Die Deense ouerskapstyl maak wêreldwyd opslae vir sy fokus op balans, welstand, en daardie gesellige Deense konsep hygge. As jy al ooit gewonder het hoe die Dene daarin slaag om gelukkige, veerkragtige kinders groot te maak, lees gerus hier. Deur Milan Murray van The My Story Tribe.
Deense ouerskapstyl volgens The Danish Way of Parenting
MIlan Murray het onlangs ’n onderhoud gedoen met Iben Sandahl, mede-skrywer van die gewilde boek “The Danish Way of Parenting”. Luister gerus die onderoud hier en lees die boek.
Hier is die hooftrekke van die boek. Ons deel dit graag met elke ouer wat hulle eie ouerskapstyl onder die soeklig plaas:
1. Die waarde van hygge in ouerskap
Eerstens: hygge (uitgespreek HUE-gah) is ’n fundamentele konsep in die Deense kultuur. Dit gaan oor die skep van ’n warm, gesellige atmosfeer en die genieting van die eenvoudige plesiertjies van die lewe.
In terme van ouerskap beteken dit om ’n huislike omgewing te bevorder wat veilig, gemaklik en koesterend voel.
So kan jy ook hygge by jou gesinsroetine inbring:
Skep gesellige ruimtes
Maak jou huis ’n toevlugsoord. Steek kerse aan, gebruik sagte komberse en speel kalmerende musiek. Moedig gesinslede aan om saam in hierdie gesellige ruimtes te ontspan, of dit nou is vir ’n speletjie-aand of ’n ontspanne Sondagmiddag van boeklees en kuier.
Fokus op saamwees
Spandeer kwaliteit tyd saam sonder afleidings. Geniet eenvoudige aktiwiteite soos om ’n maaltyd saam te kook, bordspeletjies te speel, of saam te gaan stap. Dit gaan nie oor groot gebare nie, maar eerder die vreugde wat in saamwees lê.
Omhels “klein oomblikke”
Vier alledaagse oorwinnings en skep tradisies wat klein vreugdes beklemtoon. Of dit nou ’n Vrydagaand-film met springmielies is of ’n Sondagoggend-pannekoek-ontbyt, hierdie rituele bou ’n gevoel van gemak en behoort.
2. Die belangrikheid van selfstandigheid en onafhanklikheid
Deense ouerskap beklemtoon die belangrikheid daarvan om kinders die ruimte te gee om selfstandigheid en onafhanklikheid te ontwikkel.
Dit beteken nie om hulle alleen te laat nie, maar eerder om hulle te lei om selfstandig en verantwoordelik te wees.
Hier is hoe jy jou kind se groei op hierdie gebied kan ondersteun:
Moedig besluitneming aan
Laat jou kind toe om ouderdomsgeskikte besluite te neem: die keuse van hulle kleredrag of ’n na-skoolaktiwiteit. Om hulle ’n stem te gee, bevorder ’n gevoel van beheer en selfvertroue.
Bevorder probleemoplossing
In plaas daarvan om probleme vir jou kind op te los, moedig hulle eerder aan om hul eie oplossings te vind. Dit leer hul veerkragtigheid en kritiese denke, wat hulle help om uitdagings met ’n positiewe gesindheid aan te pak.
Ondersteun hul belangstellings
Laat jou kind hul passies verken, selfs al stem dit nie ooreen met jou verwagtinge nie. Om hulle belangstellings te ondersteun, help hulle om hul selfbeeld te bou en vreugde in hulle drome te vind.
3. Die rol van speel en buitemuurse aktiwiteite
In Denemarke is speel nie net ’n tydverdryf nie; dit is ’n noodsaaklike deel van kinderontwikkeling. Die Deense manier moedig aktiewe spel en buitemuurse aktiwiteite aan, ongeag die weer. Hier is hoe jy hierdie beginsel in jou gesinslewe kan inkorporeer:
Trotseer die weer!
Moenie toelaat dat die weer jou afskrik van buitelugpret nie. Trek aan en gaan stap, ry fiets of besoek ’n park. Vars lug en fisiese aktiwiteit is wonderlik vir beide fisiese en geestelike welstand.
Maak speel ’n prioriteit
Reserveer elke dag tyd vir ongestruktureerde spel. Aktiwiteite soos blokkiesbou, “dress-up”, of ’n danspartytjie in die sitkamer help kinders om kreatiwiteit, sosiale vaardighede en emosionele intelligensie te ontwikkel.
