Met die besige sosiale seisoen is ons meer as ooit bewus van ons persoonliheidstipes. Introverte (wat waarskynlik stokflou is van al die sosiaalverkeer) en ekstroverte (wat energiek voel na sosiale verkeer). Amerikaanse psigiater Rami Kaminski het egter ’n nuwe nuwe persoonlikheidstipe, die otrovert gedefinieer. Maar wat is ’n otrovert? Deur Suzanne Kotzé
Wat is ’n otrovert?
Die woord is afkomstig van die Spaanse ‘otro’ wat ‘anders’ beteken.
Dink aan iemand wat voel asof hulle nie heeltemal inpas nie, nie omdat hulle skaam of onvriendelik is nie, maar omdat hulle nie resoneer met die gewone groepsdinamika nie.
In sy boek The gift of not belonging vra dr. Kaminski:

- “Was jy die kind wat nooit aan skoolklubs behoort het of op uitslaapkampe wou gaan nie?
- Haat jy partytjies, maar jy is mal daaroor om een-tot-eentyd saam met vriende te spandeer?
- Is jy allergies vir spanwerk, maar floreer kreatief en profesioneel as jy alleen werk?
- Sukkel jy om in te pas?
Dan is jy waarskynlik ’n otrovert.
Volgens hom is otroverte nie natuurlike gebore samekommers nie. Anders as introverte, is hulle nie skaam of stil nie, en word nie gou moeg van een-tot-een sosialisering nie. Tog voel hulle in groot groepe ongemaklik, vervreemd en alleen.
Dr. Kaminski maan egter dat ‘otroverte’ nie nog ’n etiket moet word wat sekere mense van ander onderskei nie. “My doel is om te wys hoe mense wat nie behoort nie (nonbelongers) die menslike tappiserie kan verryk.
Om ’n otrovert te wees, is soos om links te wees of musikaal te wees,” sê hy.
“My werk gaan daaroor om die van ons wat sukkel om in te pas, vryheid te gee om hulle eie paadjie uit te kerf.”
Hoe verskil ’n introvert, ekstrovert en otrovert?
Kom ons vergelyk ’n otrovert met Jung se ekstrovert en introvert persoonlikheidstipes
Introvert
- Voel tipies inwaarts georiënteerd: hul energie, gemak en fokus kom gewoonlik van alleentyd of baie klein, noue verhoudings.
- Groot sosiale byeenkomste of uitgebreide sosiale stimulasie kan hulle uitput; hulle het dikwels stiltetyd nodig om te herlaai.
- Tog voel selfs introverte gewoonlik ‘n mate van samehorigheid – hulle bestuur net hul energie en sosiale kontak meer selektief.
Ekstrovert
- Put energie uit eksterne stimulasie: sosiale interaksie, groepsbetrokkenheid, gedeelde ervarings.
- Voel gemaklik, selfs energiek, in groepomgewings; geniet dit dikwels om tussen mense te wees, deel te wees van spanne of gemeenskappe.
- Sosiale behoort en verbintenis is geneig om meer saak te maak, aangesien sosiale terugvoer en interaksie hulle energie gee.
Otrovert
- Mag uiterlik vriendelik of sosiaal bekwaam voorkom; hulle kan geleenthede bywoon, goed interaksie hê en selfs sosiale stimulasie geniet.
- Hulle verkry nie hul gevoel van self of emosionele onderhoud van lidmaatskap in ’n groep nie. Hulle voel dikwels emosioneel afgesonderd of “anders”, selfs wanneer hulle deur mense omring word.
- Hulle herlaai nie deur eensaamheid of deur sosiale energie per se nie, maar deur onafhanklike denke, introspeksie of betekenisvolle een-tot-een-verbindings – verhoudings wat op keuse gebou is eerder as behoort.
- Meer as om “in die middel” te wees, verteenwoordig hulle ’n ander oriëntasie: nie inwaarts of uitwaarts gekeer in die klassieke sin nie, maar uitwaarts in ’n ander rigting; na individualiteit, egtheid en “andersheid”.
Dan is daar natuurlik ook nog ekstrovertiese introverte; introverte wat onder die regte sosiale omstandighede meer ekstroverties kan voorkom.
En ook ambiverte, wat ekstroverte is wat gemaklik rondom beide die introvert en ekstrovert spektrum rondbeweeg.
Dat daar al hoe meer mense is wat voel of hulle nie inpas nie, is ’n feit. Veral as ’n mens dink in terme van vêrregses en -linkses, waar jy dalk voel of jy nie inpas by een van die twee nie.
Die term otrovert is egter baie nuut en is bloot op een psigiater se navorsing gegrond. Dr. Kaminski assosieer ook self as ’n otrovert. So kom ons kyk of nog navorsing hieruit volg.
As jy nuuskierig is oor of jy dalk ’n otrovert is, doen gerus hierdie vraelys.





