Fyngeur-en-tee uitstappie; Diptique ervaring by Labotessa

Hierdie is nou ’n wonderlike idee vir ’n vriendinne-uitstappie; fyngeur en tee met ’n lieflike Diptique geurervaring by die luukse Labotessa-hotel, in die hartjie van Kaapstad. Deur Suzanne Kotzé

Vandat ons boekklub in ’n kultuurklub verander het, is ek altyd op soek na nuwe ervarings saam met vriendinne en was ek nou bly toe ek genooi is vir ’n Diptique-ervaring by die luukse boetiekhotel, Labotessa. Nou wil ek natuurlik saam met my vriendinne, en sommer my ma en sussie ook, gaan.

Meer oor die Diptique ervaring by Labotessa

Jy dink dalk Diptique en tee by een van Kaapstad se luukste boetiekhotelle is buite jou prysklas, maar teen R650 per persoon, neem Labotessa beslis ook die van ons wat nie in Euros of dollars verdien nie, ook in ag.

As jy by Labotessa aankom, word jy met ’n glas Cap Classique in die Diptyque-boetiek (die enigste boetiek in Afrika!) verwelkom. Terwyl jy byna in ’n geurbeswyming ingaan en jouself verwonder aan al die Diptyque-produkte wat hier beskikbaar is, leer jy tydens ’n kort praatjie meer oor Diptyque. (Luuks en ekskluslief!).

Daarna gaan jy na die pragtige Café of Terrace, afhangend van die weer, waar jou tee- en geurervaring op jou wag.

Jy kies jou geur tee na gelang van jou gunsteling parfuumnote.

Selfs die heerlike versnaperinge het note van verskillende Diptique fyngeure.

Jy kry ook ’n bederfsakkie met produkte ter waarde van R1100. Jy moet (minstens 24 uur) vooraf bespreek, nie meer as ses persone op ’n slag nie, en dit is tussen 11:00 en 14:00 beskikbaar.

Luukse Labotessa

Wat ’n pragtige gebou; een van Kaapstad se mooistes en oudstes (1700’s). Jy verbeel jou sommer jy is in Europa iewers, maar met die tipiese Kaapstad-middestad flair. Die algemene bestuurder en eienaar, Johan du Plessis, is ’n Vrystater met ’n passie vir luukse detail.

Labotessa vermeng die ryk geskiedenis van Kaapstad met kontemporêre luukshede.

Bespreek gerus ’n Uber (parkering is min) en geniet ’n oggend, omvou in ’n geur en smaakparadys. Dit is ’n ervaring wat jou beslis sal bybly.

Besoek gerus www.labotessa.com e-pos stay@labotessa.com, of skakel +27 (21) 010 6600

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Ons dra nou kêrelbaadjies (boyfriend blazers)
error: Content is protected !!