Oorweeg jy ’n detoksdieet? Lees dalk eers verder – voordat jy jou bankkaart uithaal. Help jou liggaam só om te ontgif. Deur Liezel Engelbrecht, geregistreerde dieetkundige
Dit is baie algemeen om advertensies te sien vir diëte, -aanvullings of -drankies wat “ontgifting” (detoxing) belowe. Dit klink dalk aanloklik om ’n pil te sluk of vir twee weke ’n versappingsdieet te volg om maande van ongesond leef uit te vee of om jou stelsel te ‘reset’. Dit maak egter nie wetenskaplik sin nie.
Die goeie nuus is egter dat jy organe en slim biologiese stelsels het het wat heeltemal in staat is om jou te ontgif, selfs as jy elke nou en dan toegee tot minder gesonde gedrag.
Jou lewer, niere, longe, spysverteringskanaal en vel verrig uitstekende werk om jou liggaam teen ongewenste gifstowwe te beskerm, en dit wat die stelsel wel binnedring, te verwyder.
Van waar af kom die gifstowwe wat veronderstel is om verwyder te word?
Gifstowwe kan eksogeen wees. Dit beteken dat dit afkomstig is van buite die liggaam, soos chemikalieë, lug- of waterbesoedeling, byvoegings (additives) by voedsel en van medisyne. Gifstowwe kan ook endogeen wees(afkomstig van prosesse binne-in die liggaam, byvoorbeeld as afvalprodukte van sekere metaboliese prosesse). Jou vel en spysverteringskanaal help grotendeels om ongewenste stowwe buite te hou en te verhoed dat dit in die bloedstroom beland, terwyl jou lewer, niere, longe, dikderm en immuunstelsel (wat onder meer jou limfstelsel insluit)werk om die ongewenste stowwe wat wel deurdring, asook afvalstowwe, te neutraliseer, te beveg of te vernietig.
Kan jy jou ontgiftingstelsel ’n hupstoot gee?
Alhoewel sekere leefstylpraktyke soos langdurige oormatige inname van kalorieë, ‘n dieët arm aan voedingstowwe, rook, onaktiwiteit, swaar drinkgewoontes en dwelmmisbruik jou liggaam se verdediging kan verswak en jou ontgiftingsorgane en -stelsels kan beskadig, sal suurlemoensap, selderysap of appelasyn dit beslis nie regstel nie.
Hier is wat jy kan doen om ontgiftingsorgane te help om hulle op hul beste te laat presteer:
• Drink genoeg skoon water (ongeveer 20-40 ml per kg liggaamsgewig). Dit sal verseker jy bly gehidreerd, en dat jou niere optimaal funksioneer om van gifstowwe ontslae te raak.
• Slaap genoeg. Die gemiddelde volwassene het ongeveer sewe tot nege ure se slaap nodig per nag. Slaap is belangrik vir die optimale herstel en funksionering van ons dag-tot-dag biochemiese prosesse.
• Moenie alkohol misbruik nie. Jou lewer is jou hoof-ontgiftingsorgaan, en oormatige alkohol en dwelms kan hierdie kernorgaan beskadig.
• Volg ’n eetpatroon wat dermgesondheid en ‘n gesonde immuunstelsel bevorder.
Met ander woorde, eet kos wat ryk is aan prebiotiese vesel en mikrovoedingstowwe. Probeer dus om baie groente, vrugte, peulgewasse (lensies en bone) en volgrane te eet, en minder verfynde stysels en ultraverwerkte kosse in die inkopiemandjie te laai.
• Probeer ook om minder verwerkte vleis en rooivleis te eet en dit af en toe met plant proteïne of vis te vervang.
• Wees aktief (ongeveer 150 minute per week). Behalwe vir hart- en longesondheid kan dit ook baie ander voordele inhou, soos gewigbestuur.
• Handhaaf ’n gesonde gewig. Oormatige inname van kalorieë kan veroorsaak dat vetselle rondom organe en in die lewer opgaar, wat die lewer se vermoë om optimaal te funksioneer kan verhinder.
• As jy rook, is dit ’n goeie ding om op te hou. Rook beskadig die longe en verhoog die hoeveelheid gifstowwe in jou liggaam wat geneutraliseer en verwyder moet word.
Waarom beweer mense dan dat hulle beter voel op ’n detoksdieet?
As jy meer vloeistowwe drink as gewoonlik, meer groente en vrugte inneem (selfs in die vorm van ’n sap) as gewoonlik, en minder alkohol, oormatige suiker en hoogs verwerkte kos inneem as gewoonlik, sal die meeste mense beter voel. Maar dit is nie noodwendig as gevolg van die detoksdieet of -sappe nie.
As jy alkohol, vetterige kos, suiker en verwerkte kos in jou dieet verminder, en ‘n gebalanseerde dieet met volop water en ryk aan gesonde plantvette (soos neute, avokado en olyfolie), groente, vrugte, plantproteïene, volgrane (pleks van verfynde koolhidrate en bygevoegde suikers) vetterige vis (soos salm en tuna), matige inname van suiwel en beperkte inname van maer vleis volg, sal dit jou ook help om beter te voel. Dit is boonop meer volhoubaar in die langtermyn. Hoewel ’n groen gladdejantjie (smoothie) met voedingsryke plante heerlik kan wees vir ’n ontbyt of versnapering, sien dit as ‘n byvoeging tot jou gesonde dieet, eerder as ’n korttermyn kitsoplossing.
Maar is dit skadelik om ‘n detoksdieet te volg?
As jy steeds ‘n detoksdieet wil volg, is dit goed om net bewus te wees van die moontlike risiko’s verbonde aan jou spesifieke plan of behandeling. Hoewel sommige bewerings in advertensies of onderskryf deur die winkeleienaar wetenskaplik mag klink, wees maar altyd skepties oor aansprake wat te goed klink om waar te wees en nie deur die groter wetenskaplike gemeenskap ondersteun word nie. Onthou ook dat die mense wat die aannames maak ‘n finansiële belang het in die produk wat hulle bemark of verkoop. Afhangend van die tipe detoksplan wat jy volg, is daar onder andere die volgende moontlike risikos:
• Jy kan geld mors
• Jy kan spiermassa verloor (veral as jy min of geen proteïenryke kos eet nie, en kalorieë drasties beperk)
• Jy kan tandemalje erodeer (as jy baie suur vloeistowwe drink soos suurlemoenwater)
• Jy kan moeg voel en sukkel om te konsentreer (as jy die inname van sekere voedselgroepe beperk)
• Jy kan hardlywig raak as gevolg van swak veseliname (as vaste kosse deur vloeistowwe vervang word)
Gesondheid is ’n leefstyl, so mik eerder vir ’n volhoubare, gebalanseerde eetpatroon eerder as as ’n streng detoksplan met baie reëls wat jou verhouding met kos dalk kan beskadig.
Liezel Engelbrecht is ’n geregistreerde dieetkundige van Kaapstad. www.liezelthedietitian.com.
Besoek adsa.org.za vir ’n dieetkundige in jou area.
Vrywaring: Hierdie hulpbron is slegs vir opvoedkundige doeleindes en kan nie ’n individuele assessering of behandeling deur jou dokter of dieetkundige vervang nie.