Het jy al die video van Nightbirde gekyk? Die sangeres Jane, wat onder die naam Nightbirde sing, het almal emosioneel en geïnspireerd laat voel. Maar wie is Nightbird? Deur Suzanne Kotzé
Nightbirde op America’s got Talent
Op Dinsdag (8 Junie) se America’s got Talent -program het die sangeres Jane, wat onder die naam Nightbirde sing, almal (selfs Simon Cowell) emosioneel gelaat.
Voordat sy begin sing vertel sy aan hulle sy dat sy die afgelope ruk werkloos was omdat sy kanker gehad het (en steeds het in verskeie dele van haar liggaam). Sy sê dan aan die beoordelaars dat sy dink dit is belangrik dat mense die volgende moet weet:
“Ons is soveel meer as die slegte dinge wat met ons gebeur het.”
Sy sing haar eie delikate dog baie kragtige liedjie “It’s Okay”. Van die beoordelaars is duidelik emosioneel.
Na haar liedjie uiter sy die treffende woorde:
“You can’t wait until life isn’t hard anymore before you decide to be happy,”
Nadat sy die ‘ja’ van elkeen van die ander gekry het, sê Simon Cowell dat dit nie ’n ‘ja’ van hom is nie; hy staan dan op en druk die Golden Buzzer.
Elke beoordelaar mag die Golden Buzzer net een keer per seisoen druk. Dit stuur die deelnemer outomaties deur na die volgende ronde, ongeag die ander beoordelaars se stemme.
Kyk die video hier:
Maar wie is Nightbird
Die dertigjarige Jane Marczewski kom van Ohio in Amerika en het op die ouderdom van dertig reeds drie keer kanker gehad.
Op haar blog nightbirde.co skryf sy op 12 November 2020 dat sy op Nuwejaarsdag met terminale kanker gediagnoseer is. Sy is net ses maande gegee om te leef en het ’n 2% kans om te oorleef. Maar byna 18 maande later deel sy tog met almal hierdie week op America’s Got Talent dat “2% nie niks is nie.”
Sy skryf hoe haar pa haar vasgehou het die oggend nadat sy van haar diagnose uitgevind het. Hy het gesê:
“Jy sal altyd my dogter met die miljoen dollar glimlag wees.”
Na twee weke het haar man, wat sy as die liefde van haar lewe beskryf, gesê hulle huwelik is verby. Sy skryf hoe sy en haar broer na haar egskeiding in die hof ’n pelgrimstog na die woestyn onderneem het waar sy ’n begrafnis vir haar huwelik gehou het.
Sy het haar huweliksertifikaat en troupande in die woestyn-sand gesit en die huweliksertifikaat aan die brand gesteek.
“Ek het die sand oor die gebrande as gestrooi en ’n plat wit steen bo-op gesit. Terwyl ek stil tussen die kaktusse gestaan het, is my broer terug kar toe. Ek wou nie my ou lewe of die ringe terughê nie, maar dit was moeilik om afskeid te neem.
Sy vertel hoe haar badkamervloer die plek geword het waar sy kon wegkruip, kon skree en aaklig wees. Haar een blog is getiteld. “God is on the bathroom floor”. Sy het aande in haar bad omgeslaap met haar kop op die toilet. “Selfs op dae wat ek nie siek is nie, lê ek soms op my badkamermatjie want dit voel vir my of God daar is,” skryf sy.
Daar is tye dat ek gewonder het wat ek gedoen het om so ’n storie te verdien. Soms vrees ek dat wanneer ek doodgaan en vir God ontmoet hy sal sê dat ek hom teleurgestel het of Hom gefaal het. Een ding is egter seker: “Hy kan nooit sê dat Hy my nie geken het nie.