonder jy watter stappe jou aand-velsorgroetine moet bevat? Dit hoef nie altyd ewe veel of ewe min te wees nie. Deur Suzanne Kotzé
Dermatoloog dr. Suretha Kannenberg vertel watter stappe in haar aand-velsorgroetine sy nooit sal mis nie
“Ek sal nooit ooit ’n gesigwas mis nie, want ’n mens kan nie met ’n gesig vol grimerig gaan slaap nie. Ek sal nooit my retinol (serum en oogroom) en nooit my vogroom misloop nie.”
Jou aand-velsorgroetine: Stap 1: Verwyder grimering (opsioneel, as jy nie grimering dra nie)
Dit maak dit soveel makliker as jy eers jou grimering verwyder voordat jy jou gesig was.



Olie-grimeerverwyderaar is ’n moet as jy waterdigte maskara dra.
Ons gunsteling kombinasie is misselwater en ’n grimeerverwyderingslappie.

Ons het al gereeld oor die Glov Makeup Remover Glove geskryf (R235, vir die Glov Travel Set). Jy kan dit bloot saam met kraanwater ook gebruik en die spesiale materiaal verwyder jou grimering. Ons verkies egter misselwater aangesien ons kraanwater se kwaliteit soms te hard is.
Stap 2: Reinig sagkens
Gebruik ’n reiniger wat sagkens werk. Jou serum of nagroom het waarskynlik klaar aktiewe bestanddele in, hou daarom jou reiniger so eenvoudig moontlik. (Tensy jy met aknee of ’n olierige vel sukkel.

Stap 3: Tonikum of ‘essence’ (opsioneel)

’n Tonikum help om enige oortollige grimering te verwyder, maar dit is nie regtig nodig as jy reeds gedubbelreinig het nie of as jou reiniger reeds pH gebalanseerd is nie. ’n ‘Essence’ help weer dat die produkte wat jy volgende aanwend, beter penetreer.
Stap 4: Serum (opsioneel)



Kies ’n serum wat jou vel se spesifieke behoeftes, soos byboorbeeld pigmentasie of hidrasie, aanspreek. Ons is groot hialuroonsuurliefhebbers en is van mening dat die meeste velle ( ja selfs olierige velle ook) kan baat vind by ekstra hidrasie. Onthou, tik jou serum met ‘klaviervingers’ aan en borsel solank jou tande voordat jy nagroom aansmeer.
Stap 5: Nagroom

Moenie sommer net jou dagroom saans aansmeer nie. Die tekstuur van jou dagroom is gewoonlik effens meer loperig en dit bevat ook dikwels sonbeskerming. Aandrome is geformuleer om saans te werk, terwyl sekere hormone en siklusse geaktiveer is. Dit bevat ook dikwels meer aktiewe bestanddele wat werk terwyl jy slaap.
Stap 6: Oogroom
Tik jou oogroom aan. Onthou die vel rondom jou oë is dunner en meer sensitief en benodig daarom ekstra sorg.

V Shaping Facial Lift Eye Concentrate (R855, Clarins.co.za)


Stap 7: Retinol (opsioneel)
Soos dr. Suretha is ons groot Retinol aanhangers. Van die voordele sluit in vinniger selhernuwing (soos ons ouer word, neem selhernuwing af), nuwe kollageen word gevorm (teen-verouderend), dit versprei melanienkorrels (wat met pigmentasie help) en dit is komedolities. Laasgenoemde beteken dat dit daardie groot blindepuisies (wat gebeur omdat olie en dooie velselle in jou porieë ophoop) help voorkom.

Stap 8: Olie (opsioneel) of balsem
Met TikTok se ‘skin slugging’ trend het olie of balsem bo-oor jou nagroom opnuut weer aandag geniet. Jy smeer basies ’n oklusiewe produk (wat gewoonlik petroleumjellie bevat) bo-oor jou nagroom. Dit seël die vog in. Ons gebruik self graag olie of balsem, veral gedurende die winter wanneer ons met droogheid sukkel. Dit is nie noodwending ’n stap wat ons sou aanbeveel vir diegene met vel wat met olierigheid of puisies sukkel nie.


