Praat jy rokke? Kan jy al die verskillende style uitken, en die regte name sê? Met hierdie lys van 22 verskillende rokontwerpe, ’n beskrywing van elk, en hoe om dit te dra, sal jy blitsvinnig die modetaal kan praat. Deur Justine Kroes
1. Midi-rok
Hierdie rok se lengte val tussen ’n mini en ’n maksirok, gewoonlik net so onder die knieë. ’n Vleiende lengte veral vir dames wat graag rokke wil dra maar selfbewus is om hul bene te wys.
2. Minirok
Vanaf die vroeë 1960’s toe dit die eerste keer op die loopplank gesioen is, bly die minirok ’n gunsteling. As jou bene een van jou beste bates is, is ’n mini-styl rok ’n moet hê item.
Wenk: as jy korter bene het kan ’n minirok met ’n paar hakskoene daarby, jou bene langer laat vertoon. Vir koeler wintermaande kan jy altyd ’n paar donker sykouse by jou minirok dra om dit ’n veelsydige kledingstuk te maak.
3. Maksirok
Die maksirok is ’n lang rok wat net onder jou enkels val. ’n Tydlose en natuurlike gemaklike item vir die somer, elke sesisoen beskikbaar in verskeie skakerings, patrone en unieke ontwerpe.
4. Midaksirok
Die midaksirok is die roklengte wat net tussen die van die midi- en maksi-styl rok val. Die soomlyn val net bo die enkels maar eindig net onder die kuite.
Hierdie is nie altyd die vleiendste lengte om te dra nie omdat dit maklik soos ’n maksi rok kan lyk wat te kort is. Hierdie styl werk veral goed op langer dames of dames met lang bene.
5. Slooprok
Hierdie rokstyl was veral groot in die sestigerjare, dit hang regaf van jou skouers af. Die reghoekige boks-styl snit is gewoonlik mouloos en minimalisties, meestal beskikbaar in korter style. ’n Styl wat veral goed lyk aan atletiese en appelvormige figure – dit is nie ’n noupassende styl nie, is verslankend en beklemtoon jou beste bates soos jou arms en bene.
6. Noupassende rok (bodycon)
Die noupassende rok, is presies dit, ’n rok wat styf om jou figuur pas om al jou beste bates te vlei. Gewoonlik ontwerp in ’n rekbare materiaal en sit super-styf om jou kurwes. Die noupassende rok is ’n goeie keuse vir die uurglas lyfvorm, dit beklemtoon al jou kurwes, veral jou klein middel.
Wenk – dra gerus vormdrag by jou noupassende rok om die voorkoms van enige knoppies of selfs sigbare onderklere te verbloem/versag.
7. A-lyn rok
Die A-lyn styl lyk presies soos ’n A. Nouer rondom jou skouers, maar klok uit vanaf die boonste gedeelte van jou heupe en die onderkant is meer sirkelvormig en wyer as ander rokke. Hierdie styl is vleiend aan die meeste figure, dit beklemtoon jou middel en val sag oor heupe en bobene.
8. Oorvou-rok
In lyn met die A-lyn styl is die oorvou rok ook vleiend aan die meeste liggaamstipes. Die oorvou rok word vanaf een kant bo oor die ander kant gevou, en vasgebind of ingetrek om die middelyf. Dit word ook gekenmerk aan ‘n v-halslyn.
Hierdie styl is veral vleiend vir dames met ’n regaf, of atletiese figuur, om die illusie van daardie gewenste uurglasfiguur te skep, maar so ook op dames met kurwes. Die vasbind om die middel balanseer jou liggaam se proporsies.
9. Trapesiumrok
’n Driehoek-vorm net soos die A-lyn rokstyl, maar die Trapeze-rok se silhoeët begin uitklok van jou skouers af, en die soomlyn is baie wyer as die A-lyn roksnit.
10. ‘Tiered’ rok
Die ‘tiered’ rok word het ’n paar lae van die rok wat of oorvleuel of aanmekaar vasgestik is om die effek van verskillende lae te skep. Lieflik lospassend en gemaklik, is die styl een van die afgelope seisoen se gewildste stylkeuses. Beskikbaar in kort (een laag) of lank (gewoonlik drie lae).
