’n Oral-saamgaan grimeersakkie wat jy van een handsak na die volgende kan oorplaas, maak die lewe net soveel makliker. Of jy nou ’n klein lyfkruissakkie of ’n groot handsak dra, hou gerus hierdie produkte byderhand. Plus, hier is ’n paar van die mooiste grimeersakkies. Deur Suzanne Kotze en Justine Kroes
29/09/2023
Produkte vir jou oral-saamgaan-grimeersakkie
Verbloemer of ekstra onderlaag
Hierdie is noodsaaklik veral vir einde-van-die-dag ‘panda eyes’. Hou ’n onderoogverbloemer of onderlaag in jou sakkie om enige merkies te verdoesel. Ons grimering smeer maar af gedurende die dag en soms skrik mens as jy jouself in ’n helder verligte spieël sien.
Hier is ’n paar gunstelinge:
Wenk: As jy onderlaag koop kan jy dikwels vra vir ’n bietjie/toetsgrootte wat jy by die huis kan toets. Hierdie is ook wonderlik om in jou grimeersakkie te hou. Na die tyd kan jy sommer net die houertjie gebruik en ’n bietjie van jou onderlaag hierin sit.
As jy duur onderlaag gebruik, word dit ’n duur affêre om een onderlaag vir jou grimeerlaai en een vir jou handsak grimeersakkie aan te skaf.
Twee in een blosser en lipstif
’n Roomblosser wat jy op jou wange en lippe gebruik is ’n wonderlike veeldoelige produk.
Ons gunstelinge:
Veeldoelige olie
’n Olie wat jy op alles van wegvlieghaartjies, tot droë bene en naelvliesies kan gebruik is wonderlik.
In hierdie oulike reissakkie kry jy ’n Nuxe Huile Prodigeuse olie en parfuum. Gooi hulle gerus in jou elkedag grimeersakkie! (En hou die stortjel en lyfroom vir jou reissakkie).
Deodorantdoekies
Hierdie is wonderlik vir somersdae of vir die meeste van ons wat onverwags rondhardloop gedurende die dag en nie so vars voel nie.
’n Haakspeld of drie
Vir wanneer ’n knoop losbars of ’n naat skeur.
Haarrekkie
Jy weet nooit wanneer die wind opkom en jou hare jou grensloos begin irriteer nie.
Ooggrimering
Die meeste van ons wend nie weer maskara aan nie, maar verfris dalk ons oogskadu. Kies ’n kompak of oogskadupen met een of twee skakerings wat jy vinnig en maklik weer kan aanwend.
Spieëltjie
’n Klein spieëltjie sodat jy kan sien wat jy doen, en met ’n liggie in is ‘n bonus! Foschini All Woman Small Square Compact (R99)
Reisgrootte haarborsel
Veral ’n moet vir ma’s van dogtertjies. Een wat kan opvou is selfs nog beter!
Haartangetjie
Daar is seker niks erger as om in jou kar se truspieëltjie te kyk en te besef jou wenkbroue (of dalk bo-lip) benodig desperaat die hulp van ’n haartangetjie nie. Daarom het ons altyd een byderhand.
Handeroom
Ons kan natuurlik nie sonder handeroom in ons oral saamgaan sakkie nie. Een wat hidreer maar nie te olierig is nie, en met ’n SBF by is ’n bonus!