Aandete by kerslig is deesdae meer as gewoonlik te danke aan beurtkrag, maar dit bly tog gesellig en skep ’n lieflike atmosfeer. Ons probeer ook deesdae ons lig-inname verminder voor slaaptyd (wat glo lei tot ’n goeie nagrus) en kerse in plaas van lampe en helder ligte is sodoende ’n gunsteling. So het die soektog begin vir mooi (tog funksionele) kerse en kershouers – loer hier na die heel mooistes op ons radar: Deur Justine Kroes
28/04/2023
’n Paar handige kers- en kershouer-stileerwenke:
Let op van kershoogtes
Gebruik kerse van verskillende hoogtes om ’n interessante ontwerp en effek op jou tafel te skep.
Indien kerse op ’n etenstafel gebruik word, maak seker die mense wat oorkant mekaar sit, kan ten minste mekaar sien. Nog ’n opsie is om ’n paar kerse in sekere gedeeltes (op tafel-eindes) te plaas waar dit nie in die pad sal wees nie.
Kies interessante ontwerpe
Wit kerse bly klassiek, maar probeer ’n slag ’n kers met ’n interessante ontwerp, skakering of patroon.
Lang dun kerse
Langer, dunner kerse skep hoogte en is ’n ontwerptruuk om oë opwaarts te trek, boonop is dunner kerse makliker om verby te sien. Dit lyk elegant en stylvol.
That skinny B*tch Co kerse is ontwerp deur dekor- en spasiekenner Reyjeane Haroun en plaaslik vervaardig deur die span by OKRA candles – elegante lang dun kerse in die mooiste skakerings, beslis ’n fees vir die oog!
Besluit op kerse en kershouers wat jou spasie pas
Kies die regte kershouer wat by jou spasie pas – daar is minimalistiese ontwerpe, kunstige ontwerpe, funksionele ontwerpe en vele meer om van te kies.
Kies druplose kerse
Gebruik gerus “non-drip” kerse – wie wil nou nog na ’n aand van gesellig kuier spook om kerswas uit jou tafeldoek te kry of van jou houttafel af te skraap!
Vlamlose kerse
As jy nie kans sien vir kerse wat opraak en oop vlamme nie – kyk net hoe slim is die battery-kerse en teeliggiekerse, wat selfs ’n effense flikker afgee, nes ’n regte kers. Die heel beste deel – jy kan jou kerse aan- en afskakel met ’n afstandbeheerder. Boonop hou die kerse redelik lank.