Die definisie van binnehuisversieringstendense is ’n voorspelling wat deur toonaangewende kenners in verskeie velde soos verbruikers (ja – jy!), vervaardigers, joernaliste en natuurlik die stede soos “New York, Parys, Milaan, “dahling” geskep word. Deur Marilize Jacobs
16/09/2023
Deur huidige ontwerptendense te omarm, kan jy ’n ruimte skep wat vars, visueel aantreklik en ’n gevoel van samehangendheid skep, terwyl dit ook die waarde van jou eiendom kan verhoog (dink aan die herverkoop van jou huis in terme van stilering hier).
Die insluiting van huidige ontwerptendense in ’n vertrek kan ‘n reeks van voordele bied, byvoorbeeld, opgedateerde ontwerpelemente kan die gemak en funksionaliteit van ’n area verbeter, soos slimhuistegnologie: stem-gekontroleerde beligting, slim termostate, en veral in Suid-Afrika, sekuriteitstelsels.
Volhoubaarheid
’n Tendens wat meer van ‘n “beweging” geword het, en ek dus nie as ‘n nuwe tendens vir Lente/Somer 23/24 sou aanbied nie, is volhoudbaarheid deur die gebruik van volhoubare materiale. As ’n interessante voorbeeld: aluminium. Die vervaardiging van aluminium deure en -vensters besorg ‘n radikale vermindering in die koolstofvoetspoor, tot bykans ’n 100 keer, in vergelyking met “oorspronklike” energie, en dit is herbruikbaar.
Terwyl ons die jaar 2024 nader, is dit fassinerend om te voorspel wat die toekoms vir binneversiering inhou. Ontwerpers is altyd op soek na nuwe en innoverende maniere om ruimtes te skep wat funksioneel, pragtig en prakties is. In hierdie artikel sal ek ’n blik werp op van die top tendense wat ons in 2024 in binneversiering verwag. Vir my was die wydlopende aard van die tendense opmerklik, anders as vorige jare.
Wat bepaal ’binnehuisversieringstendense?
Pantone se Kleur van die Jaar.
Die “Pantone Color Institute” bestudeer kleurtendense gedurende ’n jaar om op die volgende Pantone Kleur van die Jaar te besluit. Hulle neem alle aspekte van die samelewing in ag: mode, bemarking, sosiale media, en selfs politiek. “Apricot Crush” is reeds op 22 Mei 2023 as die nuwe Pantone Kleur van die Jaar 2024 aangekondig.
Die rol van die mode
Dit is altyd interessant om te sien hoe modetendense in die wêreld van interieurs aangepas word en die daaropvolgende parallelle tendense. Die modehuis “Fendi” kom in my gedagtes op wanneer ek dink aan ’n handelsmerk wat ’n opmerklike oorvleueling tussen mode en interieurs daarstel. Vanaf kamerjasse, pantoffels tot maatgemaakte meubels en asbakkies, het hulle hul eie “wêreld” geskep. Die voorkomste wat in “Fashion Week” vertoon word, het ’n groot invloed op huisruimtes.
“Barbiecore” is ’n warm pienk tuistendens wat veral onlangs gesien is. Vir jare lank al het mode-handelsmerke op ’n amper organiese manier deurgevloei na dekor, veral in ‘n post-COVID-wêreld waarin ons werklik wil hê dat ons huise ons persoonlike styl op ’n trotse manier moet weerspieël (almal kan immers jou EN jou huis as agtergrond sien op bv. Zoom of Google Meet).
Dit moet egter in gedagte gehou word dat alhoewel daar ’n sterk verband tussen mode en binneversiering is, daar een groot oorhoofse verskil is.
Modetendense is gewoonlik ’n meer vlugtige en kortstondige (“vinniger”) tendens met nuwe versamelings wat elke seisoen sy verskyning maak. As ’n reël herversier ons nie ons huise so gereeld nie, weens ons begroting as ons grootste teenwig.
Bewuste keuses wat ons maak
Volhoubaarheid is tans aan die voorpunt van binneversiering en ontwerp, met ’n fokus op oudhede, innoverende ontwikkeling van nuwe materiale, en die hergebruik of herinterpretasie van wat voorheen verwerp is. Volhoubaarheid is ook hier om te bly. Dink maar aan die huidige tendens rondom “thrifting” en die tweedehandse meubelmark.
