As jy ’n klein badkamer het lees gerus hierdie 10 wenke om die spasie groter, meer oop en ongeklotter te laat lyk. Kraft Architects deel hul ontwerpraad en wenke vir jou klein badkamer. Ons hoop hierdie wenke help jou klein spasie floreer! Deur Justine Kroes
1. Lig is belangrik
Argitek Charles Pittaway van Kraft Architects sê “twee areas in die huis waar die beste lig noodsaaklik is, is in die kombuis en in die badkamer. Indien jy bou of ’n regruk beplan, oorweeg groot vensters vir jou klein badkamer om soveel moontlik natuurlike lig in te laat om die spasie oop, lig en helder te laat voel. ’n Uitsig kan ook so ’n spasie groter laat voel.”
2. Gebruik ‘n spieël om die klein badkamer groter te laat voel
Charles verduidelik “’n Groot spieël in ’n klein badkamer is ’n moet, die belangrikste gedeelte van ’n spieël in ’n klein spasie is om dit daar te plaas waar dit die meeste lig sal reflekteer. Die grootste rede waarom ’n spieël werk in ’n klein spasie, is omdat dit lig reflekteer en sodoende meer lig in die spasie skep wat die spasie groter laat voel.
Indien moontlik behoort jou spieël ’n mooi uitsig te vertoon, soos byvoorbeeld ’n venster of ’n oop deur daar waar dit die meeste lig reflekteer.”
Nog ’n interessante truuk is om ’n spieël te kies met ’n “backlight” (lig rondom of agter die spieël). Dit skep ’n interessante fokuspunt en skep diepte en lae in ’n klein spasie.
3. Kies ’n glas stortdeur
“As jy ’n nuwe badkamer beplan of dalk ’n badkamer-regruk oorweeg – doen weg met ’n stortgordyn of frosted glasdeure. Deursigtige glas stortpanele laat die spasie meer oop en groter vertoon. Met mure of frosted glas verdeel dit die spasie en laat dit kleiner voel, jy wil graag hê die stort moet deel van die badkamer voel, nie ’n aparte ‘kamer’ op sy eie nie” sê Charles.
Jy kan ook natuurlik kies om die stortdeur heeltemal te laat gaan, dit is tans ’n moderne opsie en werk die heel beste in groter badkamers. As jy dit graag in ’n kleiner badkamer wil installeer, maak net seker jou stort is goed ontwerp sodat die hele badkamer nie onder water is na ’n stort nie. Charles se raad: “As jy wil wegdoen met ’n stortdeur, maak seker dat daar ten minste ’n 1.3 m soliede glaspaneel is aan die een kant van die stort.
4. Teël spesifieke areas
“Deesdae teël ons nie meer badkamers van vloer tot dak “vistenk-styl” soos in die ou dae nie, teël net op spesifieke areas waar dit nodig is. Byvoorbeeld, jou badkamermure kan eenvoudig geverf word (met ‘n spesifieke waterdigte of emaljeverf natuurlik), maar maak seker jou stort area is geteël” verduidelik Charles. “Teël dan net byvoorbeeld jou stort van vloer tot dak om ’n vertikale lyn te skep en die spasie groter te laat vertoon.”
5. Monokroom skakerings
Ons weet in ’n mode-uitrusting, wanneer ons een skakering van kop tot tone aantrek, sal dit ons langer en slanker laat vertoon – dit is ook waar vir wanneer jy ’n spasie ontwerp. Charles sê; “vir ’n kleiner spasie is ligter skakerings altyd ’n moet, hoe meer lig, hoe groter voel die spasie. As jy ’n spasie kleiner wil laat lyk, gebruik jy donkerder skakerings. Jy hoef natuurlik nie alless een kleur te maak nie, maar soortgelyke ligte skakerings so na aan mekaar as moontlik sal saam ook goed werk”.
6. Hou die vloer skoon
“Hierdie is ’n baie belangrike punt, in ontwerp praat ons van die “pathway”; as jy voel jy het plek rondom jou om te beweeg, voel die spasie outomaties vir jou groter. Maak seker jy skep ’n “pathway” in jou badkamer en verwyder enigiets wat rondstaan en onnodig spasie opneem” is Charles se raad.
As daar ’n klomp tafeltjies en kassies die vloerspasie vol staan sal die spasie kleiner en meer geklotter lyk. Hou die vloerspasie skoon en maak gebruik van slim stilering soos byvoorbeeld ’n deursigtige draad wasgoedmandjie wat nie ’n klomp visuele gewig dra nie.
7. Kies kompakte en kleiner badkamertoebehore
’n Groot vierhoekige bad en ’n groot wasbak en badkamerkassie kan ’n spasie dadelik kleiner laat lyk. Kies eerder ’n kleiner bad, ’n klein wasbak en kleiner badkamerkassie wat beter in die spasie sal werk.
Nog ’n slim idee is om krane direk in die muur te installeer – so spaar ’n mens ’n tikkie spasie op die wasbak, byvoorbeeld.
8. Kies groter teëls
Groter teëls, veral op vloere, lyk minder besig (natuurlik minder groutlyne) en skep ’n gevoel van ’n groter spasie of area, sê Charles.
As jy dalk kleiner teëls moet gebruik, dalk in die stort – kan jy gerus ’n vertikale teëlpatroon kies, soos byvoorbeeld subway-styl teëls, hierdie ontwerp skep ’n interessante fokuspunt in die klein spasie. Die truuk lei jou oë rondom die badkamer en gee mens iets om na te kyk en op te fokus wat jou in ’n mate laat voel die spasie is groter”, verduidelik Charles.
9. Hou dit georganiseerd
’n Klomp produkte wat rondstaan kan dadelik ’n spasie vol en deurmekaar laat lyk. Hou dus toonbank- spasie en vensterbanke skoon en ongeklotter. Kies dalk ’n badkamerkassie met deurtjies wat kan toetrek om die spasie visueel skoon en ongeklotter te laat lyk.
Nog ’n truuk is om ‘n floating vanity (waarop jou wasbak staan) skep baie meer spasie as een wat tot op die grond afloop, dit skep spasie op die vloer en laat die vloerspasie so ook groter vertoon. Floating shelves is nog ‘n goeie idee mits jy dit skoon en ongeklotter hou, kan dit ’n interessante versiering aan die jou klein badkamer bied sonder om visuele gewig tot die spasie by te dra.
10. Hou die plafon wit
Charles sê, hou die plafon wit of so naby aan wit as moontlik, dit reflekteer lig terug na die grond toe en laat ’n spasie dadelik groter voel. Om mure wit of naby aan wit te kry, is nie altyd so maklik nie, maar deur die plafon dieselfde skakering as die mure te verf, skep ’n eenvormige gevoel deur die hele badkamer en sal sorg vir ’n ligte en helder spasie wat groter vertoon.
Kraft Architects
Kraft Architects, gestig deur Charles Pittaway en Ruhan Dreyer, is ’n vars, ontwerp gefokusde firma wat streef na uitnemende ontwerp, pasgemaak vir jou persoonlike behoeftes. Die firma spesialiseer in residensiële, kommersiële en industriële geboue. Kontak hul gerus hier. Vir meer inspirasie fotos volg hul op Instagram hier en Facebook hier.