Pragtig, magies en lig is hoe parfumier Oliver Polge die nuwe CHANEL Les Exclusifs Comète fyngeur beskryf. Die sprankelende, poeierige fyngeur ruik natuurlik nie regtig soos die ‘heelal’ of ’n spoor sterstof nie. Die idee en emosie en natuurlik Gabrielle Chanel self, is die inspirasie is. Deur Suzanne Kotzé
CHANEL-geure begin met ’n idee, gemoedstoestand of emosie.
“Mense verbeel hulself dikwels dat ’n parfumier op ’n rou materiaal met ’n uitsonderlike geur afkom wat hulle inspireer om ’n geur op grond daarvan te skep, of om dit selfs te wil herskep. By CHANEL word ons styl uitgedruk deur ’n kreatiewe estetika. Dit is ’n unieke kreatiewe proses, aangesien Gabrielle Chanel bowenal ’n couturière was. Sy wou elemente van haar styl en haar persoonlikheid deur geur oordra. Om dié rede begin die CHANEL-geure almal met ’n idee, ’n gemoedstoestand of ’n emosie.
Met die Les Exclucifs de Chanel geurversameling, begin ons dikwels met die naam as beginpunt om die geur te skep,” deel CHANEL parfumier Oliver Polge
Gabrielle Chanel se liefdes en lewe en die Les Exclusifs-versameling
CHANEL kon ’n mens nog altyd meevoer met stories en staaltjies van Gabrielle Chanel. En veral die Les Exclusifs fyngeur-reeks. Met nuwe bekendstellings so oor die jare en staaltjies wat vertel word oor Gabrielle het ek al haar kunstenaarvriendin Misia ‘leer ken’ en meer geleer oor die twee se spesiale vriendskap (Wat ek net nie sou wou gee om Venesië te verken saam met die twee nie!) En natuurlik was dit hulle vriendskap wat die inspirasie agter die parfuum Chanel Le Exclusifs Misia is.
En dan was daar natuurlik die liefde van haar lewe, Arthur ‘Boy’ Capel, wat die inspirasie agter Boy Chanel was.
Met die bekendstelling van die Le Lion geur het ek geleer oor haar liefde vir sterrekunde en astrologie. Haar sterteken is natuurlik Leeu. En juis hierom was haar bekende woonstel in Rue Cambon, Parys (natuurlik ook ’n fyngeur), vol leeubeelde en het haar bekende tweed baadjies leeu-embleme op die knope gehad.
Mademoiselle Chanel se liefde vir komete en sterre
Natuurlik is dit haar voorliefde vir die sterre, komete en die heelal wat ook die inspirasie agter die nuutste Les Exclusifs fyngeur Comète is. Sy was so lief vir komete en sterre dat die sterstuk gedurende haar eerste juweelversameling in 1932 juis ’n diamanthalssnoer (bekend as die Comète halsnoer) in die vorm van ’n ster en komeet was.
Oor die juweelversamling het Mademoiselle Chanel gesê: “Ek wou vroue in konstellasies dek. Sterre (!)… Sien hierdie komete, waar die kop op ’n skouer skitter, en die vonkelende stert agter die skouers gly om in ’n stort van sterre op die bors terug te val.
Die skepping van CHANEL Les Exclusifs Comète
Parfumier Oliver Polge sê: Die skepping van hierdie geur vir die Les Exclusifs-versameling het begin met ’n naam. Die naam het werklik as ’n beginpunt gedien. Wat het hierdie naam ontlok? Kan dit uitgedruk word deur ’n reuk? Die doel was om ’n skakel te vind tussen hierdie nuwe idee, die sensuele indruk wat dit gemaak het en wat vanuit ’n reukoogpunt geskep kan word.
Toe ons die naam Comète kies, is ek dadelik getref deur die beeld van deurskynende en delikate glinsterende sterstof. Ek het daarna gestreef om materiële vorm aan hierdie beeld te gee, wat amper ’n magiese gevoel was, deur ‘n pragtige en ongewone poeieragtige komposisie
Parfumier Oliver Polge
COMÈTE is ’n velgeur
Die idee van die pragtige diamant Comète halssnoer wat sensueel teen vel gehang het, was ook die inspirasie dat die fyngeur ’n “velgeur” is.’n Fyngeur wat ’n unieke en amper intieme gevoel skep wanneer dit gedra word. Met verloop van tyd verlewendig die vel die parfuum; ’n geurspoor wat verander na gelang van wie dit dra.
Hoe ruik CHANEL Les Exclusifs Comète?
Ryk en poeieragtig, gesofistikeerd en kompleks.
Die Eau de Parfum bevat ’n vars en delikate kersiebloeisel-akkoord. ’n Spoor van helderheid en suiwerheid wat verander in ’n aura-stel met heliotroopnote wat in ’n wolk van iris-ekstrak en ’n muskus-akkoord saamsmelt.
“Pragtig, magies en lig” is hoe parfumier Oliver Polge dit in drie woorde opsom.
Soos die res van die CHANEL Les Exclusifs-versameling is die CHANEL Les Exclusifs Comète fyngeur slegs by die CHANEL skoonheidsboetiek in Sandton (Johannesburg), Menlyn, Gateway en V&A Waterfront (Kaapstad) te koop.