Die groot vier binnehuisversieringstendense
Binnehuisversieringstendens 1: gemak
Gemak sal altyd ‘n prioriteit wees in binneversiering. In 2024 verwag ons dat meer ontwerpers sal fokus op die skep van ruimtes wat nie net pragtig vertoon nie, maar ook gemaklik en uitnodigend is. Warm, woestyskakerings skep ‘n goedvoel en gesellige atmosfeer wat jou laat tuis voel.
Binneshuisversieringstendens 2: minimalisme
Minimalisme toon geen tekens daarvan om gestuit te word as tendens nie, maar dit is gewis eintlik minimalisme met ’n wending, omdat dit “insluitend” is vir almal. Daar is geen stereotipe nie. Lyne is skoon en bykans “onmisbaar”, kleure is neutraal, en ruimtes oop vir interpretasie. Dit bring ons terug na die sosiale tendens waar mense nie meer “in boksies gesit wil word nie” veral t.o.v van persoonlikhede en geslagsidentifikasie.
Binneshuisversieringstendens 3: maksimalisme
Terwyl neutrale kleure gewild sal bly in 2024, verwag ons ook ’n toename in meer “gewaagde” kleure. Dink byvoorbeeld aan skokkende bont muurpapier en tekstiele met helder patrone. Verftegnieke wat lyk soos muurpapier, maar meer omgewingsvriendelik is as muurpapier, verwerf ook gewildheid. Kyk gerus hier.
Binneshuisversieringstendens 4: phygital
Die vermenging van fisiese en digitale. Die retro-futuristiese tendens is speels met Gen Z kleure soos ‘digital lavender’ en ‘dusty pink’. Ons verwag om meer ontwerpers te sien wat eksperimenteer met die kombinasies van hout, metaal, glas en ander materiale om unieke en interessante ruimtes te skep.
Die anti-tendens
‘n Term wat ironies populêr gemaak word op TikTok en ander sosiale media platforms. Dit verwys na die skuif van jou fokus weg van tendense en na die kultivering van jou eie unieke styl. Dit is ’n denkwyse wat jou bewus maak van wanneer jy “beïnvloed’ of amper gebreinspoel word deur tendense. Jy is bewus van tendense maar nie bereid om onnodig geld en tyd te spandeer om tendense na te volg, amper na te jaag, wat waarskynlik nie die toets van tyd sal deurstaan nie.
Die anti-tendens moedig ook verbruikers aan om te belê in hoë kwaliteit stukke wat langer sal hou.
Ten slotte
Die “kuns” lê in die vind van ’n balans tussen persoonlike styl en tendense vir 2023/24. Die skep van ’n ruimte wat eg aan jou is en jou persoonlikheid weerspieël, terwyl elemente wat vars en huidig is, steeds ingesluit kan word. Dink bv aan ’n “Apricot Crush” kleur strooikussing saam met n oorgooideken (“throw”) in dieselfde skakering van blou vir jou rusbank. Blou en oranje is komplementêre kleure op die kleurwiel en dus goeie pasmaats.
Tendense dien as inspirasie
Onthou dat tendense ’n siklus het, en as jy probeer om ALLES na te volg, sal dit jou eerstens platsak laat. My denkwyse oor tendense is dat hulle ‘n inspirasie is, nie ’n om-te-doen-lysie nie. Ook, as die enigste rede waarom jy in ’n spesifieke item belangstel is omdat jou gunsteling “influencer” iets daaroor gepos het, mag jy dit juis dalk wil heroorweeg …
Om saam met ’n gekwalifiseerde binneversierder ’n ruimte na ’n nuwe vlak van styl en funksionaliteit op te hef, kan jou baie tyd, stres en geld spaar. Daar is tans vreeslike oulike Kunsmatige Intelligensie (“AI”) programme vir binneversiering beskikbaar. , Nie een van hierdie programme kan egter die kombinasie van tendense en waarvan JY hou en JOU jou smaak kombineer soos ’n persoonlike afspraak met ’n kundige nie.
Marilize Jacobs is die stigter van Pigs Can Fly Interiors. Kontak haar: 082 418 6767
E-pos haar: marilizeb@mweb.co.za