Die onlangse Beckham familiedrama het baie van ons bewus gemaak van familie-vervreemding. Maar wat is dit en hoe kan ons dit in ons eie families verhoed? Deur Welstand-praktisyn, Dr Liezl Byliefeldt.
“If you have never been hated by your children, you haven’t been a parent.”
Bette Davis
Maar wat as daardie haat tot vervreemding lei? Die onlangse skeuring in die beroemde Beckham-gesin toe Brooklyn op Instagram sy mond uitgespoel het oor sy ouers, David en Victoria, en alle kontak verbreek het, het wyd opspraak in die sosiale media gemaak.

Familie-vervreemding
“Parental estrangement/alienation” of familie-vervreemding gebeur nie net in Hollywood met glanspaartjies nie. Die verskynsel kom al oor generasies heen voor, maar die stigma daaraan verbonde het in die verlede gesorg dat daar nie juis daaroor gepraat word nie. In die moderne era van sosiale media en die bevordering van identiteit en outonomiteit, is dit ’n verskynsel wat nou makliker gerapporteer word. Wêreldwyd is geen familie gevrywaar nie en ook in Suid-Afrika is die statistiek van familie- vervreemding ontstellend hoog.
Die effek van familie-vervreemding op ouers is verwoestend en die gevoel van verlies word gelykgestel daaraan om iemand aan die dood af te staan.
Vir die party wat die vervreemding inisieer, is dit eweneens traumaties en gewoonlik die gevolg van jare se mislukte pogings om gesonde grense te trek, ’n eie identiteit te vestig en egte konneksie te bou of behou.
Vervreemding manifesteer op ’n kontinuum. In die minder ooglopende gevalle behels vervreemding ’n emosionele losmaak (“detachment”) en is daar steeds ’n mate van kontak. In die ergste vorm is vervreemding ’n totale verwydering (“estrangement”) op ’n fisiese vlak en alle kontak en familiebande word verbreek.
Alhoewel familie-vervreemding in die meeste gevalle deur volwasse kinders geïnisieer word, is daar tog beskermmaatreëls wat ouers vroeg reeds in hulle verhouding met hulle kinders kan inbou. Die antwoord lê in positiewe ouerskap.
Wat is positiewe ouerskap?
Positiewe ouerskap stam vanuit die positiewe sielkunde, ‘n sub-dissipline van sielkunde. Dit behels verhouding-gefokusde ouerskap wat ’n kind holisties (dus fisies, emosioneel en geestelik) versorg, ondersteun en lei – en dit vereis wedersydse respek op ’n ouderdomstoepaslike wyse.
Daarteenoor staan ouerskap wat op hiërargiese gesag staatmaak, vrees inboesem en kinders se aksies en besluite beheer. Sleutelbeginsels vir positiewe ouerskap behels positiewe dissipline, effektiewe en duidelike kommunikasie, empatie en konneksie, die stel van duidelike en regverdige grense asook pro-aktiewe hantering van sake voor dit problematies raak.
Wat kan ouers prakties doen?
’n Sterk ouer-kind verhouding is die fondament vir positiewe ouerskap. Hier is ’n paar praktiese wenke:
Tyd
Kwalilteit oor kwantiteit klink soos ’n cliché, maar is steeds waar. Dis belangrik dat kinders ervaar hulle is ’n ouer se tyd en onverdeelde aandag werd.
Kommunikasie
Luister eers, en praat dan. Maak oogkontak en los waarmee jy besig is as jou kind gesels en neem deel aan die gesprek. As ’n kind nie die vrymoedigheid het om oor die onbenullige dingetjies (in ’n ouer se oë) te praat nie, is die kanse skraal dat hulle later die ouer sal vertrou met gewigtiger sake.
Fisiese kontak
Aanraking is belangrik, maar nie alle kinders is ewe gemaklik met fisiese kontak nie. ’n Vriendelike glimlag skep ook warmte en wys aanvaarding. Drukkies en glimlagte is goud werd!
Emosies
Kinders ervaar ook sterk en soms ongemaklike emosies wat hulle nie altyd verstaan of die vaardigheid het om te hanteer nie. Deur met jou kind te praat oor gevoelens, help hulle om die emosie ’n naam te gee, dit dan vorentoe te herken en die gevoel te normaliseer en so ’n sosiaal aanvaarbare manier te vind om daaraan uiting te gee.
Vier vordering
Elke klein en groot stap in die regte rigting moet gevier word of ten minste positief erken word. Dit kweek ’n gevoel van sukses, bevorder selfvertroue en bou momentum vir verdere sukses.
Geduld
Kinders vorder nie almal ewe vinnig nie en ‘n bietjie geduld laat hulle toe om hulself te vind en te vestig. ’n Veilige ruimte waarbinne hulle ontwikkel skep ’n positiewe omgewing waarbinne hulle kan groei en floreer.
Wat moet ouers vermy?
Helikopter ouerskap

Oormatige kontrole verhinder dat ’n kind sy of haar eie identiteit vestig wat dan later op rebelsheid of oormatige afhanklikheid kan uitloop.
Stootskraper ouerskap

As ouers alle struikelblokke vir die kind uit die weg ruim en letterlik die lewenspad gelykmaak. Dit inhibeer kinders se vermoë tot probleemoplossing en onafhanklikheid en verhinder veerkragtigheid.
Voordele van positiewe ouerskap
Die navorsing wys dat die voordele van positiewe ouerskap verreikend is. Vir die kind lei dit tot beter geesteswelstand en hoër selfwaarde, gesonder interpersoonlike verhoudings asook beter self-dissipline. Die ouer ervaar verhoogde vlakke van selfvertroue en dit verminder die kanse op spanning tussen ouer en kind omdat die magstryd afwesig is. Dis ’n wen-wen situasie met die pluspunt van ‘n verhouding wat die volwasse jare kan deurstaan.
Dr Liezl Byliefeldt is ’n welstand praktisyn, afrigter, fasiliteerder en spreker





