Carmen Niehaus se vadersdag-resepte
Carmen Niehaus se vadersdag-resepte

Carmen Niehaus se Vadersdagresepte

Bekende kosredakteur Carmen Niehaus se Vadersdagresepte wat jy voor die tyd kan voorberei sodat jy meer tyd saam met jou familie op Vadersdag kan deurbring. 

Carmen Niehaus se Vadersdagresepte

Soetsuur varkribbetjies of -tjops

Carmen Niehaus soetsuur varbribbetjie
Foto: David Briers

Varkribbetjie is altyd ’n wenner, veral as jy dit oor die kole doen. Hier span ek my doodmaklike “go-to” suurlemoen-en-sojasous-smeersel in om geur aan die rib toe te voeg. Oosterse smake werk baie goed saam met vark, daarom voeg ek ’n bietjie Chinese speserypoeier by, maar jy kan dit uitlaat. 

Genoeg vir 4 mense

Voorbereiding: 15 min

Gaarmaak: 30-40 min

Smeersel 

90 ml (6 e) suurlemoensap en skil van 1 suuremoen

90 ml (6 e) heuning

45 ml (3 e) sojasous

6—8 knoffelhuisies, gekneus

2 brandrissies, ontpit en gekap (opsioneel)

3-5 ml (ruim ½ -1 t) Chinese 5/7-speserypoeier 

Vark

1 varkribbetjie van sowat 1,5 kg 

Sout en peper

VIR VOORSIT

4 Granny Smith appels, gekap

45 ml (3 e) suiker

125 ml (½ k) water

60 ml (¼ k) botter

3 Suurlemoene of lemmetjies vir voorsit

30 ml (2 e) Szechuan- of swartpeperkorrels

Maak dit so

Voorverhit die oond tot 180°C.

1 SMEERSEL Meng al die bestanddele saam.

2 VARK Geur die ribbetjie met sout en peper en smeer die smeersel oor. Marineer vir 3-4 uur. Oondbraai 30-40 minute totdat dit sag en gaar is. (of braai 45-60 minute oor matige kole). Smeer gereeld met die smeersel. Sny in ribbetjies, smeer die vleiskante ook met die smeersel en oondbraai vinnig tot bros.

3 VOORSIT Kook die appels, suiker en water saam tot sag. Plaas saam met botter en peper in ’n voedselverwerker en maak fyn.4 Sit appelmoes en lemmetjies voor saam met ribbetjies

Japtrapbrood

Foto: David Briers

Die brood word sommer met bruismeel en karringmelk gemaak, jy kan selfs bier gebruik. Bo-op versier ek dit graag met groente. Vir nog minder moeite kan jy brooddeeg by die winkel koop en ook lekker rondspeel daarmee. Heerlik by die varkribbetjie.

500 g bruismeel

Knippie sout

250 ml (1 k) gekapte stingeluie

500 ml (2 k) karringmelk of bier

1 rooi ui, gehalveer of jong beetjies

’n Paar stingeluie

1 wiel feta-kaas, in growwe stukke gebreek

Peper en seesoutvlokkies

Maak dit so

Voorverhit die oond tot 190°C. Smeer ’n 20 cm-losboomkoekpan.

1 Meng bruismeel, sout, gekapte stingeluie met karringmelk tot ’n sagte, maar nie te slap deeg. 

2 Skep in die koekpan. 

3 Rangskik die ui bo-op en pak ’n paar stingeluie langsaan. Pak stukke peperfeta-kaas op. Sprinkel peper en seesoutvlokkies oor.

4 Bak vir sowat 1h 20 minute tot gaar. Sit voor met botter of olyfolie of olyfsalsa.

Olyfsalsa

Kap 4-6 swart olywe fyn, breek ’n wiel peper-fetakaas in stukke, meng met 1 gekapte knoffelhuisie,’n handvol gekapte pietersiele en pampoenpitte en genoeg olyfolie. Sit voor saam met die brood.  

Variasie: bolletjies met groente bo-op

Rol die deeg in bolletjies en pak in ’n gesmeerde broodpan. Druk klein beetjies, wortels of uie met lowwe en al binne-in en bak.

Variasie: broodrol met vulsel

Rol deeg plat uit (jy kan ook gekoopte brooddeeg gebruik). Pak lang stele prei of stingeluie saam met stukke sterk kaas en biltong in die middel. Rol toe en druk heel koffelhuisies bo-op in. Smeer met botter en bak sowat 40-45 minute lank of totdat ’n toetspen skoon uitkom as jy dit in die middel indruk. Sit voor met ekstra biltong.

Sjokolade-looppoeding

Foto: David Briers

Sit die sjokolade-poedinkies met sy lekker souserigheid saam met roomys voor. 

Maak 4-6 poedings

Voorbereiding: 10 min

Baktyd: 12 min

Poeding

250 ml (1 k) versiersuiker

160 ml (⅔ k) fyngemaalde amandels

110 ml koekmeel

150 g donkersjokolade

50 g botter

6 ekstra-groot eierwitte

Sous

125 ml (½ k) bruinsuiker

45 ml (3 e) kakao

2 ml (½ t) kitskoffiekorrels

125 ml (½ k) kookwater

Maak dit so

Voorverhit die oond tot 180°C. Spuit 4-6 oondvaste bakkies (ramekins) goed met kossproei.

1 POEDING Meng die versiersuiker, amandels en koekmeel saam.

2 Smelt die sjokolade en botter in ’n glasbak oor kookwater.

3 Klits die eierwitte styf en roer ’n derde van die versiersuikermengsel hierby in.

4 Vou die gesmelte sjokolade en res van die versiersuikermengsel om die beurt in.

5 Skep in die voorbereide bakkies en bak vir sowat 12 minute totdat die buitekant net gaar en stewig is.

6 SOUS Meng die bruinsuiker, kakao, kitskoffiekorrels en kookwater saam en giet oor die poedings. Laat intrek en sit voor met roomys.

Carmen Niehaus

Foto: David Briers

Bekroonde kosredakteur Carmen Niehaus deel nog heerlike resepte op haar Facebook blad of op Instagram. Volg haar gerus.

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Die sterreruim is die inspirasie vir die nuwe CHANEL Les Exclusifs Comète fyngeur
error: Content is protected !!