Om in ’n gemaksone (hetsy dit in werk, fiksheid, leefstyl of verhoudings is) te wees, vervul ’n geldige emosionele behoefte, maar ware verandering en groei vind selde in gemaksones plaas. Wanneer ons gereed is vir die ongemak van iets nuut aan te durf, is wanneer ons ook groei. Deur Suzanne Kotzé

So n ’paar maande gelede tydens ’n stap in die berg, sê ’n goeie vriendin vir my: “Ek kom agter jy doen net dinge waarin jy goed is. Of is jy net een van daai mense wat goed is in alles?” En dit is ek beslis nie. Dit het my daaroor laat dink dat die dinge wat ek doen inderdaad goed is waarmee ek goed en ook gemaklik is.

Dit het my laat besluit om iets aan te durf wat ek my hele lewe lank nog haat en ook glad nie goed mee is nie; draf. Ek het by ’n beginners drafgroep aangesluit, my eerste 5km resies gehardloop en nou draf ek gereeld. Al is ek steeds nie goed daarin nie, begin ek selfs deesdae uitsien daarna. En ek dink terug aan die hoeveelheid kere wat ‘om 5km te hardloop’ op my Nuwejaarsvoornemens-lysie was, sonder dat ek dit ooit eers probeer het. En al wat ek eintlik moes doen, is om uit my gemaksone te kom. (En nou weet ek ook die eerste kilometer voel altyd aaklig en dat jy net moet deurdruk, voordat dit lekker word. En dan myself weer uit te daag om moeiliker en verder roetes aan te durf.)

Gemaksones is gemaklik, nodig en kompleks

Lewensafrigter Nicola Pretorius vertel dat sy gereeld met kliënte in haar praktyk te doen kry wat eerder in hul gemaksone bly as om die ongemak te verduur wat gepaard gaan met ’n skuif na die sogenaamde growth zone.

“Dit is iets wat ’n mens gereeld sien, nie omdat mense lui is of nie wil groei nie, maar omdat die gemaksone ’n baie werklike funksie vervul.

Ek dink spesifiek aan een kliënt wat al buitengewone uitdagings in haar lewe moes oorkom. Sy is ongelooflik sterk en veerkragtig. Tog bevind sy haar in ’n werk wat veilig en bekend is, iets wat sy goed ken en kan doen, maar wat haar terselfdertyd ongestimuleerd en onvervuld laat voel.

Dit wys vir my hoe kompleks die gemaksone werklik is.

Gemaksones gaan nie net oor “veilig speel” nie. Dit gaan dikwels oor beskerming, oor stabiliteit, oor die behoefte om vir ’n rukkie nie nóg spanning by te voeg nie. Om in die gemaksone te bly, vervul dus ’n baie geldige emosionele behoefte,” vertel Nicola.

Die gemaksone-gevaar

Jou gemaksone is verleidelik. Dit voel veilig, voorspelbaar en maklik om na terug te kom, veral na ’n lang dag. En dit is iets wat ons ook nodig het. Maar wanneer gemak té gemaklik raak, en jy keer op keer terugval op gemak in alle areas van jou lewe, kan dit alles van jou gesondheid tot jou verhoudings, selfvertroue en geluk beïnvloed.

Die Yerkes-Dodson-wet

Sielkundiges beskryf die gemaksone as ’n gedragsruimte waar spanning en risiko geminimaliseer word, maar groei ook. Die sielkundige beginsel; die Yerkes-Dodson-wet wys dat ons optimaal presteer wanneer daar matige vlakke van stres plaasvind. Maar ook net tot op ’n punt.

Optimale prestasie vind plaas wanneer daar ’n matige vlak van opwekking (spanning/stres) is. Te min (verveeldheid) of te min (angstigheid) kan tot laer prestasie lei. Eenvoudig gestel: ’n bietjie ongemak (nie te veel of te min nie) is waar die groei-towerkrag gebeur.

“You can choose courage or you can choose comfort, but you cannot have both.”

Brené Brown

Hou gemak jou gevange?

Fisiese gemaksone

As gemak roetine sonder intensie word (jy bestel dieselfde maaltye, jy vermy sekere oefening of verandering ens.) kan dit fisiese gevolge soos lae energie, verminderde fiksheid of selfs ’n stadiger metabolisme tot gevolg hê.

Navorsing gepubliseer in die Journal of Applied Physiology wys dat as jy fisies onaktief is, dit tot spierverlies en stadiger metaboliese funksie kan lei!

