Kreefseisoen is dalk eintlik eers in Desember, maar die seegoggas (en ander skaaldiere) is oral in dekor te sien. Hetsy dit by meer ‘quirky’ dekor is, of dalk vir jou vakansiehuis; hier is van ons gunsteling kopies. Deur Suzanne Kotzé
‘Coastal grandma’ dekor versus ‘crustaceancore’ se krewe en skaaldiere
‘Coastal grandma’-dekor
Hierdie is al vanaf einde 2022 ’n trend.
’n Mens moet glo dink aan hoe jou ouma wat by die see bly se huis lyk. Maar hulle het waarskynlik nie Afrikaanse oumas met gehekelde lappies en toiletrol-Barbies in gedagte gehad nie. Volgens Better Homes and Gardens is die ‘coastal grandma’-styl die volgende: Ontspanne, dog verfynd, gemaklik, maar verhewe. Warm en uitnodigend, met ’n ontspanne luukse gevoel, sonder om te knus te lyk. Lyne is skoon, en ontwerpe is sonder fieterjasies en minimalisties.
‘Crustacean core’ se krewe en skaaldiere
Skaaldiere soos krewe en krappe voeg ’n tikkie pret en speelsheid by dekor en is ideaal vir somerdekor, tafeldek of selfs onthaaltemas. Dink aan ’n langtafel en ’n luilekker dagkuier, met yskoue wyn en seekos!
Dit kan ewe goed werk saam met ’n maksimalistiese tipe styl (dink aan pienk en rooi en ander patrone bygemeng) of saam met ’n meer minimalistiese styl (rome en neutrale skakerings met ’n tikkie ‘kreef’ by.) Gebruik gerus ander oseaan-elemente soos seeperdjies, skulpe en koraal hiermee saam. Selfs jellievisligte (soos ’n lawalamp, maar met klein jellievissies in) is ook gewild.