Somervoete; 10 skoenstyle op ons somerskoene-radar

Wonder jy ook elke somer of jou somerskoene steeds in die mode of relevant is? Hoewel ons self tydlose skoenstyle aankoop, geniet ons dit net so om nuwe skoenstyle te probeer. Hier is 10 skoenstyle is nou op ons somerskoen-radar. Deur Justine Kroes

 10 Somerskoen-style op ons mode-radar

1. Plakkies

Die nederige plakkie is terug, groter as ooit van te vore. Gewild in die 90’s toe die Havaiana visplakkie groot nuus was. Maar die plastiek/rubberplakkie se ontwerp het aanbeweeg en hierdie minimalistiese skoenstyl lyk stylvol in leer of ’n geweefde tekstuur; selfs slangvel of plakkies met hakke wat om die enkel vasbind vir ’n sjiek weergawe van die plakkie-skoenstyl.

Vir lente/somer 2025 is hierdie skoenstyl meer gepoleerd as jou doodgewone rubber visplakkie – kies gerus die styl in ’n afwerking of in ’n interessante skakering vir jou eie 2025 weergawe.

2. Klompie klompe

Dit is immers die seisoen vir maksimalistiese skoenkeuses en met ’n paar klompe sal jy defnitief uitstaan. Dankie aan die boheems-sjiek modeneiging en gewilde 70’s silhoeëtte is klompe (sandale of hakskoene) nou weer ’n mode moet-hê, en die styl is verbasend gemaklik daarby! Gewild op loopplanke by Miu Miu, Chloe en Burberry se modevertonings.

3. Plastiek of Perspex

’n Skoentrend wat ons self laat terugverlang na die jellie glinstersandale van ons jeug!

Deursigtige skoenstyle is nou groot nuus onder modebekendes, van sandale tot peep-toe hakskoene. Skoene met ’n duidelike deursigtige skoenelement is hierdie lente/somerseisoen ’n trendy kopie.

Wenk: pas aan voor jy koop om seker te maak die plastiek sit gemaklik aan jou voet – harde plastiek maak die seerste blase!

4. Gespes oral (buckle detail)

Hierdie trend was reeds al ’n duidelike ontwerpelement op handsakke en leergordels – en vir lente/somer vanjaar is ’n gespe (buckle) detail op ’n skoen veral gewild. Gespes op sandale, hakskoene (oop of toe) en selfs puntskoene, is nou oral te sien. Van fyn en klein tot bonkige en oorgroot gespes.

5. Retro/vintage tekkies

Hierdie seisoen se tekkie word beskryf as die “slender sneaker”, ’n tekkie in ’n nou-retrostyl ontwerp. En hoewel ons graag helder skakerings in die somer geniet is daar ’n duidelike beweging na meer aardse en neutrale skakerings en kombinasies van beige, sjokoladebruine, maroen, olyfgroen en rooibruin.

6. “Sneakerina”

Na die retro-styl tekkie is die “sneakerina” kombinasie tussen ’n sneaker en ’n balletskoen ook nou supergewild. Meestal te danke aan die vrystelling van die alombekende Puma Speedcat Ballet-tekkie, met ander groot handelsname wat vinnig in die ontwerpspoor gevolg het.

7. Tone uit

Alle aandag op die tone met hierdie somer skoenontwerp.  Sandale of hakskoene wat aandag gevestig op die tone (peep toe style) of die groottoon alleenlik wat uitsteek. Hierdie styl is ook gewild met blink versierings en afwerkings op die toongedeelte daarby.

Psst … onthou hierdie skoenstyle verg dat jou toonnaels en pedikuur op hul heel beste moet lyk omdat die skoen se ontwerp alle aandag op die tone vestig.

8. Bind dit vas

Dink aan sandale, hakskoene of balletstyl skoene wat vasbind om die voet of enkel. Somerskoene wat vasgebind word oor die voet en om die enkel.

Wenk: Kies somerskoene met ’n dun leertoutjie wat ’n paar keer om jou enkel gebind kan word, dra dit by jou gunsteling somersrok vir die ideale somersdag uitrusting.

9. Vierkantige voorpunt

Hierdie skoenstyl is al vir ’n rukkie lank te sien, maar tydens die internasionale 2025 lente/somer modevertonings was dit ’n duidelike gunsteling onder ’n hele klomp ontwerpers. Van tekkies tot sandale en selfs balletskoene en hakskoene – hou verby skerp voorpunt skoene –  vierkantige voorpunte is hier om te bly.

Onthou – nouer puntskoene het oor die algemeen ’n vleiende effek op die been, pas dalk eers hierdie skoenstyl aan om te sien hoe dit aan jou lyk, veral as jy kort bene het, dit mag jou dalk net nog korter laat lyk.

10. Geweefde teksture

Tekstuur is die modewoord van die seisoen. Geweefde tekstuur skoene is ’n duidelike gunsteling onder ontwerpers en mode-liefhebbers.  Van mary-jane balletskoene tot hakskoene en selfs sandale. Indien dit lyk asof jou ouma help hekel het aan jou nuwe skoenstyl, behoort jy in die kol te wees met hierdie somerskoen trend.

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Hierdie skoenstyle hoort in elke vrou se kas
error: Content is protected !!