Beurtkrag, al weer – en volgens kenners sal die daaglikse aan en af nog vir ’n ruk hier wees om te bly. Hou moed, daar is ’n paar veranderinge wat jy nou kan maak om beurtkrag vir jou huishouding meer leefbaar te maak. Hier is ook raad oor alternatiewe energiebronne as jy dalk beplan (of droom, nes ons!) om eendag in die nabye toekoms “off-grid” te lewe. Gabriel Kroes hoof van ingeneurswese van IMPOWER deel kundige raad en handige beurtkragwenke. Deur Justine Kroes
15/07/2022
Waarom al die beurtkrag nou weer?
Suid Afrika het kragstasies wat rondom 42GW se krag kan opwek (gelykstaande aan 23 Koeberg kragsentrales of 280 000 Toyota Hilux bakkies), maar ongelukkig is daar net rondom 20 – 25GW (50 – 60%) van hierdie kragstasies wat tans operasioneel is. Die beskikbare krag is ongelukkig minder as die 35GW wat ons land tans nodig het. Dus moet ons in die ry staan en om ons beurt af te wag om van die krag te kan gebruik.
In kort – beurtkrag is hier om te bly en dit gaan nie oornag verdwyn nie. Hier is wenke en raad om die lewe tydens beurtkrag te vergemaklik en daarby raad oor batterystelsels en sonkrag opsies.
Waar begin ek? Die beginpunt van enige energie strategie is om jou eie energieverbruik te meet en verstaan. Jy gaan nie weet waar om te probeer spaar as jy nie weet waar jy mors nie. Dit help ook baie om die basiese terme en eenhede te leer ken. Watt (W) – oombliklike krag. Kilowatt uur (kWh) – energie (krag oor ‘n tydperk).
Energie Doeltreffenheid (efficiency)
Om energie te bespaar is baie goedkoper en makliker as om dit op te wek of aan te koop. Dit gaan jou dalk nie deur beurtkrag kry nie, maar dit gaan jou beursie bystaan om die volgende stappe (soos sonkrag byvoorbeeld) te kan bekostig.
Doen dit so:
- Verruil jou ligte vir LED ligte, jy sal verbaas wees hoeveel krag jy bespaar.
- Kies elektriese toestelle met goeie ‘energy ratings’. Kyk uit vir hierdie etiket op enige nuwe toestelle wat jy vir jou huis aankoop. Kies die een met die beste ‘rating’ binne jou begroting.
- Stel jou geyser se temperatuur af tot 50° Celsius (selfs minder). Jy sal nie net krag spaar nie, maar ook water, want jy gaan minder koue water bysit wanneer jy stort.
- Skakel ligte, verhitting en lugversorging af in areas van jou huis wat nie gebruik word nie. Skakel ook jou geyser af as jy vir die naweek nie by die huis gaan wees nie.
- Bewegingsensors en ligsensors sal jou buiteligte afsit deur die dag en net aanskakel snags as daar beweging is. Dit verminder ook ligbesoedeling.
Beurtkragwenke;
Herlaaibare ligte
LED ligte met batterye is algemeen beskikbaar en kan enigiets van 2 – 8 ure lank skyn.
Buiteligte kan dikwels met sonkrag herlaai word terwyl die ligte binne jou huis van die huis se krag herlaai kan word. Een lig per kamer is genoeg om te keer dat jy nie jou kleintoontjie teen die koffietafel stamp nie.
UPS
Die grootste probleem van beurtkrag gedurende die dag is nie die ligte nie, maar dat die internet af is! ’n UPS (uninterrupted power supply) is ’n klein battery wat jy by jou muur inprop waarmee jy daardie noodsaaklike elektriese toestelle krag gee. Indien nodig kan jy selfs jou TV of skootrekenaar daarby inprop.
’n UPS word gemeet in Ampere uur (Ah) en begin by 500Ah vir rondom R800 tot duisende Ah en is algemeen beskikbaar by enige hardeware, rekenaar winkel of Takealot.
Gas
As jy nie reeds ’n gasstoof het nie, kan jy ’n klein gasstoof of selfs gasligte by kampwinkels soos Outdoor Warehouse (loer hier) aankoop. Goed genoeg vir daardie eerste koppie koffie soggens.