Moedig verkenning aan
Laat jou kind toe om die natuur te verken. Wees nuuskierig! Laat hulle in die grond grawe, blare versamel of insekte observeer. Hierdie ervarings is nie net lekker nie, maar help hulle om die wêreld rondom hulle te ontdek.
4. Die waarde van gemeenskap en verbinding
Deense ouerskap plaas ’n sterk klem op die belangrikheid van gemeenskap en sosiale verbindings. Om ’n ondersteunende netwerk te bou en sterk verhoudings te bevorder, is sleutelkomponente hiervan. Hier is hoe jy hierdie aspek in jou gesin kan kweek:
Bou ’n ondersteunende netwerk
Omring jouself met vriende en familie wat jou waardes deel en ondersteuning bied. Om ’n sterk ondersteuningsnetwerk te hê, kan ouerskap makliker en aangenamer maak.
Bevorder sosiale vaardighede
Moedig jou kind aan om vriendskappe te bou en aan groepsaktiwiteite deel te neem. Sosiale interaksies leer belangrike vaardighede soos empatie, samewerking en kommunikasie.
Neem deel aan gemeenskapsgeleenthede
Betrek jou gesin in plaaslike geleenthede of organisasies om hulp te verleen. Of dit nou ’n straatbraai of ’n gemeenskapsdiensprojek is, aktiewe deelname in jou gemeenskap help om ’n gevoel van konneksie te skep.
5. Balans tussen dissipline en empatie
In Milan se onderhoud met Iben vra sy die vraag: Hoe moet ons disiplineer?” Iben antwoord: “Ons hoef nie. Gebruik gesprek, nie ultimatums nie. Ultimatums is eenrigtingkommunikasie.”
Dissipline in Deense ouerskap gaan oor die vind van ’n balans tussen die stel van grense en die toon van empatie. Dit gaan nie oor ‘wat jy toelaat’ of ‘hoeveel jy beskerm’ nie, maar eerder oor om jou kind te lei met begrip en respek. Hier is hoe jy hierdie benadering kan implementeer:
Stel duidelike verwagtinge
Wees konsekwent met reëls en verwagtinge. Maak seker dat jou kind verstaan hoekom sekere gedrag verwag word en wat die gevolge is van ongehoorsaamheid.
Luister en beaam
Wanneer konflik ontstaan, luister na jou kind se perspektief en erken hulle gevoelens. Beaam hulle bekommernisse met empatie en werk saam om ’n oplossing te vind.
Wees ’n positiewe voorbeeld: Kinders leer deur wat gemodelleer word. Wys hulle hoe om frustrasies te hanteer, effektief te kommunikeer en konflik op ’n respekvolle manier op te los.
6. Moedig ’n groei mentaliteit aan
Laastens, Deense ouerskap beklemtoon die kweek van ’n groei mentaliteit, waar moeite en volharding meer waardeer word as aangebore talent. Hierdie mentaliteit help kinders om uitdagings met veerkragtigheid en ’n positiewe houding te benader. Hier is hoe jy dit in jou gesin kan bevorder:
Prys die poging
Erken en vier jou kind se pogings en harde werk eerder as om net op resultate te fokus. Dit moedig hulle aan om op volharding en deurlopende verbetering te konsentreer.
Omhels foute as leer-geleenthede
Leer jou kind dat foute ’n natuurlike deel van leer is. Help hulle om mislukkings te sien as geleenthede om te groei en te verbeter, eerder as ‘n terugslag.
Moedig nuuskierigheid aan
Ondersteun jou kind se nuuskierigheid en bereidwilligheid om nuwe dinge te probeer. Of hulle nou ’n nuwe stokperdjie verken of ’n moeilike probleem aanpak, bevorder hulle sin vir misterie en verkenning.
Om die Deense ouerskapstyl aan te hang is meer as net die aanname van spesifieke praktyke; dit gaan oor die bevordering van ’n liefdevolle, ondersteunende, en vreugdevolle omgewing vir jou gesin.
Deur hygge in te sluit, onafhanklikheid aan te moedig, speel te prioritiseer, gemeenskap te bou, dissipline met empatie te balanseer en ’n groei mentaliteit te kweek, kan jy ’n koesterende huis skep waar jou kinders floreer.
Aktrise Milan Murray is die stigter van The My Story Tribe. Sy is ’n ma van twee en passievol oor die emosionele welwees, groei en geestesgesondheid van kinders.