bob haarstyl Kevin Murphy
bob haarstyl Kevin Murphy

Die mooiste bob-haarstyle gaan jy nou wil dra

Hou jou foon byderhand om jou haarkapper te bel, want hierdie mooi bob-haarstyle gaan jou lus maak om te knip! Daar is min mense by wie die veelsydige bob-styl nie pas nie. Deur Suzanne Kotzé

Oorweeg jy ’n bob-haarstyl? Neem hierdie in ag

1. Jou haartipe

Teensy jy elke dag baie tyd wil afstaan en hitte-stilering doen, kies eerder ’n styl wat by jou haartipe pas.

2. Jou leefstyl

As jy byvoorbeeld gereeld oefen, oorweeg ’n styl wat net, net lank genoeg is sodat jy dit steeds kan vasmaak. Al is die bokstertjie hoe klein, solank die nat, sweterig hare net nie in jou nek hoef te hang gedurende oefening nie. Dit kan weer aanleiding gee tot seborrhea dermatitis (wat ook kan voorkom as knoppe agter jou ore of in jou nek, waar jou vel meer olierig is of sweet).

3. ’n Kuif

Ek is baie lief vir ’n vol kuif, maar gedurende die somermaande, dra ek eerder ’n gordynkuif. Ek swem gereeld en is nie lus om die heeltyd ’n kuif te stileer nie. ’n Vol kuif is ook warm gedurende die somer.

4. Jou gesigvorm

Die bob is so veelsydig, dat daar ’n styl is wat by jou gesigvorm sal pas. Jou stilis sal beslis vir jou hier raad kan gee. ’n Langer snit wat net onder jou ken eindig, werk byvoorbeel goed vir hartjie-vormige gesigvorms, terwyl ’n stomp snit wat bo jou kakebeen eindig, liefs vermy moet word as jy ’n vierkantige gesig het. Kies eerder ’n sagter snit, wat net onder jou kakebeen eindig. As jy ’n ronde gesig het, werk ’n snit wat net onder jou ken eindig, goed.

5. Die hoeveelheid tyd wat jy aan stilering afstaan

Wees hieroor baie eerlik met jou stilis. My hare is geneig om net swaar te hang as dit langer word, en ek blaas nie elke dag my hare nie. En my stilis Charles Junior Louw weet dit. Daarom vra ek gewoonlik vir ’n styl wat ook sal werk as ek dit of net laat droogword en ’n produk soos seewatersproei insit, of net vinnig blaas.

6.Die kleur en toestand van jou hare

As jou hare se toestand broos is, of jy jou hare bleik (soos ek) moenie ’n styl kies waar jy daaglikse hittestilering moet doen nie. Dit gaan op die ou end net jou hare beskadig en dan gaan jy dit dalk al hoe korter moet begin knip.

Die mooiste bob-haarstyle

Die blonde bob-haarstyl

Kevin Murphy noem dit die ‘velvet Flora bob’ en beskyf dit as geweldig modieus, maar tog maklik om elke dag te dra. Kevin Murphy se Color.me kleur is gebruik om hierdie blonde kleur te skep. Foto: Kevin Murphy

Die snit, kleur, lengte en stilering van hierdie bob van Kevin Murphy! Ons kan nie besluit waarvan ons die meeste hou nie. Ideaal as jy reeds ’n effens golf in jou hare het.  

Die presiese bobstyl

Foto: Sanrizz Hair Academy

Hierdie presiese bobstyl is ideaal vir die met reguit hare, of wat nie omgee om hittestilering te doen nie. Tipe A persoonlikhede, hierdie een is vir julle! Nie ’n haar uit plek nie; nou is die truuk om dit so te hou!

Kort bob

Foto: Sanrizz Academy

Hierdie kort styl raam die kakebeenlyn perfek. Kyk net hoe is dit so al saam met die kaak geknip! Dit laat die model se lang en slanke nek ekstra elegant lyk.

Kleur-kollig

Foto: Sanrizz Academy

Die spatsel kleur by die kuif lyk behoorlik soos ’n kollig wat skyn. Hierdie styl is net vir jou as jy baie tyd het vir stilering en gereeld die salon besoek om die kuif en snit eksie-perfeksie te hou.

Bowlcut-bob

Foto: Sanrizz academy

Hierdie bowlcut-bob maak ’n sterk stelling wat veral gewild is onder modebewustes.

Perske en pers

Foto: Schwarzkopf Professional

Ons kan nie besluit wat is mooier nie, sie assimetriese lyne of die sagte pastel skakerings (sagte perske onder met pastel pers bo-oor). Dit is deel van Schwarzkopf Professional se Essential Looks 2021 Magical Whimsy voorkoms. “Ek is mal oor die kontras van hierdie kleure; amper gegradueer, maar die skakering is so tonaal. Dit is amper asof daar lig van agter af skyn wat maak dat alles sag saamsmelt. Dit werk veral goed saam met hierdie perfek gesnyde bob-styl,” sê Lesley Johnson van Schwarzkopf Professional.

Franse sjiek

Foto: Faubourg Saint-Martin – Intercoiffure France Haarstiliste: François MazeauNicolas AstrucAlima BazDavid CogninVincent MoutaultDavid SuquetPascal Thénard fotograaf: Yves Kortum, grimering: Natalia Goff
stilis: Etienne Jeanson 

Hierdie styl sê sommer ‘Franse sjiek’ en dit is juis deur Franse stiliste geskep ook!

Sagte bob-haarstyl

Haarstilis: William De Ridder, De Ridder International; fotograaf: Pat Verbruggen; stilering: Riona Neve; grimering: Axpression

“Whisper me softly” is die naam van die versameling waarvan hierdie styl deel is en die naam pas perfek by die sagte styl met sexy tekstuur. Die styl kan goed aangewend word saam met langer gesigvorms of om hoekige gesigvorms te versag.

Die ‘net-ek’ bob-haarstyl

Met vergunning van (c) Intercoiffure Regio Gruppe Dortmund; Haarstiliste: Alexandra Simon-Teckhaus, Pia Gerdes, Kai Flagmeier, Damla Bilgetekin, Regina Winkler, Fiol Thormann, Andrea Filthaus, Sandra Göbel; grimering: Johanna Flagmeier, Jessica Schipper; fotograaf; Petra Hützen; stilering; Leonie Weigelt

Die Alanis Morisette liedjie “I’m a bitch, I’m a lover, I’m a child, I’m a mother” was die inspirasie vir Duitse Intercoiffure se “Einfach ich” wat beteken ‘net ek’ versameling. Vroue vandag hoef nie ‘of dit of dat’ te wees nie, maar ‘ook en’. Hulle is liefdevolle moeders, suksesvolle sakevroue, dames en glansryke divas. En dit alles in een dag. En met so ’n veelsydige styl kan jy ook presies dit wees.

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Praat jy parfuumnote? En ken jy die geurwiel?
error: Content is protected !!