Hierdie rok laat jou sommer dadelik sjiek, vroulik en elegant lyk met die minste moeite! Ontwerper Simone Rocha het beslis hierdie styl herontwerp, en danksy haar ontwerpe is die styl nou nog meer gewild.
11. ‘Prairie’-styl rok
Daar is verskeie weergawes van die prairie-styl rok wat nou steeds hoogmode is. Dit word meestal uitgeken aan hoë nekke, gesmokte afwerking, fyn blom- of paisleypatrone, midi of maksi lengtes met pofmoue daarby.
Hoe meer romanties , hoe beter met hierdie styl en boonop werk die rokstyl in die somer sowel as die koeler wintermaande.
12. Volumerok
Die afgelope seisoen is groot, oordewe en dramatiese volume in kledingstukke ’n groot tendens. Die Volumerok het hieruit onstaan – ’n rok met geen gedefinieerde struktuur nie – wat amper van die skouers af uitklok met groot dramatiese volume, nog met groot pofmoue ook daarby. Beslis nie ’n styl na almal se smaak nie, maar lyk wel na hope pret om te dra, en in-die-kol hoogmode op die oomblik.
13. Afskouerrok
’n Rok wat ontwerp is om skouers te beklemtoon. Die rok is veral ’n aanwins vir vroue wat graag hul skouers wil wys, maar nie noodwendig hul bo-arms nie. ’n Bandjielose bra hierby is beslis ’n moet vir ’n afgeronde voorkoms!
14. Trui-rok
’n Gebreide rok in verskeie style beskikbaar: noupassend, lank, kort, formeel of minder formeel. Trui-rokke is ’n groot trend hierdie winter. Ons sal dit met enkelstewels en oorgrootte boyfriend baadjies dra.
15. T-hemp-rok
Die T-hemp rok is ook groot nuus vanjaar, danksy inperking en die idee rondom gemaklike, modieuse klerestyle. Die T-hemp rok is ’n groot, lospassende rok van T-hemp materiaal.
16. Hemprok
Die hemprok lyk presies soos ’n kraaghemp, maar langer ontwerp in ’n rok styl: ’n rok met ’n kraag en knope, gewoonlik meer lospassend en ingetrek rondom die middel. Dis ’n veelsydige stapel-item, wat jy meer gemaklik kan stileer met tekkies of meer formeel vir werkafsprake met hakskoene en deftige oorbelle daarby.
17. Onderrokstyl (slip dress)
Die sliprok is gewoonlik gemaak van satyn, in ’n v-nek styl en soms met kant versier. Die afgelope paar jaar is die slip ’n gewilde rokkeuse, dra bo-oor jou T-hemp by tekkies vir ’n gemaklike voorkoms.
18. ‘Babydoll’ rok
Die ‘Babydoll’ rok is amper dieselfde as daardie outydse nagrokkies, gewoonlik mouloos (of kortmou) wat baie lospassend sit vanaf jou borslyn ondertoe en is altyd kort.
19. Pinafore rok
Die pinafore rok is ’n kraaglose en moulose rok met verstelbare bandjies wat bo-oor jou skouers pas, wat gewoonlik bo-oor ‘n bloes of hemp gedra word. Ons almal ken die pinafore styl maar te goed, en die meeste van ons het dit as klein dogtertjies gedra. Vanjaar is die pinafore styl terug in die mode, dra jou patroon-pinafore met jou dramatiese pofmoubloes daaronder vir ’n modieuse voorkoms.
20. Baadjierok
Dink hieraan as ’n getailleerde baadjie in ’n langer snit. Hoewel die oorgrootte boyfriend baadjie ook tans groot nuus is, is hierdie rokstyl effens meer noupassend en gewoonlik in dubbelbors-styl.
21. Asimmetriese rok
Die asimmetriese rok word gekenmerk deur twee verskillende lengtes, gewoonlik korter aan die een kant en langer aan die ander kant.
22. Eenskouerrok
Word ook geken as die “koue skouer rok” met een oop en een toe skouer
As jy die artikel geniet het, lees ook gerus: Ken jy jou hoede?