Al ooit gewonder of jy jou blosser reg aanwend? Grimeerkunstenaars deel hul beste blosser wenke, die moets, die moenies plus hul heel gunsteling blosserprodukte. Saamgestel deur Justine Kroes
01/11/2024
9 Beste Blosserwenke
1. Pas jou blosser by jou veltipe aan
Grimeerkunstenaar Cheryl Parker verduidelik hoe jy jou blosser by jou veltipe kan aanpas: Op dou-agtige, glansende vel, kies ’n roomblosser wat natuurlik met die vel sal “saamsmelt”. Vir ’n mat of minder glansende vel, gebruik ’n mineraalblosser vir ’n tikkie ekstra glans. Vir jonger vel raai Cheryl ’n jel of vloeibare blosser aan wat die vel effens sal vlek en so ook baie natuurlik laat lyk.
2. Pasop vir die verkeerde blosserkwas
Grimeerkunstenaar Madeleine Janse van Rensburg sê klein kwassies (nes daardie wat in jou blosser kompak kom), maak dit moeilik om die blosser uit te meng sonder harde lyne. ’n Kwas of borsel wat te groot is maak dit weer moeilik om die plasing en hoeveelheid produk akkuraat aan te wend en meng dit boonop te ver uit.
Madeleine sê dit is belangrik dat jy ’n lekker, sagte kwas het, in ’n koepel vorm, sodat die meeste van die produk vanaf die middel aangewend word en die kwas die produk egalig uitmeng.
Tik bietjie die kwas af nadat jy dit in die produk geplaas het om seker te maak dat daar geen harde lyne is wanneer jy die kwas op jou vel neersit nie, verduidelik Madeleine.
3. Blosser kan jou gesigvorm verander
Let op waar (en hoe) jy blosser aanwend, verduidelik Madeleine “Ons vergeet soms dat blosser deel is van die kontoerstap in jou grimeerroetine. Wanneer jy dit te laag aangewend word, trek dit die gesig af en lyk dit asof dit hang, en te hoog lyk jou gesig ongebalanseerd”
Cheryl sê “indien jy ouer as 40 is behoort jy nie op die appels van jou wange (na ondertoe) blosser aan te wend nie – hierdie metode trek die gesig af ondertoe”. Cheryl se raad – wend jou blosser aan jou wangbene aan en “blend” of meng op en uitwaarts na jou slape (tempels) toe vir ’n “gesig lig” tegniek wat meer jeugdig sal voorkom.
Madeleine stem hiermee saam – Plaas die kwas bo-op die appel van jou wang en meng uit (en opwaarts) na die bokant van jou oor om die wang te lig vir ’n jonger voorkoms.
4. Lipstiffie as blosser? Ja beslis!
’n Bietjie langhoudende (longwear) lipstiffie (soos Maybelline Superstay Matte Ink Liquid) kan ook gebruik word as blosser. Sit ’n tikkie daarvan op jou hand en vee die kwas liggies oor die produk. Maak seker jy gebruik min op ’n slag, jy kan altyd liewers nog ’n lagie byvoeg, en meng egalig uit is Madeleine se raad.
5. Die nuwe blossertruuk
Madeleine verduidelik “om ’n songesoende glans te kry, daardie voorkoms wat so lyk asof jy ’n ontpsannende dag in die son by see spandeer het, wend blosser op jou wange, lippe, haarlyn, ooglid en selfs saggies oor die neus aan. Hierdie blossertruuk is tans hoogmode.
6. Regte kleur is belangrik
Sagte roospienke is vleiend vir die meeste velkleure, maar as jy bietjie wil speel met kleur, is dit die veiligste as jou natuurlike ondertoon ooreenstem met die blosser om dit so na as moontlik aan jou natuurlike gloeiende glans te kry, verduidelik Madeleine.
As jou vel ’n warmer ondertoon het (jou are skyn groen deur op jou polse/ jy word maklik bruin in die son), is ’n sagte koraal, appelkoos, of kleur met ’n goue pêrelglimmer ’n veiliger opsie om jou vel natuurlik te laat lyk.
Ligte velle met koel ondertone (jou are skyn pers deur/ jy brand maklik in die son), gebruik kleure van magenta, bessie, of laventelpers ondertone is Madeleine se blosser-kleurwenke.
7. Maar … moenie bang wees vir kleur nie
Dit bygesê, moenie bang wees vir kleur nie. Sommige van die helderste kleure het die mooiste effek op jou vel, maar jy gaan nie weet tot jy dit probeer nie! Van bloedrooi tot borrelgompienk of bessiepers.
Eksperimenteer met al die pragtige blosserskakerings op die spektrum. Om te toets, wend bietjie vir bietjie aan en speel rond totdat jy die kleur kry wat jou laat gloei! Is Madeiiene se raad.
8. Glinsterend? Hou liefs verby
Madeleine waarsku “Pasop vir blossers wat te veel pêrel of growwer glinsterstukkies bevat wanneer jy ouer is. Te veel blink beklemtoon die fyner lyntjies op jou vel. Jy kan dit liewers later byvoeg met verhelderaar (highlighter) bo-op die wangbene indien nodig.
Dieselfde geld vir produkte met ’n wit, digte, poeierbasis wat lyk of dit bo-op die vel sit. Hoe ouer ons raak, hoe meer belangrik is dit om bevogtende produkte te gebruik wat jou vel glansend gesond met ’n natuulike gloed laat. Madeleine
9. Verbronser as blosser – uit by die deur!
Om jou verbronser as blosser te gebruik, is by die deur uit saam met geteasde kuiwe en neongroen beenverwarmers sê Madeleine.
5 Gunsteling blossers:
1. MAC Cosmetics Mineralize Blush in Warm Soul (R550)
Madeleine sê hierdie blosser is ’n sagte, warm, pienkerige perskekleur met ’n ligte goue pêrelglimmer wat by die meeste velkleure pas. Dis ’n fyngemaalde formule met minerale wat ’n natuurlike, deursigtige voorkoms gee. Wend dit lagie vir lagie aan totdat jy gelukkig is met die diepte van kleur.
2. Maybelline Cheek Heat Gel (R183,39)
Hierdie waterbasisformule bevat Vitamien E wat die vel deurlopend voed, plomp en gehidreerd hou terwyl dit gedra word om n natuurlike, gloeiende afwerking te gee. Die formule is ’n jel-tekstuur en die kleur is subtiel genoeg sodat jy dit met jou vingers kan aanwend deur die loop van die dag is Madeleine se raad.
3. Dior Backstage Rosy Glow Blush (R915)
’n Pragtige ligpienk skakering in ’n sagte poeierformule wat reageer met jou vel se pHvlakke wat dan aanpas by elke velkleur se natuurlike skakering sê Madeleine.
4. NARS Talc Free Blush (R820)
NARS is al jare lank bekend vir hulle blosser en is gereeld die topverkoper in Amerika. Die Nars Orgasm blosser bevat kleurpigmente van hoë gehalte om te verseker dat die kleur wat jy in die pannetjie sien, die kleur is wat jy op jou vel sal sien verduidelik Madeleine.
5. Revlon Illuminance Serum Gel Blush – Striking Rose (R240)
Lieflike romerige blosser, is heerlik lig op jou vel en gee ‘n natuurlike glansende en blosende gelaat. Tik maklik en vinnig met jou vingerunte aan – ‘n ware handsak stapel!