Kragopwekker
Generators raas, maak rook en met die huidige brandstofpryse werk dit baie duur uit, maar dit is steeds ’n algemeen bekombare en relatief betroubare oplossing. Dit is egter nie ’n baie “groen” oplossing nie
Alternatiewe energiebronne
Omskakelaars (inverters), batterye en sonpanele en sonkrag, wat is dit en hoe werk dit?
Inverters (omskakelaars)
Inverters is die brein van jou stelsel en die skakel tussen jou energiebron (afkomende van solar/battery/generator) en jou elektriese las. Die inverter op sy eie kan geen krag lewer nie. Sy hoof doel is om die energie van jou solar en battery (gelykstroom) om te skakel in energie wat jou huis kan gebruik (wisselstroom, DC tot AC). ’n Goeie inverter kan maksimum waarde uit jou panele of battery kry en is dus van uiterse belang.
Inverters kan “grid-tied”, “off-grid” of ’n kombinasie (hybrid) wees. Die “grid-tied” kry krag van die grid (ESKOM) en sal afskakel tydens beurtkrag. ’n Off-grid inverter maak gebruik van ’n battery tydens tye wat die son nie beskikbaar is nie en sal afskakel wanneer die battery pap is. Bekende residensiele inverters sluit in Sunsynk, Victron, SolarEdge, Huawei in. Inverters vir kleinerhuise begin vanaf R20 000, maar kan maklik opgaan tot R60 000 afhangend van jou vereistes.
Batterye
Residensiele inverters maak tipies van laagspanning (low-voltage) lithium-Ion batterye gebruik. Algemene groottes is in die orde van 3.5kWh, 5kWh, 7kWh tot 15kWh. Loer hier en hier na ’n paar baterry voorbeelde.
Hierdie batterye kan ook in parallel met mekaar geplaas word om groter stelsels te bou. Hoe meer batterye jy het of hoe groter jou battery is, hoe langer sal jou krag aanbly tydens beurtkrag. Batterye kan ook gewoonlik binne twee ure herlaai om jou gereed te kry vir die volgende beurtkragsessie. ’n 5kWh battery kos rondom R35 000 – R40 000.
Dit is belangrik om te besef dat batterye net krag kan stoor en dit nie kan opwek nie. Die krag moet dus van iewers af kom en as jy nie ‘n sonkrag stelsel in plek het nie, is jou enigste opsie om die batterye van die grid/ESKOM af te herlaai.
Sonkrag (solar)
’n Sonkragstelsel stelsel bestaan uit sonpanele wat gelykstroom (DC/direct current) opwek wat in die inverter gevoer word. Daar is baie min wat verskillende panele van mekaar onderskei. Panele lewer tussen 400W – 600W per paneel en ’n tipiese drieslaapkamer huis gaan in die orde van 5kW (10 panele) benodig.
Dit is belangrik om te weet dat sonkrag nie op sy eie kan funksioneer sonder ’n battery of die grid nie. As jy nie ’n battery bysit nie, sal jou sonkrag stelsel eenvoudig afskakel tydens beurtkrag. Indien jou stelsel ekstra krag opwek, kan dit wel aan ESKOM verkoop word, maar die tarief is baie laag en maak nie sin op residensiele vlak nie.
Rofweg bereken sal jou begroting so iets lyk;
5 kW Panele – 10 x 500W @ R3500 per paneel = R35 000
5 kW inverter – R20 000
5kWh battery – R40 000
Balans van die sisteem (kabels, mounting structures, breakers, arbeid) – R25 000
Totale begroting ongeveer – R120 000
Hou die in gedagte voor jy met ’n sonkragstelsel proses begin:
- Meet eers jou kraggebruik vir ’n paar dae, dit sal help om te bepaal hoe ’n groot stelsel jy nodig het. As jou stelsel te klein is, gaan jy steeds gereeld sonder krag sit, maar as jou stelsel te groot is, het jy ekstra geld spandeer wat nie waarde toevoeg nie.
- As jou dak in ’n slegte toestand is, sal jy eers jou dak moet herstel voordat jy panele op die dak installeer.
- As jy iewers wil spaar, spaar kostes op batterye of panele, spandeer eerder ekstra geld op die inverter.