Hierdie glanstyke Kerstafel het ’n ‘bling’ faktor, sonder om te oordadig te wees en het steeds ’n aardse gevoel. Deur Frans van Wyk van Franseman en Kalinka Lombard en Heloise Louw van The Home Collective. Verwerk deur Suzanne Kotzé. Foto’s: Diaan De Beer
09/12/2022
Poeier en blospienk met tikkies sagte goud vir ’n glansryke Kerstafel
“Die gebruik van poeier- en blospienk met tikkies sagte goud is baie geskik vir ’n Suid- Afrikaanse Kersfees omdat dit ’n vars en koeler gevoel gee. Die toevoeging van mooi eetgery in goud en goue kerse op donker koper kersstaanders, maak dit aards en tog bring dit die ‘bling’ faktor. Presies wat jy verwag van Kersfees,” sê Frans van Wyk van Franseman in die Paarl.
“Die blink van Kersfees is geïnspireer van die Betlehemster se blink en daarom moet elke tafel so ‘n bietjie kan straal.”
Ouderwetse blomme ‘garland’ en kerskrans.
Frans van Wyk, van Franseman het die pragtige blomme gedoen en verduidelike meer oor die blomme.
Ouderwetse blomme
Die tafelblomme is gedoen deur ’n ouderwetse ‘garland’ (krans) te skep met dodder, seder en bosse vol gipskruid (Gypsohilia) wat liggies bespuit is met pienk spuitverf.
Wenk
Deur die blomme saggies te bespuit van ’n afstand van 60 sentimeter af kry jy ’n baie natuurlike voorkoms. Die ‘garland’ is assimmetries op die tafel rangskik om spasie te skep. Met die toevoeging van klein poeierpienk varkoortjies (Zantedeschia aethiopica Pink Mist) en knopie-Dahlias in pienk, kry ons ’n ontwerpersgevoel op die tafel en gebruik ons blomme op ‘n nuwerwetse manier.
Simboliese blommekrans
“Die Adventkrans aan die kop van die tafel simboliseer Jesus se geboorte en word gebruik om die vier Sondae voor kersfees af te tel en herinner ons aan beide die onsterflikheid van ons siele en God se belofte van ewige lewe aan ons deur Jesus Christus.
Die verskeidenheid groen in die Adventkrans verteenwoordig ’n ewige lewe, die bessies verteenwoordig die doringkroon en bloed en die dennebol die ewige lewe,” verduidelik Frans.
Tafeldek-wenke
The Home Collective deel hul wenke met ons:
Kersballe en pom-poms is nie net vir jou boom nie, en verleen ’n tikkie feestelikheid deur dit in mooi bakke in jou tafel te sit. Kies net ’n mooi bak wat by jou kleurskema pas.
Jy kan jou kersballe verf om by jou kleurskema aan te pas. Lees meer hoe hier: Eenvoud en tekstuur met die mooiste gestroopte buitekuier-Kerstafel
Linne skep beslis ’n luukse gevoel. Die mooi linne tafelloper met sagtepienk en azalia blomme, kruise, kervensters en die neutekraker is deur Franseman ontwerp. Koop die loper ( 4000x 750 mm, R1695) by die Franseman winkel by Hoofstraat 281, Paarl of bestel dit by Frans deur vir hom ‘n epos te stuur info@franseman.com.
Spierwit breekware skep ’n mooi kontras
Die servet is in ’n roosvorm gedraai en ’n goue klokkie en takkie maak dit ekstra spesiaal. (Jy kan selfs ’n naamkaartjie hierby sit as jy wil hê jou gaste moet op spesifieke plekke sit.)
Moenie bang wees om liggies aan te sit en kerse aan te steek, selfs deur die dag nie. Dit verleen ’n eksta feestelike gevoel. ’n Klein teekersie is by elke gas se plek gedek.
Lang kerse in kandelare skep drama en glans, maar dit is ook prakties aangesien dit in niemand se siglyn is nie.
Kies so jou kleurskema
Frans gee raad
Probeer om inspirasie uit jou eie lewe te neem. Gebruik kleure wat jou goed laat voel of aan ’n ongelooflike herhinnering laat terugkyk, ’n oomblik, dalk ’n onlangse wegbreek?
Kersfees is belangrik oor die samesyn en die kuier rondom ’n glas goeie wyn en ’n koningsmaaltyd, daarom is dit belangrik om jou dekor te bepaal deur nie net huidige kleur- en dekortendense te gebruik nie , maar eerder dit by te voeg as ’n klein deel van jou finale ontwerp. Gebruik nie meer as drie kleure nie en gebruik kleure wat maklik saamwerk.
Kleure wat goed saamwerk vir ’n klassieke fees ontwerp is
- Wit op room met ’n titseltjie goud
- Poeierpienk op steen met koper/roosgoud
- Aardse kleure met wit en saliegroen
- Sjokoladebruin en steen met goud vir ’n meer dramatiese skepping
“Kersfees gaan oor die viering of seker meer die danksegging vir Jesus se geboorte en dit is belangrik om jouself te omring met sielsmense, vriende en familie.” Frans van Wyk
Jou gaste se kleurskema
Om jou Kerstafel ekstra spesiaal te maak, vra dat gaste in die kleurskema aantrek. Dadelik voel alles net meer spesiaal en voel almal deel van die besonderse viering van vriendskap, liefde en raak dit ’n oomblik om te onthou vir altyd – herinneringe is alles.
- Poeierpienk kerse in Adventkrans: Mr Price Home
- Wit en goue servette Pep Home
- Kerskoekies – Franseman
- Goue kerse: Clover Leaf Candles
- Keramiekbakkies: Corinne de Haas, eksklusief ontwerp vir Franseman
- Vuurvliegieliggies @home