Foto: @localtruthsa

Diereprater, Daniah de Villiers

Aktrise Daniah de Villiers skitter in haar nuwe rol as aanbieder van die nuwe reeks; Dierepraters. Die matriekleerling het beslis die leeuaandeel gekry as dit by talent kom, met films soos Mia and the White Lion en Nul is nie niks nie en vele reekse ager die blad. Deur Suzanne Kotzé

Daniah de Villiers het reeds op die ouderdom van 10 die toekenning vir junior wêreld kampioen vir toneelspel in ’n kompetisie in Los Angeles losgeslaan. By dieselfde kompetisie het sy en haar sussie ook die kompetisie ‘Junior Vocal Duette’ gewen. 

Daniah de Villiers en Mia and the White Lion

Op twaalfjarige ouderdom in 2015 het Daniah die rol as Mia in die film Mia and the White Lion losgeslaan. In die fliek trek Mia en haar familie Suid-Afrika toe om ’n wildsplaas te bestuur en Mia ontwikkel ’n hegte band en vriendskap met ’n wit leeu-welpie. 

Kyk die voorprent hier: 

Die verfilming van die fliek het drie jaar geduur. “Vir drie jaar het ek letterlik elke dag twee tot drie ure saam met leeus deurgebring. Ek het hulle leer ken as welpies en saam gegroei. Dit was ’n ongelooflike eenkeer-in-‘n-leeftyd-ervaring. Die verfilmingsproses was so lank want ek moes ’n ware verhouding met hulle bou vir die film. Hulle het my beste maats geword-die verfilming was net ’n bonus.”

Daniah de Villiers Mia and the White Lion

Daniah praat met groot lof van Kevin Richardson, ook bekend as The Lion Whisperer, wat vir haar ’n mentor was gedurende die drie jaar, en dit is ook by sy sanctuary waar die leeus bly.  

“Soos wat my verhouding met die leeus gegroei het, het dit natuurlik gekom om hulle te lees en ek glo daar is en was ’n versteekte taal betrokke toe ek met hul interaksie gehad het, ’n gevoel van diep konneksie en ervaring toe ek by hul was,” deel Daniah. 

Daarna het Daniah ook in die fliek Nul is nie niks nie, Dating game killer (Amerikaanse dokumentêr), Redeeming love en ander reekse soos Binnelanders as Trudie gespeel. 

Agter die skerms as Trudie in Binnelanders

Daniah de Villiers se liefde vir diere 

Vandat sy kan onthou was sy baie lief vir diere. “Ons het nog altyd troeteldiere gehad (van honde, ganse en hase toe sy klein was) tot haar pit-bul kruising Ella, haar pug, Delano en haar kat Leo-nette.” Daniah se ouers is ook nog altyd baie lief vir diere, vertel sy. 

Dierepraters

Daniah de Villiers

Oor haar rol as aanbieder van Dierepraters, (Woensdae om 20:00 op kykNET,DStv-kanaal 144) sê Daniah: “Dis ’n groot voorreg! Dis lekker om meer van myself met mense te kan deel as om net ’n karakter te speel.  Dis ’n ander rol om te speel – myself – en die reeks het my die kans gegee om daarin te groei.” 

As aanbieder word Daniah bygestaan deur Hettie Richter, ’n dierekommunikeerder.

Daniah de Villiers en Hettie Richter in Dierepraters

In elkeen van die episodes gesels hulle met spesialiste in hulle onderskeie velde en sal kykers sien watter tegnieke gebruik word om te sien wat huisdiere én wilde diere dink en hoekom hulle reageer soos hulle doen. Die reeks fokus ook op die impak wat mens en dier op mekaar het

Daniah se beste ondervindings tydens Dierepraters

“Ek het nie presies geweet wat om te verwag nie, en verstaan nou nog nie alles wat ek gesien en gehoor het nie. Die reeks het vir my ’n ander bewustheid gegee om meer te leef, stil te word, te luister en te observeer,” vertel Daniah.

Van haar beste ondervindings was om verskillende diere en mense te ontmoet. Om die pikkewyne te ontmoet en om met Marlice van Vuuren (bewaringsgesinde, eienaar van Naankuse Wildlife Sanctuary en aanbieder van Groen Namibië) te kon gesels en al die plekke waarheen sy kon reis, was hoogtepunte vir Daniah. 

Oor diereverhoudings

Hoe kan mense hulle eie troeteldiere anders benader?

“Net van wat ek beleef het,dink ek dis om met ’n oop hart ontvanklik te wees. Met die regte ingesteldheid sodat daar ’n dieper konneksie gevorm word. Ek het ook geleer dat daar baie alternatiewe maniere is om jou dier te help en jou dier se lewe te verryk .

Die terapeutiese waarde van troeteldiere

“Uit my eie ervaring beteken my diere so baie vir my en hulle gee my so baie liefde en vreugde wanneer ek hul sien.

Om by diere te wees is ’n plek waar ek net myself kan wees sonder enige verwagtinge.”

Daniah de Villiers

Kommunikasie met diere.

Op die vraag of sy vóór Dierepraters gedink het dat diere werklik met mense kan kommunkeer sê Daniah: “Ek het geglo daar is iets soos ’n versteekte taal tussen mense en diere en hul band met mekaar. Ek het net meer opgelet en was meer blootgestel aan hoe ander mense hul gevoelens en gedagtes optel. Ek glo ’n mens moet steeds altyd self onderskei wat die waarheid is.”

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Uleen Fourie se wenke vir ’n gesonder jy!
error: Content is protected !!