Bottergeel val net mooi tussen ’n pastel en ’n neutrale skakering wat hierdie geel skakering verbasend maklik en veelsydig maak om te dra. As jy dink aan helder geel skakerings of selfs mosterd geel skakerings is bottergeel nie naastenby so oorweldingend nie, eerder sag, stylvol en subtiel. Hier is 5 wenke om bottergeel te stileer.
Bottergeel voel soos balans, helder genoeg om jou gemoed te lig en te laat glimlag, maar steeds kalm genoeg vir elke dag se dra. Deur Justine Kroes
5 Wenke om bottergeel te stileer:
1. Hou jou velkeur in gedagte
Geel is dalk nie vir almal nie, maar dra dit slim.
Indien jy ’n ligte veltoon het, kies liefs ’n dieper bottergeel skakering om te verhoed dat jy bleek en uitgewas lyk. Vir die met ’n donkerder velskakering sal die kontras tussen lig en donker mekaar goed komplementeer.

As jy steeds onseker is of bottergeel werklik by jou veltoon pas, probeer om dit nie naby aan jou gesig te dra nie of dra ’n “buffer” skakering daarby. Byvoorbeeld ’n geel romp/broek met ’n ander kleur bloes.
2. Dra dit kop tot tone monokromaties

Dit mag dalk vir jou te uitdagend voel om kop tot tone bottergeel te dra, maar dit is beslis die probeerslag werd. Eksperimenteer met ligter en donkerder bottergeel skakerings om subtiele diepte by jou uitrusting te voeg. Dink net gou hoe stylvol sal ’n bottergeel blazer of onderbaadjie lyk by ’n bottergeel wyepyp broek, ’n sterk uitrusting maar steeds sag en vroulik.
3. Gebruik bottergeel as aksentkleur in jou uitrusting

Nie gereed om jouself oor te gee aan kop tot tone bottergeel nie? Toets dan eers die bottergeel waters en dra dit in bykomstighede. ’n Bottergeel handsak, bottergeel balletskoene of selfs ’n bottergeel syserp of keps.

Hierdie stileertruuk bied daardie tikkie stylvolle luuksheid aan jou voorkoms en sal beslis jou volgende denim voorkoms meer modieus laat lyk.
4. Probeer verskillende kleurkombinasies
Bottergeel werk verbasend goed by ’n hele klomp skakerings. Dra dit by sjokoladebruin vir ’n retro modegevoel.


Of dra dit by poeierblou vir ’n sagte modieuse voorkoms.

Vir hoë kontras kan jy selfs jou bottergeel by grys of donkerblou dra, die bottergeel skakering lyk so sjiek daarby.

Dra jou bottergeel by pienk vir ‘n trendy voorkoms.

Jy kan dit natuurlik ook by neutrale soos beige of wit dra vir ’n meer minimalistiese skoon modevoorkoms.
5. Dra dit formeel of gemaklik
Hierdie skakering werk goed vir beide formele en minder formele uitrustings.
Vir ’n gemaklike voorkoms dink aan bottergeel T-hemde by linne broeke. Of selfs ’n bottergeel truitjie by jou jeans, ’n voorkoms wat moeiteloos stylvol lyk.
Vir ’n meer formele voorkoms dink aan bottergeel in luukse skakerings en teksture. ’n Satyn slooprok voel tydloos elegant. Selfs ’n bottergeel pak kan werk vir ’n meer formele uitrusting idee.
Dink gerus aan jou bottergeel uitrusting as sonskyn in materiaalvorm, modern maar sag en warm, ’n mode skakering wat eindelose vreugde bring.
Hier is nog ‘n paar bottergeel gunstelinge nou beskikbaar:
Lees ook: 10 somerskoenstyle op ons mode radar


















