In ’n tyd waarin dekortrends vinniger kom en gaan as wat dit op TikTok trend, skep die Neo-Classica dekorvoorkoms ’n veilige hawe van tydlose, tradisionele elegansie. Deur Suzanne Kotzé
Wat is die Neo-Classica dekorvoorkoms
Die inspirasie agter die Neo-Classica, of nuwe klassieke dekorvookoms is die effens hoogdrawende, maar klassieke Griekse en Roomse huis uit die 18de eeu. Dink aan groot simmetriese kolomme teen mure, boë en afwerkings soos marmer en hout.
Kenmerke van die Neo-Classica dekorvoorkoms
1. Argitektoniese details


Lyswerk, elegante kroonlyste, kolomme en plafondetails is kenmerkende eienskappe van die Neo-Classica voorkoms en gee diepte aan vertrekke.
2. Simmetrie

Proporsie en balans en vertrekke en meubels wat simmetries gerangskik is om ’n gevoel van orde en harmonie te skep is nog ’n kenmerk.
Hoë plafonne en groot vensters wat baie natuurlike lig inlaat met plafon tot vloer gordyne skep ’n indrukwekkende gevoel van luukse elegansie.
3. Eenvoudige kleurpalet
Die kleurpalet is eenvoudig en elegant; wit, grys, sagte kleure soos blou, groen of geel met aksentkleure swart, silwer of goud.
4. Luukse lap en klassieke motiewe
Lap met ryk tekstuur en klassieke motiewe (soos blare en kranse) pas by die voorkoms.
5. Groot spieëls, kunswerke en bykomstighede

’n Galerymuur pas beslis nie by hierdie voorkoms nie. Dink eerder aan een groot spieël (wat vars blomme reflekteer), ’n groot kunswerk of ’n kassie met een of twee beelde daarop.
6. Kandelaar


Hetsy dit ’n meer tradisionele kristalkandelaar of ’n meer moderne ontwerp; ’n kandelaar (in die middel van die vertrek) pas goed hierby.
Skep die voorkoms só
Ja jy kan steeds die voorkoms gebruik (al het jy dalk nie hoë plafonne en groot vensters nie). Binnehuise-ontwerper Erica Schalkwyk sê: “Ek dink die styl kan werk in enige spasie solank die meubels en afronding luuks en dramaties is.”
Doen dit self lyswerk en kroonlyste
Jy kan lyswerk, kroonlyste en vloerlyste by die meeste bouwinkels koop. Jy betaal per meter en doen bloot ’n patroonherhaling. Die patrone wat jy op mure sien is ’n eenouvdige kroonlys en vloerlys wat op die muur geplak is en oor geverf is. Dit is ’n maklike doen dit self projek.
Kies moderne, abstrakte kuns
As jy kuns kies, kies ’n werk wat modern en abstrak is sodat dit ’n jukstaposisie vorm met die mure met kolomme en patrone op. So lyk dit soos ’n moderne aanslag van neo-klassieke ontwerp.
’n Mooi, moderne bank
’n Moderne ontwerpersbank en koperlamp kan soos ’n galery van mooi objekte lyk in ’n klassieke, antieke omgewing.








