Ons het so rukkie terug die twee sussie stigters van ‘Own It Cosmetics’ ontmoet. Hulle passie vir veganistiese, natuurlike grimering en die nou band tussen die twee het ons dadelik opgeval. Hulle deel meer oor hulle besigheid en gee ook wenke vir ander familie-lede wat dit oorweeg om saam te werk. Deur Suzanne Kotze
08/07/2022
Own it Cosmetics; die begin

Menique wat ’n sensitiewe vel het en passievol daaroor is om natuurlike produkte te gebruik, het gesukkel om grimering te kry wat vir haar werk. Gedurende inperking het Menique begin navorsing doen toe sy meer tyd op hande gehad het. Sy het begin eksperimenteer nadat sy in Mei 2020 haar eerste bestanddeel ontvang het. Op 1 Julie het sy opgewonde haar grimeerkunstenaar-sussie Zanthé gebel om haar idee te bespreek en die twee sussies het besluit om saam die nuwe besigheid aan te pak.
Vandag doen Menique die formulering, produkskepping en bottelering en Zanthé hanteer bemarking en verkope.
Waar word Own it Cosmetics se produkte gemaak?
Al die produkte word op hulle plaas net buite Klapmuts, Stellenbosch gemaak: “Op hierdie stadium vervaardig ons nog op klein skaal. En die rede waarom ons self alles doen is grotendeels vir kwaliteitkontrole, maar meer belangrik oor ons produkte alles natuurlik en veganis- vriendelik is kan dit byvoorbeeld nie in ’n plek gemaak of gebottel word waar ander produkte ook vervaardig word wat teen ons beginsels gaan nie.”
Die Own it Cosmetics se waardes
- Eerlik en opreg oor produkte se bestanddele.
- Cruelty free! Ons toets self alles.
- Goeie en vriendelike kliëntediens te alle tye.
- Ons sien uitdagings as geleenthede.
- Ons gee nooit op nie.
- Om ander vroue te ondersteun en op te bou.
- Om mense bewus te maak van sekere bestanddele wat nadelig kan wees en om op die uitkyk te wees hiervoor
- Ons werk saam as ’n span en waar een dalk kortkom op ’n dag vul ons mekaar aan met liefde.
Die eerste produk wat Own it Cosmetics verkoop het
His & Her Armpitty, ons natuurlike deodorant. Dit kan bestel word by hulle aanlynwinkel www.ownitcosmetics.co.za
Die sussies se gunsteling Own it Cosmetics produkte
Beide se gunstelinge is

Liquid Foundation (R259,99) Al die onderlaagkleure is beskikbaar in ’n somer en ’n winter skakering, aangesien baie van ons se velle effens ligter is gedurende die winter.

Hydrating Primer (R159,99) Dit bevat hialuroonsuur wat ’n ongelooflike bestanddeel vir bevogtiging is. Zanthé gebuik dit ook as bevogtiger saans. Wend dit aan voordat jy jou grimering aanwend en wag ’n rukkie en wend dan jou onderlaag aan.

Zanthé: “Ek het vreeslik met reuk gesukkel voor dit en was as grimeerkunstenaar altyd selfbewus as ek my arm moes lig om iemand te grimeer.” Die deodorant is spesiaal geformuleer om die slegte reuk van die bakterië in sweet te beveg, sonder dat jy ophou sweet. “Ons liggame moet sweet en ontslae raak van gifstowwe.”
Menique: “Ek kon vir baie lank geen maskara dra nie weens baie sensitiewe oë en van te veel produkte oor die jare gebruik.” Kliek hier om meer te lees hoekom die maskara goed is vir sensitiewe oë.
Wenke vir familie wat saamwerk
Die gesegde “familie en besigheid gaan nooit saam nie” is beslis nie van toepassing by ons nie. Ja ’n mens kry jou verskille soos in enige besigheid tussen kollegas.
- Ons leuse is, wanneer ons werk dan werk ons hard en ons werk SAAM.
- Persoonlike goedjies bly dan op die agtergrond.
- Wees oop en eerlik met mekaar.
- Neem ’n timeout wanneer daar verskille is, en kom dan bymekaar en praat dit rustig uit en wees opbouend.
- Dis belangrik om presies te weet Wie doen Wat en
- dat elkeen dan sy rol 110% vervul want dit bly ’n besigheid.
Die grootste uitdagings om jou eie besigheid te hê
Om jou eie besigheid te begin is dapper en verg baie opofferings (soos ons by Stylvol ook weet!) Ons het vir Menique en Zanthé gevra wat van hulle grootste uitdagings is
- Om ’n naam vir jouself te bou in ’n reeds kompeterende mark!
- Jy is self verantwoordelik vir jou eie inkomste. No work, No pay!
- En moet ook nie dink jy gaan sakke vol geld maak aan die begin nie. Jy gee meer uit om die besigheid op die been te bring.
- Elke dag is ’n leerproses, hetsy dit op ’n admin, finansiële of sosiale media vlak is.
- Maar een punt wat jou nederig hou is jou kliënte, want sonder hulle sou ons besigheid nie kon groei tot waar sy vandag is nie!
Waar kan jy Own it Cosmetics produkte koop?


By hulle aanlynwinkel www.ownitcosmetics.co.za en uitgesoekte gesondheidswinkels.