Met die wenkombinasie van suiwer hialuroonsuur en niasinamied (6%) bied die Eau Thermale Avène Hyalorun B3 reeks superhidrasie, sonder sensitiwiteit en bevorder ook selvernuwing. Deur Suzanne Kotzé
Geen droogheid en sensitiwiteit met die Eau Thermale Avène Hyalorun B3 reeks
Ek het laasjaar tydens my besoek aan Frankryk saam met Avène die Eau Thermale Avène Hyalorun B3 reeks begin gebruik en kon nie glo hoe wonderlik my vel gevoel het nie. Geen droogheid en senstiwiteit (soos gewoonlik wanneer ek reis nie.)
Lees meer oor my besoek hier Avène, Frankryk besoek, hoogtepunte en wat ek geleer het
Skoonheidsredakteurs toets gereeld nuwe produkte, en al is dit hoe ’n groot voorreg, veroorsaak dit wel dat die meeste van ons sukkel met sensitiwiteit. Hierdie reeks (en veral die serum) het my staatmaker geword tussen-in produkte toets. Ek weet dit laat nie my vel sensitief voel nie, dit is super hidrerend en help om veroudering te beveg.
Eko-vriendelik
Nadat ons die Pierre Fabre (waarvan Avène deel is) hoofkantoor in Frankryk besoek het, het ek ook besef watter groot klem hulle op die omgewing plaas. Ek hou daarvan dat hierdie reeks uit 92% natuurlike bestanddele bestaan en ’n eko-vriendelike verpakking het.
Die reeks se bestanddele-wenkombinasie: (suiwer) hialuroonsuur en niasinamied (6%)
Hialuroonsuur
Dink aan hialuroonsuur as ’n glas water vir jou vel wanneer jy baie dors is. Een van die groot redes waarom dit so ’n gewilde bestanddeel is, is omdat dit ’n bevogtiger (humectant) is. Bevogtigers trek watermolekules aan en verbind daarmee. Juis hierom is hialuroonsuur dikwels ’n bestanddeel in watergebaseerde serums en rome. Dit is is egter nie sommer enige bevogtiger nie, maar een wat tot ’n duisend keer sy eie gewig in watermolekules kan hou.
Soos ons ouer word, neem die vlakke van hialuroonsuur wat natuurlik in ons vel voorkom ook af (op 60 is dit byna die helfte minder as op 20!), en dra by dat ons plooie kry en ons vel minder ferm word.
Jy kry verskillende ‘gewigte’ (groottes) hialuroonsuur. ’n Hoë gewig hialuroonsuur help om jou vel op die oppervlak op te plomp en te hidreer. ’n Lae gewig hialuroonsuur werk dieper om jou vel met hialuroonsuur te herlaai.
Niasinamied
Ook bekend as vitamiene B3. Soos ons ouer word, verdeel ons velselle minder en van die selle word onaktief (bekend as senescent selle).Hierdie selle, ook genoem Zombie selle, steek ook die jonger, aktiewe selle, langs hulle aan om onaktief te word. Niasinamied (in ’n hoë konsentrasie van 6%) help om die verspreiding van die onaktiewe selle te keer en om dit stadiger te laat versprei. So help dit dan ook om plooie en fyn lyne te verminder, vel-elastisisiteit te verbeter en pigmentasievlekke te verminder.
Avène Thermal Spring Water
Word natuurlik ook in al die produkte gebruik om vel te streel en te versag.
Die reeks bestaan uit:
Eau Thermale Avène Hyalorun Active B3 Concentrated Plumping Serum (R790)
Hierdie serum is lieflik, dit trek so vinnig in en voel glad nie of jy iets op jou vel het nie. Nog ’n groot bonus is dat ek dit op my oogarea ook kan gebruik (die meeste serums kan nie hier gebruik word nie.) Dit bevat 6% niasinamied en 1.5% hialuroonsuur. Hierdie serum bevat ook net agt bestanddele, wat dit geskik maak vir sensitiewe vel. Wat ’n staatmaker. Dit laat my vel heerlik bevogtig voel, en ek weet dit help om my vel ook fermer te maak, alles sonder enige sensitiwiteit.
Hyalorun Active B3 Cell Renewal Cream (R740)
Hierdie streelsagte room voel glad nie olierig nie. Dit het ’n effens kleur, wat jou vel dadelik mooi glansend laat lyk. Dit dien ook as ’n goeie voorbereidingslagie vir jou grimering (gee dit natuurlik net ’n rukkie kans om goed in te trek voordat jy jou onderlaag aansmeer). Dit bevat niasinamied en hialuroonsuur.
Hyalorun Active B3 Night Intensive Cream (R740)
Ek is absoluut mal oor die verpakking. Jy druk die potjie op die deksel sodat die room uitkom. Geen potjies oopdraai en toedraai nie. Hierdie room slaap sommer op my bedkassie sodat ek dit in die bed kan aansmeer. Die room werk terwyl jy slaap om jou vel te herstel. Dit bevat Haritaki (’n antieke ajuvediese krui) ekstrak en die aktiewe bestanddeel Retinal (wat selhernuwing aanhelp en help om kollageen te vorm). Haritaki help ook keer dat hialuroonsuur afbreek, sodoende is daar meer hialuroonsuur in jou vel.
Hyalorun Active B3 Triple Correction Eye Cream (R470)
Die oogroom help met plooitjies, pofferigheid en donker kringe. Dit bevat niasinamied, hialuroonsuur, Haritaki ekstrak en ‘Dextran’ sulfaat. Laasgenoemde help met mikro-sirkulasie wat op sy beurt weer help met donker kringe en pofferigheid.











