Ons het hierdie nuwe onderlaag, Clarins Everlasting Long-Wearing & Hydrating Matte Foundation, getoets en hier is ons bevinding. Deur Suzanne Kotzé
Clarins Everlasting Long-Wearing & Hydrating Matte Foundation
1. Dit bied beslis meer dekking as waaraan ons gewoond is
Ek verkies gewoonlik glansende onderlaag wat ligter dekking gee, maar ek het al vergeet hoe foutloos onderlaag met meer dekking jou kan laat lyk. Dit is veral handig as jy ook met maskervel sukkel. Ek en Justine het altwee onlangs sulke reuse rooi karbonkels gekry (natuurlik op ’n dag wat ons moes foto’s neem) en met hierdie onderlaag was dit skaars sigbaar. Ook daardie rooiheid waarmee ek soms sukkel as ek rondjaag en by die trappe op en af skarrel, of ’n glas wyn of twee gedrink het, of voor die kaggel sit, was glad nie sigbaar nie.
2. Minder is meer
As jy soos ek nie gewoond is aan onderlaag wat meer dekking gee nie, begin met so ’n halwe pompie. Ek het aanvanklik te veel uitgedruk en het met baie oortollige onderlaag op my hand gesit wat ek moes afwas. Gewoonlik meng ek onderlaag wat meer dekking gee met van my vogroom as ek die dag nie so baie dekking wil hê nie. Dis presies wat ek met dié ook gedoen het. Aanvanklik het dit gelyk asof dit nie wou insmeer nie en ek het eers gedink ’n mens moet dit dalk nie meng nie. Maar nadat ek dit goed aan my gesig gevryf het, het dit wel gewerk.
3. Smeer dit goed in
Die onderlaag is minder loperig as onderlaag waaraan ek gewoond is, en omdat die dekking meer is, is dit noodsaaklik dat jy dit goed insmeer. Anders kan lyne sigbaar wees.
4. Dit voel lig
Al gee die onderlaag goeie dekking wat aanbly, voel dit baie lig op jou vel. Met sommige onderlae is jy die heeltyd bewus daarvan dat jy onderlaag aanhet, met dié een nie.
5. Dit bly aan
Dit bly regtig aan. Geen onderlaagmerke op jou foon as jy klaar gepraat het nie en skaars onderlaag op jou masker. Nadat ek hierdie onderlaag aangewend het, moes ek twee ure lank ’n masker dra en gewoonlik weet jy al jou onderlaag smeer aan jou masker af. Ek het toevallig die spesifieke dag ’n weggooimasker gedra en daar was skaars ’n merkie daarop sigbaar teen die tyd dat ek dit afgehaal het.
Clarins Everlasting Long-Wearing & Hydrating Matte Foundation (R560, clarins.co.za)