Hier is maklike doen-dit-self Valentynsidees. Of jy nou ’n romantiese ete vir jou en jou Valentyn, of ’n ‘Galentines’-ete saam met vriendinne beplan, probeer gerus hierdie. Deur Suzanne Kotzé
Doen dit self Valentynsidees
1. Koevert-servet

Skryf ’n liefdes/vriendskapsbriefie en sit dit in jou Valentyn/Galentine se servet wat soos ’n koevert gevou is. Sit ’n hartjie lekker agter op die ‘koevert’.

2. Koevert-vlaggies

Gebruik wit koeverte met ’n hartjie op geverf/geteken aan die agterkant en hang dit aan ’n toutjie om vlaggies bo die tafel te vorm. Jy kan self ’n liefdiesbriefie in elkeen sit. Of ’n boodskappie/aanhaling oor vriendskap vir jou vriende en dan moet elkeen die koevert naaste aan hul sitplek oopmaak.
3. Gevoude waaiertjie-hartjies

Knip sirkels uit gekleurde papier en vou die sirkels konsertina-styl (soos die papierwaaiertjies wat meeste van ons op skool gevou het). Vou in die helfde en plak die kante teenmekaar en siedaar. Sit dit in ’n pot as ‘blomme’, gebruik as vlaggies, of sit dit op jou servet neer as versiering.

Wenk: As jy die ’n gomgeweer het nie, en gewone gom of Pritt gebruik, gebruik ’n skuifspeld om die kante teenmekaar te hou tot die gom behoorlik droog geword het.
4. X0XO geverfde tafel-loper

Hierdie is so maklik (’n aktiwiteit wat kinders ook sal geniet om te maak.). Gebruik ongedrukte koerantpapier effens langers as jou tafel sodat dit effens oor die lengte van jou tafel afhang. Verf verskeie X0X0 oor die papier.
5. Spookasem gevriesde Margaritas

Hierdie is ’n oulike idee vir ‘Galentinesdag’ vieringe saam met vriendinne.
Maak dit so
Lewer 2 drankies
- 2 sopies Tequila
- 1 sopie Triple sec
- 10ml aarbeistroop (Woolworths Strawberry & Mint Syrup is heerlik hierby)
- Sap van drie lemmetjies
- 2 koppies ys
- Houertjie spookasem (ons het by Checkers gekoop).
Maak dit so
Gooi alles behalwe die spookasem in ’n menger (soos ’n Nurti-Bullet) en pols. Gooi in twee glase (sjampanje coups werk goed). Sit ’n handvol spookasem op die kant (dit smelt vinnig so doen dit net voor opdiening) en ’n strooitjie.
6. Geverfde name op tafeldoek

Hierdie is ’n lieflike idee vir ’n Galentines-ete. Gebruik ongedrukte koerantpapier as tafeldoek. (Jy sal waarskynlik twee stukke oormekaar moet sit om die breedte van jou tafel toe te maak). Verf elke gas se naam bo sy/haar bord. Jy kan ook kreatief raak en verf of viltpenne op die tafel los, sodat elkeen kan krabbel soos die aand aangaan.
Foto: Instagram Projects Studio
7. Toiletrol hartjie stempel plekmatjies/loper

Vou ’n leë toiletrol na binne om ’n hartjie te vorm, en druk dit in verf om ’n hartjie stempel te maak. Druk dit op ongedrukte koerantpapier om ’n tafelloper temaak of op A4 papier om plekmatjies te maak.