Roep die woord “avontuur” vir jou dalk beelde van Indiana Jones in ’n ruie oerwoud op? Of ’n man soos Kingsley Holgate met ’n ruie baard en digte wenkbroue en ’n 4×4-voertuig wat olie lek so ver as wat dit deur die Sahara trek. Dis tog te maklik om avontuur met ’n man te verbind, terwyl vroue aan die kantlyn staan en kyk. Nie vanjaar nie, suster! Vanjaar nooi ons jou uit om voete eerste in avontuur in te spring. Deur Gerda Kriel
Trek solank jou hakskoene uit, en hang jou syserpie aan die kapstok want hier is drie redes waarom avontuur deel van jou lewe moet word.
Kliniese sielkundige, Gerda Kriel
1. Avontuur is goed vir jou brein

Om nuwe goed te doen, en nuwe ervarings aan te pak, vorm nuwe neurale bane in jou brein. Soos wat jou brein meer neurale bane bou, versterk dit die grysstof in jou brein en jou kognitiewe vermoë. En dan praat ons nie net van adrenalien-gevulde avontuur nie. Enige nuwe ervaring waarin jy ’n nuwe vaardigheid moet aanleer, of iets moet doen wat jy nog nooit vantevore gedoen het nie, kan hierdie neurale bane in jou brein ontwikkel.
Dit beteken dat jou avontuur nie hoogtes, hoë spoed of enigiets gevaarliks hoef in te sluit nie! Jy kan dalk net ’n nuwe, eksotiese gereg kook of ’n nuwe danspassie aanleer!
Navorsing wys selfs dat deur bloot ’n ander roete werk toe te ry jou brein ’n positiewe hupstoot kan gee.
Hoe meer neurale bane in jou brein gebou word, hoe meer beskerm jy jou brein teen ouderdomverwante probleme later in jou lewe. Dis nie ’n wonderkuur nie, maar elke bietjie help, veral as jy boonop pret kan hê.
2. Avontuur bou veerkragtigheid

Het jy geweet dat stres soms goed vir jou kan wees? Die positiewe stres wat jy ervaar voordat jy iets moet doen wat jy nog nooit vantevore gedoen het nie, word eustres genoem.
Wanneer jy dit ervaar en ’n nuwe taak afhandel of ’n nuwe ervaring beleef, ontwikkel dit veerkragtigheid.
Jy leer jou brein hoe om moeilike take aan te durf, sonder sekerheid van die uitkoms. Jou brein leer dan dat nuwe ervarings gevoelens van bemagtiging kan veroorsaak, en dit kan selfs daartoe lei dat jy meer nuwe ervarings uitsoek.
Avontuur skep dus avontuurlustigheid!
Veerkragtigheid wat ontwikkel deur avontuur kan jou geestesgesondheid op die langtermyn baat deurdat jy alledaagse probleme ook makliker sal kan oorkom. Mense wat veerkragtig is, is geneig om makliker probleme te oorkom, meer positief oor probleme of uitdagings te dink, en is in die lang duur ook fisies gesonder!
3. Avontuur bou verhoudings

Om dinge saam te doen, is een van die maniere waarop jy jou verhoudings kan versterk. In die huwelik is dit een van die maniere waarop jy en jou maat mekaar opnuut kan leer ken: in ’n milieu waarbinne julle mekaar nog nooit vantevore bevind het nie.
Die gedeelde ervaring van adrenalien en dopamien wat deur jou brein afgeskei word wanneer jy en jou geliefde ’n nuwe ervaring saam beleef, versterk die band tussen julle op ’n neuro-chemiese vlak.
Behalwe daarvoor, is dit ook so dat paartjies wat dinge saam doen, dikwels meer bevredigende verhoudings het. Dit is nie net waar vir romantiese verhoudinge nie, maar ook vir vriendskappe en verhoudings tussen ouers en kinders.
Stel nou jou avontuurlys saam
Aan die begin van die nuwe jaar is dit so maklik om ’n lys van nuwejaarsvoornemens te hê: dinge wat jy wil bereik in die nuwe jaar. In teenstelling daarmee wil ek jou uitdaag om vanjaar vir jou ’n avontuurlys saam te stel! Kies drie dinge wat jy nog nooit gedoen het nie, stel ’n datum vas om dit te doen en neem iemand saam! Avontuur is deesdae nie ’n luukse vir ’n uitverkore groep nie, maar eerder ’n wonderlike geskenk – reg binne jou bereik. Is jy gereed om dit oop te maak en aan te pak?

Gerda Kriel is ’n kliniese sielkundige wat in Somerset-Wes praktiseer. Besoek gerus haar webwerf helderbergpsychology.com