As jy byvoorbeeld elke aand op die bank voor die TV neerval en onaktief is, kan dit daartoe lei dat jou spiere kleiner en swakker word. (Soos bevind deur navorsing in die Journal of Renal Nutrition)

Emosionele gemaksone

As jy in ’n emosionele gemaksone is, is vermy jy dit waarskynlik om vir jouself op te staan, om grense te stel, nee te sê of iets nuut te probeer. Oor tyd kan dit jou selfvertroue beïnvloed en jou verhoudings oppervlakkig hou.

Ongemak is dikwels deel van groei

Navorsing van Cornell Universiteit, V.S.A,  wys dat ons groei wanneer ons ongemalik en buite ons gemaksone voel. Die navorsing wys dat om aktief ongemak uit te soek, dit motivering en persoonlike groei aanmoedig. In plaas daarvan om moeilike of ongemaklike situasies te vermy, is mense wat ongemak omhels, meer geneig om te volhard, risikos te neem en meer te leer.

Gedurende die studie is twee groepe deelnemers gevra om eenvoudige take (wat effens ongemaklik en uitdagend kan voel) af te handel. Die hoofverskil was die instruksies:

  • Die een groep is beveel om ongemak te vermy en om gemaklik te probeer voel terwyl hulle die take doen
  • Die ander groep is beveel om aktief op soek te wees na ongemak en om ongemak as ’n teken te sien dat hulle besig is om iets te doen wat die moeite werd is. 

Daarna is beide groepe gevra om moeilike take (soos uitdagende legkaarte) te voltooi. Die gevolg was dat die wat aangemoedig is om ongemak te soek langer deurgedruk het.

Gereedheid vir verandering is belangrik

“Ware verandering gebeur nie bloot omdat iemand weet hulle is ontevrede nie.

Verandering gebeur wanneer daar ’n sekere gereedheid ontstaan, ’n innerlike skuif wat sê, ek is nou bereid om die ongemak te verduur wat met groei gepaard gaan. Die sogenaamde readiness to change.”

Vyf eenvoudige maniere hoe jy uit jou gemaksone kan klim

Jy hoef nie meteens alles te verander nie. Klein, intensionele ongemaklikhede kan jou help om veerkragtighed te bou.

1. Leefstyl: Verbreek die ‘autopilot’ gevoel

  • Neem ’n ander roete werk toe, verander jou roetine, probeer ’n nuwe stokperdjie.
  • Stel mikro-uitdagings (bv. om nie op jou foon te kyk vir die eerste 20 minute nadat jy wakker geword het nie, om of bietjie vroeër op te staan.)
  • Nuwe uitsappies; gaan eet by ’n restaurant buite jou woonbuurt, swem in die see, probeer om te sauna.
  • Gaan weg vir die naweek na ’n dorpie waar jy nog nooit was nie.

2. Fiksheid: Oefen, meer as net geMAKlik

  • Voeg kort intensiewe oefening (soos interval oefening) by jou roetine.
  • Stap of hardloop teen ’n bult uit (veral as jy gewoonlik plat oppervlaktes verkies)
  • Probeer ’n oefenklas wat jy nogal altyd vermy (Pilates, boks, joga, gewigte ens.)
  • Gebruik swaerder gewigte

3. Eet: Verbreed you gewoontes

  • Probeer elke week iets eet wat jy nie gewoonlik eet nie.
  • Maak ’n resep wat moeilik voel.
  • Daag emosionele eetpatrone uit, dink voor jy net iets in jou mond prop. Drink dalk ’n koppie tee of ’n glas water of stap om die blok.

4. Werk: Omhels groei

  • Bied aan om ’n taak te doen wat jou vaardighede uitdaag 
  • As jy gewoonlik stil is tydens vergaderings, deel jou idees. Al is dit geleidelik. Hoe meer jy dit doen, hoe makliker word dit.
  • Leer iets nuut, iets wat effens intimiderend is.

5. Verhouding: eerlikheid bo gemak

Jare se ‘ek sê eerder niks’ wanneer goed jou pla, bou dikwels op tot verbitterheid.

  • Hê die ongemaklike gespek wat jy vermy
  • Wys waardering en liefde meer openlik
  • Inisieer seks (veral as dit nie gewoonlik van jou kant af kom nie)
  • Stel perke waar nodig.

Onthou egter die doel is nie om in konstante ongemak te leef nie. Om veilig te voel, te rus en in gemaksones te wees, is nodig. Die doel is om tussen gemak en ongemak te beweeg.

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Drie eenvoudige en volhoubare maniere om jonger te voel en beter te leef
error: Content is protected !!